Gestremdheid kry dié jong atleet nie onder

Joelene Haasbroek met drie van haar goue medaljes. (Foto; Verskaf)

Joelene Haasbroek met drie van haar goue medaljes. (Foto; Verskaf)

Joelene Haasbroek, ʼn fisiek gestremde gr. 10-leerder aan Hoërskool Eldoraigne in Centurion, het haar skool se naam hoog gehou toe sy onlangs by die Suid-Afrikaanse sportvereniging vir atlete met ʼn fisieke gestremdheid (SASAPD) se Standard Bank Nasionale Atletiekkampioenskap in Bloemfontein goue medaljes in al vier haar items verower het.

Joelene (16) neem deel aan die 100 m-wedloop, verspring, gewigstoot en spiesgooi en is ook deur die Gautengse departement van sport, kultuur en rekreasie gekies om tydens die Julie-skoolvakansie aan die Tricolor-spele in Italië deel te neem.

Joelene was ʼn doodgewone 11-jarige toe sy saam met ʼn vriendin en dié se gesin in ʼn grusame motorongeluk tussen Pretoria en Sun City betrokke was. Een van die insittendes in die voertuig is in die ongeluk dood. Joelene is ernstig beseer en die senuwees in haar regterbeen is erg beskadig.

Volgens Joelene het dokters gepoog om die senuwees weer te heg, maar het haar gewaarsku dat die operasie moontlik onsuksesvol kon wees, aangesien die senuwees skeef kon teruggroei – of selfs glad nie.

“Die senuwees het toe nooit teruggegroei nie,” het Joelene aan Maroela Media verduidelik. “Ek kan my been voel, maar het geen gevoel in my voet nie. My voet is hipersensitief en kan glad nie beweeg nie.”

Sy vertel sy het op laerskool reeds in atletiek uitgeblink, maar het ná die ongeluk besluit om haar eerder op drama toe te spits. “Ek het gedink ek sal nooit weer kan hardloop nie en dat my lewe as atleet nou verby is. Ek het egter gesien daar is baie mense met erger beserings wat ten spyte van daardie beserings steeds deelneem aan atletiek en selfs uitblink. Ek het besef, al is ek beseer het ek nog my spoed wat in my guns tel.”

Joelene. (Foto: Verskaf)

Daar en dan het sy besluit om weer deel te neem en het saam met haar ma, Magda, navorsing begin doen oor hoe sy haarself weer op die atletiekbaan kon uitleef. “Daar was toe ʼn man wat aan ons verduidelik het hoe om die gestremdheidsklassifikasie te doen en ons daarmee gehelp het. Ek is toe onder die T44-kategorie geklassifiseer vir deelnemers wat ʼn besering aan hul onderste ledemate het.”

Sy vertel sy was egter senuweeagtig om weer die atletiekbaan te betree. “Ek het vir vier jaar nie geoefen nie en het gedink ek sal baie vinnig fiks moet raak. Ek het aan drie uitdunrondes deelgeneem en het toe gekwalifiseer vir die SA’s. Ek het toe by die SA’s-byeenkoms ook gewen en in die onder-20-ouderdomsgroep deelgeneem.”

Joelene sê sy sien uit daarna om in Italië deel te neem, aangesien sy nog net een keer as peuter saam met haar ouers oorsee, na Australië, gereis het. “Dit is ook die eerste groot mylpaal wat ek behaal in my atletiekloopbaan en ek het nooit gedink dit sal só uitdraai dat ek dit sal behaal met ʼn ernstige besering nie.”

“As so iets met jou gebeur, is dit baie maklik om jouself te bejammer, maar jy moenie,” sê Joelene beslis. “Dit wat met my gebeur het, kon baie erger gewees het. Ek moet probeer om iets van my lewe te maak. Ek het net een kans en ek moet dit benut.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

wilma ·

Baie, baie geluk Joelene. Met so ‘n positiewe houding sal jy baie ver kom!

Annelien ·

Wow!! Baie geluk Joelene! Jy’s ‘n voorbeeld vir baie!

izette ·

Stunning, sterkte……geniet elke dag ten volle…
Jy is n ster

AMANDA ·

‘n Regte klein superster. En wat n wonderlike voorbeeld vir almal.

Theresa B ·

Baie geluk Jolene. Ons hou jou dop – jy gaan dit nog vêr bring. Baie trots op jou hoor en jy is ‘n pragtige voorbeeld vir ander.

arel trydom ·

Baie geluk en baie aterkte. Goeie voorbeeld vir almal van ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.