Gildes help jong mense met vakansiewerk

(Foto: Dylan Gillis/Unsplash)

Solidariteit se gildes en die afdeling jeug- en loopbaanontwikkeling het vandeesweek ʼn loopbaanweek by Akademia se Centurion- kampus gehou waartydens onderhoude met bykans 30 studente gevoer is wat aan hulle ʼn kans bied vir ʼn vakansiewerk in Julie.

Akademia bied ʼn volledige loopbaanontwikkelingsprogram aan vir van sy eerstejaars waarvan vakansiewerk deel uitmaak.

Solidariteit Jeug se hoofdoel is om vir studente vakansiewerk en skaduwerk te verkry, en Solidariteit Gildes is getaak om die beroepswêreld vir die jeug oop te breek en hulle by die groter netwerk van werk in te sluit.

“Vir eerstejaars is daar reeds groot aanpassings by hul studies en die nuwe kampuslewe, en om daarby nog vakansiewerk te soek en te kry is net nog meer van ʼn uitdaging. Daarom help ons graag hierdie jong mense om al van vroeg af ʼn gevoel vir die werkplek te kry om sodoende werkplekgereed te wees teen die dag wat hulle ná hul studies hul beroep betree,” sê dr. Juran van den Heever, hoof van Solidariteit Jeug en Loopbaanontwikkeling.

Marisa Engelbrecht, sektorhoof vir onder meer die Gilde vir Kommunikasie en Bemarking by Solidariteit, meen dat daar minder en minder geleenthede vir jong mense gebied word om ʼn idee van hul verkose beroep te kry, en daarom maak die gildes dit juis vir hierdie jong mense moontlik binne die gildenetwerke wat reeds bestaan.

“Studente in ʼn finansiële rigting en die veld van regte het veral groot uitdagings met wetgewings en regulasies. Ons sal verseker dat hierdie studente tydens hul studie die regte ervaring opdoen,” meen Henru Kruger, sektorhoof van die Gilde vir Finansiële Beroepslui en die Regsgilde.

Van den Heever het ook aangevoer dat die jeug ʼn belangrike rol in die vooruitgang van die land speel en dat alles moontlik gedoen moet word om hulle met al die nodige vaardighede toe te rus. Waar deure vir hulle in openbare sektor toegaan, sal Solidariteit Jeug dit saam met die Gildes in die privaatsektor oopbreek.

Solidariteit Jeug en die Gildes gaan ook binnekort ʼn veldtog van stapel stuur waar beroepslui in Pretoria aangemoedig word om tydens die Julie-vakansie skaduwerk te bied aan ʼn matriekleerling met groot beroepsdrome.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
cha

Ek wens Solidariteit wil ook aan die ouer mense dink… soms kry iemand baie laat in sy lewe geleentheid om te studeer, en om daarna werk te kry is bykans onmoontlik.