Gewese bendelede nou rolmodelle op Kaapse Vlakte

Jacques Pratt van die Hope Hela Foundation by Solomon Staggie (voor) en Bradwin Daniels (agter). (Foto: Verskaf)

As Bradwin Daniels (40) en Solomon Staggie (61) motiveringspraatjies op die Kaapse Vlakte gee en sop uitdeel, lyk hierdie toegewyde Christengelowige gemeenskapswerkers hondmak. Niemand sal kan raai dat hulle weens verskeie moorde en bendegeweld dekades lank agter tralies was nie. Maar met geloof en naasteliefde kán jy ʼn U-draai maak en jou lewe omkeer, glo hulle.

Daniels is destyds tot 21 jaar gevangenisstraf gevonnis wat na 16 jaar verminder is, maar hy is na nege jaar op parool vrygelaat. Staggie – ʼn lid van die berugte Staggie-familie wat lede van die Hard Livings-bende was – is tot 25 jaar (lewenslank) gevonnis waarvan hy meer as 18 jaar lank uitgedien het. Hy het egter reeds in 1998, terwyl hy nog verhoorafwagtend was, besluit om sy lewe te verander toe hy hom van ʼn Moslem tot die Christendom bekeer het. Hy is ses jaar gelede vrygelaat.

“Dit was baie moeilik, want ek het alles verloor. Ek dank die Here dat Hy my ʼn vrou gegee het wat my ondersteun.”

Deesdae doen Staggie soveel naastediens op die Vlakte dat sy voete skaars grond raak.

“In die tronk het ek van alles afstand gedoen – nommers en bendes. Ek het net die Here in my hart gehad. Soos die geval met Bradwin was, het ek na ander gevangenes uitgereik. Ek het my matriek voltooi, die teologie bestudeer en Bybelskole in die tronk bestuur. Shofar het my hiermee bygestaan.”

Daniels vertel dat hy reeds gedurende sy tienerjare met die gereg gebots het. In die tronk het hy geestelike leierskap begin beoefen, hom oor sy medegevangenes begin ontferm en hul probleme onder beamptes se aandag gebring.

“Ek en Solomon werk saam in die Porterville mansgevangenis waar ons uitreike doen. Ons verrig ook gemeenskapsdiens onder kinders tussen 5 en 14 jaar oud. Dis die ouderdom waarop hulle vir bendes gewerf word. Die versoeking is groot omdat talle toekomsloos is en nie kan studeer nie.”

Hieroor sê Staggie: “Die kinders het geen fondament nie. Daarom raak hulle maklik by bendes betrokke. As hulle egter vooraf behoorlik ingelig is, sal hulle nie in daardie lokval beland nie. Baie se ouers is ook dwelmslawe. Die kinders moet bewus word van die verlore skakel en die pad na vernietiging.”

Hy benadruk dit ook dat werkloosheid ʼn groot euwel op die Vlakte is, maar glo ook dat as jy nie werk het nie, jy werk moet skep.

“Word ʼn entrepreneur. Dis wat ons die kinders wil leer.”

Daniels praat gereeld met hoërskoolkinders oor geslagsgeweld.

“Ek vertel ook my lewensverhaal aan hulle en hoe ek in die tronk beland het.”

Hy behartig ook ʼn naskoolse program waar hy leerders met huiswerk help wat met die Covid-19-pandemie agterweë gebly het en doen boonop sokkerafrigting vir die seuns terwyl hy reël dat die dogters spirituele dansklasse kry. Hy is voorts by kerkprogramme betrokke waar familiewaardes oorgedra word en gee praatjies by die YMCA waar hy skoolgroepe teen dwelms en bendes waarsku en die lewe in die tronk vir hulle skets.

“Ons bied ook talentopvoerings aan wat tot trots, selfvertroue en geleenthede onder die kinders lei. Dan neem ons die kinders op uitstappies soos bergklim en maak strate skoon.”

Oor die tronkbedieningsprogram, “The world needs a father”, waarby hy en Staggie betrokke is, sê hy die meeste gevangenes het vaderloos of sonder ʼn positiewe vaderlike rolmodel grootgeword. Dus het hulle hul eie (negatiewe) besluite geneem.

“Baie gevangenes is as kinders mishandel en hulle moet leer om te vergewe en om dit te hanteer. Party se familie is oorlede of toon geen belangstelling in hulle nie.

“Die gevangenes moet ook vir vrylating/parool en die lewe daarbuite voorberei word. Ons samel ook ou klere in om aan die gevangenes te skenk.”

Hy was ses jaar oud toe sy eie pa tronk toe is. Sy oom het “gesmokkel” en was ʼn lid van die 28-nommerbende in die tronk. So word die misdaadspiraal van geslag tot geslag oorgedra.

“Dis hoe ek grootgeword het.”

“My pa was jare lank uit my lewe uit. Dit het baie haat in my hart veroorsaak,” sê Daniels.

Op 13 was hy ʼn straatkind wat om oorlewing moes veg en homself moes verdedig.

“Soms het ek met ʼn asdrom se deksel en ʼn panga of enige skerp voorwerp terugbaklei en ongelukkig het mense gesterf. Ek het eenkeer per ongeluk ʼn vriend in die hart gesteek wat toe dood is.

“Ek moes my dwelmverslawing onderhou en het treinrooftogte begin pleeg. Ek het veral juwele gesteel.”

Staggie se pa wat twee of vermoedelik selfs meer vroue gehad het, was een van elf sibbe waarvan slegs hy en sy broer Achmat steeds leef.

“Ek was rigtingloos toe ek ʼn bendelid geword het.”

Van die voedingsprogram, “The voice of the voiceless”, waarby hulle albei betrokke is, vertel hulle die gedagte is om kinders na skool met skoolwerk te help, maar ook om vir hulle kos te gee.

Daniels doen maar oral los werkies om die pot vir sy eie gesin aan die kook te hou en om in die gevangenisprojek te ploeg. Soms help hy by vrywillige organisasies wat groente versprei en dan skenk hulle van die groente aan hom wat hy dan weer vir sopkombuise vir die gemeenskap gebruik.

“Ek glo dat as jy gee, jy weer sal ontvang. Ek wil graag ʼn verskil maak, maar ek wil ook hê dit moet na die jeug oorspoel sodat hulle ook eendag ʼn verskil kan maak.”

Staggie se hande staan ook vir niks verkeerd nie. Hy bak selfs brood vir die honger kinders.

Staggie het die eerste twee jaar na sy vrylating geen inkomste gehad nie, maar word nou deur die kerk onderhou. Sy groep ontvang skenkings vir kos en petrol.

Hulle verrig hul naastediens met groot dankbaarheid.

Daniels sê: “Ek glo almal verdien ʼn tweede kans in die lewe. Ons maak almal foute. Ek het besluit om hierdie tweede kans met albei hande aan te gryp.”

Vaderskap en positiewe vaderskaprolmodelle is vir beide van uiterste belang.

Staggie sê: “Al het ʼn mens nie ʼn aardse pa nie, het elkeen van ons ʼn Almagtige Vader in die hemel. Dis ons doelwit om die kinders en die gevangenes nader aan die liefde van God te bring.”

“Ek wil net sê daar is hoop. En daardie hoop is in Jesus Christus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Belinda

Wel gedaan menere! Daar is altyd hoop. God bless!

Mary Charlotte

Met ons Vader in julle hoek, sal julle dié “geveg” wen, doen so voort ????

KhoiKhoi

Wonderlik!
Mag die Hemelse Vader jul seen in jul roeping en groot sukses gee