Gestremde swemmer deel storie van hoop

Adri Visser. (Foto: Verskaf)

Paralimpiese swemmer. Geliefde radio-omroeper. Meestersgraadstudent. Motiveringspreker.

Dít is die positiewe woorde waarmee die 35-jarige Adri Visser haarself in ʼn neutedop opsom – al sou dié borrelende donkerkop eerder aan derduisende ander redes kon dink om ʼn negatiewe uitkyk op die lewe te hê.

Adri se lewe het al in die moederskoot onherroeplik verander toe haar ma, Petro Marais, Duitse masels tydens haar swangerskap opgedoen het.

Dit is uiters gevaarlik vir swanger vroue om dié siekte te kry en Adri is gevolglik sonder twee arms en een been gebore – ʼn skok wat Petro aanvanklik eers moes verwerk.

“My ouers het eers met my geboorte uitgevind daar is fout met my. Ek glo dit was die Here se manier om my van die begin af te beskerm, want die dokters sou heel moontlik voorgestel het dat my ouers my eerder laat aborteer.

“God het my beskerm sodat ek nog steeds ʼn lewe kan hê en ondanks my gestremdheid hier kan wees,” sê Adri aan Maroela Media.

Adri leef voluit. (Foto: Verskaf)

Adri sê haar ouma het van dag een af lewe oor haar gespreek. “Sy het altyd gesê hierdie kind gaan nog baie vreugde bring. Dit het van dag een af die gedagte by my tuisgebring dat elke mens op aarde ʼn doel het, dit is die kern van die lewe.”

Sy het reeds as dogtertjie ʼn liefde vir swem gekweek en selfs toe dinge geldelik moeilik was tydens haar grootwordjare, het ma Petro altyd voet by stuk gehou: Adri sal swem.

Sy het in 2008 in Beijing, China, aan die Paralimpiese Spele deelgeneem. Sy het wel vir die 2012-Spele in Londen, Engeland, asook die 2016-Spele in Rio de Janeiro, Brasilië, gekwalifiseer, maar is nie vir die Suid-Afrikaanse swemspan gekies nie.

Adri is ook in 2014 benoem as vrou van die jaar vir gestremdes by die Suid-Afrikaanse Sport-toekennings. In 2016 het sy uitgetree met ses Afrika-rekords agter haar naam.

Sy skryf haar sukses toe aan haar ma se onwrikbare ondersteuning. “Vir haar as ma om my droom te laat gebeur, is die anker van alles. Sy het vir my en my twee ouer sussies elkeen geleenthede gegee, al het sy self baie keer aan die korter ent getrek.”

Adri vertel haar pa was ʼn alkoholis wat gereeld gewelddadig was teenoor sy gesin. Tog het haar ma deur alles sterk gebly, en haar sonder uitsondering dieselfde grootgemaak as haar twee susters.

“Sy is my rolmodel. Dit is nie maklik om oor my kinderlewe te praat nie, maar die omstandighede het my en my ma en susters soveel nader aan mekaar gebring. Ons waardeer mekaar en het mekaar lief.”

Adri tussen haar twee susters, Ilza en Jolanie. (Foto: Verskaf)

Sy praat met groot lof van haar susters, Jolanie Mauer (40) en Ilza Visser (38), wat reeds van kleintyd af gesorg het dat Adri soos een van hulle voel.

“My sussies het my nog altyd beskerm en ek het nooit uit gevoel saam met hulle nie. Hulle het nooit skaam gekry vir my nie.”

Sy onthou hoe Jolanie haar as dogtertjie uit ʼn swembad gered het toe sy amper verdrink het, en hoe sy haar geleer het om regop te loop sonder om aan die mure vas te hou.

“Jolanie het my by ʼn vakansieoord geleer hoe om om te draai in die water as ek moeg raak en hoe om te dryf. Basies net hoe om te oorleef in die swembad. Later van tyd het ek weer vir haar die dieper dinge van die swembad geleer.

“Ek het in my swemloopbaan altesaam tien agtereenvolgende Midmar Myl-marathonne geswem. Jolanie sou op ʼn keer saam met my swem, maar het op die nippertjie kop uitgetrek,” lag Adri.

Adri en die sanger Ruan Josh. Sy ontmoet gereeld bekendes as omroeper vir Vaal Stereo. (Foto: Verskaf)

Sy het haar swempet lankal opgehang en vind deesdae haar heil agter die mikrofoon van internetradio Vaal Stereo, waarvan sy ook die direkteur van sosiale media is.

“Ek ontmoet baie Suid-Afrikaanse kunstenaars en geniet dit ongelooflik baie. Ek leer ken hulle en hulle leer ken my. Soveel as wat hulle hul storie deel, deel ek myne, en ek leer by hulle. Ek is ʼn sosiale vlinder en het ʼn absolute passie vir musiek en om die betekenis agter ʼn liedjie te ontdek en verstaan.”

Sy is egter op soek na ʼn werk in die rigting wat sy studeer het, maar weens haar gestremdheid sien werkgewers nie kans om haar aan te stel nie.

“Die CV is gereed en al die regte boksies word afgetik, maar dan word daar teen my gestremdheid vasgekyk.”

Haar studentereis het in 2009 begin met ʼn diploma in sportkunde, waarna sy ʼn BA-graad in menslike bewegingskunde in sielkunde, ʼn honneursgraad en uiteindelik ʼn meestersgraad in rekreasie aan die Noordwes Universiteit (NWU) verwerf het.

Haar meestersgraad het juis gefokus op die hindernisse wat mense met spesifiek beenamputasies trotseer en wat die verhouding tussen oefening en verhoging van lewensgehalte vir gestremdes is.

Adri het ‘n meestersgraad in rekreasie verwerf. (Foto: Verskaf)

“Gestremdes kan dieselfde lewensgehalte hê as normale mense, mits hulle die geleentheid gegun word,” benadruk Adri.

Sy sê trots sy kan haar eie grimering aanwend en oorbelle in haar ore sit, en bly die afgelope paar jaar op haar eie in Pretoria saam met haar hond, Chloe. Om haar leerling- en bestuurslisensie te kry is ook hoog op haar emmerskoplysie.

“Mense vra my dikwels of ek eerder sou kies om normaal te wees. Die antwoord is nee. My omstandighede en my kinderjare het my sterker gemaak. Ek laat nie toe dat dit my definieer nie.”

  • Vir meer inligting oor Adri Visser, of om haar te kontak, besoek haar webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.