Gesondheidswerkers met bederfbekers verras

Petro Maree, projekleier van Agape Bears, tydens die oorhandig van die bederfbekers (Foto: Verskaf)

Gesondheidswerkers by Netcare Unitas-hospitaal in Centurion is Donderdag deur Agape Bears verras met geskenkpakke wat uit koffiebekers, Bybelverse en Hug-in-a-mug Cappuccino-sakkies bestaan.

“Ons gee geskenke aan mense (in dié geval gesondheidswerkers) wat fisiek en emosioneel deur moeilike tye gaan,” sê Petro Maree, projekleier van Agape Bears.

Agape Bears is ʼn niewinsgewende organisasie wat deel van Helpende Hande se Centurion-tak vorm. Dit is in April 2018 gestig.

Tydens die Covid-19-pandemie het Agape Bears opnuut besef hoeveel gesondheidswerkers moet opoffer en hoeveel gevare hulle dikwels moet trotseer om mense te kan dien. Maree en haar span wil dus met dié gebaar ʼn verskil in gesondheidswerkers se lewe maak deur hulle spesiaal, geliefd en gewaardeerd te laat voel.

Unitas is die eerste hospitaal waar bederfbekers in so ʼn groot hoeveelheid geskenk is. Ongeveer 350 geskenkpakke is op 10 September aan die bestuur oorhandig.

Die geskenkpakke is individueel verpak (Foto: Verskaf)

Maree verduidelik dat die koffiebekers wat oorhandig is noukeurig met gepaste bewoording ontwerp is vir gesondheidswerkers wat dalk ʼn lang dag by die werk het of met moeilike pasiënte moet werk.

“In ʼn oomblik van moedeloosheid of uitputting kan die woorde ‘Thank you’ wat op die beker gedruk is, dalk nét wees wat daardie persoon nodig het.”

Gesondheidswerkers moet weet dit is vir hulle persoonlik bedoel. Agape Bears se gebed is dat die boodskap elkeen die krag sal gee om aan te hou, te midde van soveel uitdagings wat hulle elke dag moet trotseer, vertel Maree.

“Hulle werk vreeslik lang ure, meestal in baie moeilike omstandighede en neem dan nog selfs soms gesondheidsrisiko’s om hul pasiënte te versorg.”

Die bekers kom in ses kleure en is aan die onderkant genommer sodat elkeen maklik sy of haar beker kan uitken.

Agape Bears het vroeër vanjaar ʼn beertjie-en-kombers-projek aangepak wat ook danksy skenkings moontlik gemaak is. Die projek het gefokus op gemolesteerde kinders, asook kinders wat ʼn persoonlike trauma of krisis beleef het.

Geskenkpakke is opgemaak uit teddiebere of sagte speelgoed (30–50 cm), spesiaal ontwerpte trooskussings of komberse, inkleurboek (vir kinders onder 13 jaar) of notaboek vir ouer mense, vetkryt (indien die inkleurboek gegee word), nuwe Bybel (waar moontlik) en ʼn lekkergoedpak. Die samestelling van so ʼn geskenkpak word deur die kind se ouderdom bepaal.

Agape Bears maak ten volle staat op die bydraes van vrywilligers. Geld wat geïn word, word weer net so terug in hul projekte geploeg. Geen administratiewe koste of salarisse word sedert die ontstaan van Agape Bears betaal nie.

Maree doen ʼn beroep op lede van die publiek om steeds ʼn bydrae te maak vir hul onderskeie projekte. Stuur gerus ʼn e-pos na [email protected] of besoek Agape se Facebook-blad vir meer inligting.

Petro Maree oorhandig die bederfbekers aan Majale Sithole, Tersia Adams en Liza van der Merwe van Netcare Unitas-hospitaal (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.