Gilde, gemeenskap span saam om top-onderwysers te vind

(Foto: Jeshoots.com/Pexels)

Die wêreld bring jaarliks in Oktober hulde aan die belangrike taak wat onderwysers verrig.

Anlia Archer van Solidariteit se Onderwysgilde sê dit is ook waarom dié gilde vanjaar ʼn kompetisie vir die hoërskool- en laerskoolonderwyser van die jaar van stapel gestuur het. Die onderwysgilde wou erkenning gee vir die harde werk wat onderwysers doen en die verskil wat hulle in hul gemeenskappe maak.

“Die kompetisie het behoorlik uit sy nate gebars. Ons het nie in ons wildste drome gedink ons sou meer as 2 000 nominasies vir ons kompetisie uit die gemeenskap kry nie,” verduidelik Archer.

“Sowat 700 van die onderwysers het hul nominasie aanvaar en hul biografieë aan die gilde gestuur sodat ons kon besluit wie na die volgende ronde van die kompetisie kon deurdring. Dit was ʼn aardige klompie data om te verwerk.”

Archer meen dit benadruk egter net hoe groot die bydraes is wat onderwysers maak al word dit soms jare later eers erken.

Sy sê die gilde was besonder trots op die top-40 kandidate wat uiteindelik in die proses vir die kompetisie gekeur is.

Lede van die publiek kon tot 1 Oktober vir die kandidate in dié ronde stem, en stem het hulle behoorlik gestem.

“Ons het ʼn allemintige 10 000 stemme in hierdie ronde ontvang. Op grond hiervan het ons uiteindelik die top-10 hoërskool- en laerskoolonderwysers gekies.”

Archer verduidelik dat die onderwysers nou in kennis gestel word of hulle wel lede van die publiek se gunsteling was. Die gilde wil dan waar dit moontlik is by hierdie onderwysers se skole besoek aflê en elke onderwyser help om ʼn kort bekendstellingsvideo oor hom- of haarself te maak.

Elke onderwyser was opreg dankbaar en opgewonde oor die nominasie, veral ná ʼn moeilike jaar met die pandemie wat die normale skoolroetine omvergegooi het.

Die gilde wou met die kompetisie positiewe energie in die onderwyssektor skep en sy glo Solidariteit se onderwysgilde het in die doel geslaag.

“ʼn Paneel van kundiges gaan ons nou help om die wenners van die Onderwyser van die Jaar-kompetisie te help kies, want daar is groot pryse op die spel. Elke onderwyser wen ʼn kontantprys van R10 000 en ʼn verdere R5 000 sal geskenk word aan die skool se liefdadigheidsprojek.

“Die wenonderwysers gaan ook ʼn mooimaaksessie vir hul klaskamer wen. ʼn Grafiese ontwerper gaan hulle help om hul klaskamer pasklaar met die relevante temas te maak en plakkate sal ook vir die doeleindes geskenk word.

“Almal wil in ʼn mooi werksomgewing werk en dit is wat ons gilde ook aan die onderwysers van die jaar wil bied.”

Die onderwyser van die jaar vir hoërskole en laerskole word amptelik op 5 November bekendgemaak.

  • Volg Solidariteit op Facebook, Twitter en Instagram vir al die jongste nuus oor die kompetisie.
  • Klik hier vir meer besonderhede oor die Onderwysgilde en hoe om daarby aan te sluit.
  • Anlia Archer van Solidariteit se Onderwysgilde het in Maroela Media se ateljee kom kuier om meer te vertel van die gilde se Onderwyser van die Jaar-kompetisie. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.