Gesprek vier vrouwees, taaldiversiteit

Dr. Annelise de Vries en Jacqui January. (Foto: Marekyn Kruger-Evert/Afrikaanse Taalraad)

Is die hedendaagse Afrikaanse vrou bewus genoeg van die voordele van moedertaalonderrig en meertaligheid? Wat is die verband tussen ons kinders se selfvertroue en hulle taal en kultuurerfenis? Hoe gebruik jy as vrou jou invloed in die familie en gemeenskap om die regte besluite oor taal te neem?

Dít is van die vrae wat op 3 Augustus bespreek is tydens ʼn rondetafelgesprek wat deur die Afrikaanse Taalraad, Die Dameskring, Atterbury Trust en ATKV by die Atterbury-teater in Pretoria aangebied is.

“Vroue het ʼn enorme invloed op hulle eie kinders en die kinders van ander in die omvattende gemeenskap. Elke vrou het ook ʼn unieke stem en bydrae om te maak,” sê Merlyn van der Rheede, die Afrikaanse Taalraad se noordelike projekbestuurder.

Volgens haar herinner die geleentheid ons aan die vele bydraes van vroue tot die land. “Met dié gesprek wil ons erkenning gee aan die kleurryke en diverse wortels van Afrikaans en sy sprekers.”

Ma’s, onderwysers, leerders en ander vroue uit die gemeenskap het die oggend byeengekom om saam te luister, te gesels en ervarings uit hulle eie lewe te deel.

Amanda Strydom op die verhoog by die Afrikaanse Taalraad se rondetafelgesprek vir Vroouedag. (Foto: Marekyn Kruger-Evert/Afrikaanse Taalraad)

Amanda Strydom het die program afgeskop met haar weergawe, “Taal van my hart”, en daarna het sy ook “Slippers van Satyn” en ʼn blues-lied oor brille, pille en die ervaring van oudword gesing.

Jacqui January, bekende RSG-omroeper en lid van Die Dameskring, het die gesprek met die tema, “Afrikaans as moedertaal vandag – wat is die impak?”, gelei en die gassprekers was dr. Annelise de Vries (Akademia), Sonel Brits (ATKV) en prof. Anne-Marie Beukes (SAWK).

De Vries het oor die voordele van moedertaalonderrig gepraat en onder meer op die intellektuele aspekte daarvan gefokus.

“Navorsing bewys dat leerders wat in hulle moedertaal onderrig word, beter presteer, en leerders wat gedwing word om buite hulle taalgemeenskap onderrig te word, groot uitdagings met persoonlikheidsontwikkeling ervaar.

“Moedertaalonderrig gaan hand aan hand met veeltaligheid. Ek dink dit is belangrik dat ons onthou daar is eenheid in verskeidenheid. Sodra jy meer begrip van ander tale het, is dit makliker om verdraagsaam teenoor ander taalgemeenskappe te wees,” het sy gesê.

Brits het in haar praatjie gefokus op die belangrikheid daarvan om met begrip te lees en die waarde van kuns in die uitbou van Afrikaans.

“Om met begrip te lees is een van die hoekstene vir enige kind se ontwikkeling op akademiese vlak,” het sy gesê.

Beukes het op die diversiteit van die Suid-Afrikaanse taallandskap gefokus.

“Daar is ʼn ryk taalerfenis wat ons as Suid-Afrikaners en Afrikaanssprekers kan geniet. Wanneer diversiteit ter sprake kom, is daar twee vlakke wat ter sprake is: Diversiteit binne ʼn taal, wat onder meer die variëteite van Afrikaans insluit, en diversiteit buite die taal, waar ʼn land se amptelike tale inkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.