Gewyde koorstemme lui Gelofteweek in

Die son verlig die Heldesaal na die kort reënbui (Foto verskaf)

Bekorende koorstemme wat weerklink deur die Voortrekkermonument het die Gelofteweek-vieringe op ‘n hoë noot ingelui.

Terwyl gewyde liedere in die monument eggo, is daar ‘n reënboog wat soos ‘n dekmantel die monument omarm.

Canendo Project Choir en die Koperblaaskwintet het die feesgangers na hulle asem laat snak en ná ’n pragtige vertoning Vrydagaand is die gehoor ook genooi om saam te sing aan ons gunstelingkersliedere.

Meer as 400 mense het die FAK se Kerssang by Kerslig-vertoning bygewoon wat in die Heldesaal van die Voortrekkermonument gehou is. Vir die volgende week word die Gelofte by die monument bevestig en herdenk.

’n Reenboog omvou die Monument (Foto verskaf)

“Ons vier vanjaar 185 jaar van die Groot Trek en met dankbaarheid onthou ons die opoffering van ons voorouers soveel jare gelede,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument. “Die reënboog dien as bevestiging van God se trou. In die monument was ‘n pragtige Kerssangdiens waar ons sing oor ’n ‘Somerkersfees’. Ons luister hoe styg ‘Stille Nag’ deur die ruimte van die monument op as ’n gebed en ’n belydenis.”

Die monument en Monumentkoppie is verlig met duisende Kersliggies wat ook die feestyd verwelkom. In samewerking met die “Worth-it Foundation” is die heel eerste Kersliggieloop om die monument aangebied. Dié liefdadigheidsorganisasie werk nou saam met die Afrikaanse Toekomstrust (ATTSA) om die toekoms van jong Afrikaanse kinders te verbeter.

Onder leiding van Maretha Bruwer, direkteur van die Worth-it Foundation, is die pretloop om Monumentkoppie aangepak en die wonder van Kersfees ook aan die jeug oorgedra. “Ons hart is Afrikaans. Ons droom is om op so groot platform ’n verskil te maak, dat ons mense kan weet daar is hoop vir die toekoms,” sê Bruwer.

Die ambulans het die Kersliggieloop al om Monumentkoppie gelei en die pad aangewys (Foto verskaf)

Anais van Huyssteen (9) het die konsert saam met haar ouers bygewoon en sê sy kan nie wag om weer ’n konsert by te woon nie. “Die musiek was mooi en die liggies was baie mooi.”

Drikus Roets, ’n uitstaller by die fees wat kuns verkoop, sê dat die kinders vir hom die absolute hoogtepunt van die aand was. “Daar het ’n laaitie op sy fietsie dood gestop voor my stalletjie en net gesê ‘Wow’.”

Roets verkoop sketse onder die naam Drikuns.

Die Dameskring bied ook weer vanjaar hul Kersmark, die Koöp aan, en bied iets vir die hele gesin. Van speelgoed vir die kleinspan, tot die mooiste handgemaakte geskenke vir daardie een wat na aan jou hart lê.

Die fees bou op tot die hoogtepunt van Geloftedag op 16 Desember wat vandag nog deur Afrikaners herdenk word. Verlede jaar het 20 000 mense by die Voortrekkermonument die Gelofte kom bevestig en herdenk. Vanjaar mik die Voortrekkermonument dat 185 000 Afrikaners saam moet staan en sê: “Ek is een van 185 000”.

“Hierdie jaar gaan ons ‘n rekordgetal van 185 000 Afrikaners kry om die Gelofte weer te bevestig en te herdenk,” voeg Langner by. “Dié name sal by die Voortrekkermonument in ’n tydkapsule gehou word en tydens die 200-jaar-viering van die Gelofte, in 2038, bekend gemaak word.”

Voeg jou naam op die lys: https://vtm.org.za/ek-is-een-van-185000/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.