Gestremdes lê duisende kilometers af vir bewusmaking oor prostese

Mike Minnie en Paul Steyn. (Foto: Verskaf)

Mike Minnie en Paul Steyn. (Foto: Verskaf)

Paul Steyn, ʼn gestremde man van Gordonsbaai in die Wes-Kaap, is so op die hart gedruk deur ander gestremdes se nood vir prosteses, dat hy besluit het om ʼn organisasie te stig om dié behoeftige mense te help.

Die Paul Steyn-stigting fokus spesifiek daarop om mense in Suid-Afrika te help wat nie finansieel in staat is om ʼn prostese te bekom nie.

Steyn, wat op 13-jarige ouderdom sy regterbeen onder die knie verloor het, het nou ook ʼn staptog van Pretoria na Kaapstad onderneem om bewusmaking te skep vir mense wat ʼn prostese benodig. Sy vriend, Mike Minnie, stap ook saam.

Minnie se been is in 2013 geamputeer nadat hy in 2003 in ʼn motofietsongeluk betrokke was.“Ek het in 2013 infeksies in my been gekry wat net nie wou opklaar nie. Ek en die dokter het saam besluit om, om toekomstige infeksies wat na die res van my liggaam versprei te voorkom, die been te amputeer.”

Steyn en Minnie het ontmoet toe Minnie een van die stigting se geleenthede bygewoon het. “Ek het my werk verloor as gevolg van die amputasie, want ek was ʼn veiligheidsrisiko vir die maatskappy waarvoor ek werksaam was. Ek het toe tydens die geleentheid vir Paul gesê as hy ooit iemand nodig het om hom te help met enigiets, kan hy my kontak.”

Nadat Minnie met sy vrou en kinders gesels het, het hy besluit om die staptog saam met Steyn aan te durf. “Ons het op 26 Junie uit Pretoria vertrek en beplan om teen 24 November in die Kaap te wees. Ons kon nie ʼn borg vir ʼn ondersteuningsvoertuig kry nie, so ons gebruik myne. Iemand anders bestuur nou die voertuig terwyl ek en Paul stap. Hulle gaan in die Kaap agterbly sodra ons daar aankom en ek gaan my voertuig terug bestuur huis toe in Pretoria.”

Steyn vertel van die stewige roete wat hulle uitgelê het. “Ons is van Pretoria met die agterpaaie Nelspruit toe. Van daar is ons deur Baberton en is tans in Pongola. Van hier stap ons na Richardsbaai al met die kuslyn langs tot ons in Kaapstad kom.”

Volgens Steyn reël hulle vooraf akkommodasie. “Op elke dorp waar ons kom, ontvang die mense ons met ope arms. As ons langs die pad stap, stop mense by ons om selfies te neem. Daar is eintlik baie positiwiteit in Suid-Afrika,” vertel hy.

Hy vertel mense wat belang stel, kan saam met hulle die dorpe instap. “Ons program is op die webwerf en op Facebook, so mense wat saam met ons wil stap is meer as welkom. Mense kan ook gedeeltes van die staptog per kilometer borg.”

Steyn vertel hy het op laerskool die onderste deel van sy regterbeen verloor toe sy voet onder ʼn bossiekapper beland het. “Ek het vir drie jaar op krukke geloop en toe besluit ek om sommer my eie prostese te maak met ronde yster en ʼn plat staaf. Net om mobiel te wees. Daarna het ek aangegaan om ingenieurswese te studeer en ek het ʼn prostese gekry.”

Mike Minnie en Paul Steyn. (Foto: Verskaf)

Mike Minnie en Paul Steyn. (Foto: Verskaf)

Die stigting het sedert sy ontstaan in 2011 reeds 20 pasiënte gehelp om ʼn prostese te bekom. “Ek het al meer as 12 000 km afgelê om bewusmaking [oor dié saak] te skep. Ek is baie trots op my span en wat ons alles vermag. My span maak ʼn reuseverskil.”

Minnie sê die moeilikste deel van langpad is nie die stap nie. “Die moeilikste deel is om nie my familie te sien nie. Ek en my vrou het voor die staptog ʼn lang gesprek gehad en ons albei het saamgestem dat dit iets is wat my kan besig hou terwyl ek ander mense help. My familie besef die belangrikheid van waarmee ek besig is.”

En wat doen hulle as die pad lank en vervelig raak? “Ons praat maar enige nonsens wat voorkom,” lag Minnie.

Behoeftiges wat wil aansoek doen vir ʼn prostese kan die webwerf besoek. “Daar is baie streng kriteria waarna ons kyk. Ons kyk na mense wat geen inkomste of derdeparty- of siviele eise of selfs ʼn mediese fonds het nie. Dis vir ons belangrik om die ouens te help wat regtig nie hulself kan help nie.”

Minnie het homself ook beskikbaar gemaak vir mense met geamputeerde ledemate wat iemand nodig het om mee te gesels. “Partykeer sukkel ʼn mens met die aanpassing nadat jy ʼn ledemaat verloor het en jy weet nie altyd hoe om dit te hanteer nie. As jy wil gesels, kan jy my kontak.”

Minnie se selfoonnommer is 071 896 8472. Besoek die stigting se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Goeie werk manne! Wens ek het n hart so groot soos julle gehad..

Ella ·

Daar is soveel goeie mense in ons land.
Kyk net wat doen hierdie twee manne ten spyte van hul eie probleme.
Ek haal my hoed af vir julle.
Wonderlike werk wat julle doen vir mense wat dit regtig nodig het.
Waar is julle hoede? Die son gaan julle verbrand.

Sonja ·

Ek haal my hoed vir julle af. Met my kunsbeen (bo knieg amputasie) is ek nie eers lus om een tree onnodig te gee nie. Ek loop so moeilik dat my gesonde been seer raak en knieg seer word as ek ver loop. Ek vermy gras oppervlaktes en oneweredige gedeelte so ver moontlik en daar loop julle sommer so langs die pad. Julle verdien medaljes. Ek weet regtig nie hoe julle dit doen nie. Hang seker af hoe n mens se socket sit, myne nog nooit lekker gesit nie en my nuutste been sit vreeslik ongemaklik, is swaar en maak seer veral as ek bestuur en langer as n uur in n kar moet sit. Julle is tops!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.