Gimnas na twee leweroorplantings

Juan-Mari en Cheara du Toit (Foto: verskaf)

“Ek sal nooit daardie dag vergeet nie. Dit het gevoel asof die hele wêreld op my neerval.”

Só gesels Juan-Mari du Toit oor haar dogter Cheara (11) se reis jare gelede na twee leweroorplantings, een op die ouderdom van twee en die volgende ʼn jaar later.

Die verhaal het ʼn storie van oorwinning geword wat die hele Suid-Afrika destyds aan die bid vir die Du Toit-gesin gehad het.

Maroela Media het met Juan-Mari gesels om te hoor hoe dit nou met Cheara en die gesin gaan.

Begin van Cheara se verhaal

In 2011 het die Du Toit-gesin reeds met twee seuns gespog. Die opwagting van hul eerste en enigste dogter, Cheara, het vir groot vreugde en feesvieringe dié jaar gesorg.

Die vreugde was egter van korte duur. Op die ouderdom van ʼn skamele ses weke, word ’n seldsame lewergebrek by haar gediagnoseer.

“Sy was maar baie klein en fyn gewees,” het Juan-Mari oor Cheara se babatyd vertel.

“Tydens ons seswekebesoek aan die dokter, het ons besef dat iets nie pluis is nie.”

Die dokter het hiertydens aan Juan-Mari verduidelik dat Cheara geelsug gehad het. “Ek het dit nie eers agtergekom nie,” sy wys na Cheara terwyl sy verduidelik dat sy nog altyd ʼn blas vel gehad het. “Snaaks genoeg, as jy so daarmee saam lewe, sien jy dit nie noodwendig raak nie.

“Toe begin die toetse. Hordes en hordes toetse.”

Cheara het hiertydens slegs drie kilogram geweeg. Sy is uiteindelik met biliêre atresie gediagnoseer.

“Dis ʼn vertakking wat nie reg na die lewer en galblaas toe gaan nie.” Die dokters verduidelik toe aan die Du Toits dat dit ʼn operasie van agt ure gaan verg om ʼn  nuwe buis na Cheara se lewer te bou.

Dokters het ʼn venstertydperk van net drie maande gehad waarin die toestand behandel moes word, en Cheara is op die ouderdom van twee maande operasietafel toe gestuur.

Daar is egter tydens die chirurgie besef dat die verkeerde diagnose gemaak is.

“Toe begin die toetse weer van voor af.”

‘n Jong Cheara du Toit (Foto: verskaf)

Twee leweroorplantings

Na twee weke ontvang Juan-Mari ʼn oproep van Cheara se dokter af waartydens die regte diagnose aan haar verduidelik is. “Dis ʼn vreeslike naam, Alfa 1-antitripsientekort.

“Dis ʼn tekort in die lewer wat veroorsaak dat die lewer later vergaan, en wat natuurlik die res van die liggaam ook beïnvloed.”

Die gesin het ʼn groot terugslag ervaar toe hulle hoor dat die enigste behandeling vir die toestand ʼn leweroorplanting is.

Juan-Mari het die ingewikkelde aard van oorplantings verduidelik.

“Jy kan nie net vinnig ʼn leweroorplanting kry nie. Hulle het haar op vreeslik baie pille gesit. Dink net, om daardie klein babatjie op al daardie medisyne te kry en haar so gesond moontlik te probeer hou. En intussen word sy op die oorplantingslys geplaas.”

In daardie stadium was die Rooikruis-kinderhospitaal die enigste sentrum wat leweroorplantings op jong kinders gedoen het.

“Ons moes elke twee maande daarnatoe ry vir toetse, en waar sy op die oorplantingslys gelê het, het van daardie toetse afgehang. Ons moes wag vir ʼn kadawer, met ander woorde ons moes wag dat iemand moes doodgaan, en dan moes ons hoop dat ons bo aan die lys was.”

Juan-Mari getuig dat sy tydens hierdie deel van Cheara se gesondheidsreis baie desperaat was.

“Ek het in die winkel gestaan en deur ʼn tydskrif geblaai. Ek sien toe dat hulle ʼn nuwe oorplantingsfasiliteit in Johannesburg geopen het.”

Sy sien toe ook dat dié geriewe, oftewel die Donald Gordon-hospitaal, ʼn lewende lewer in ʼn baie jong kind oorgeplant het.

Juan-Mari het nie geskroom om met die hospitaal in verbinding te tree nie. “Dit werk mos nie eintlik so in die mediese wêreld nie. Jy is veronderstel om eers verwys te word.”

Die waaghalsige e-pos het egter vir die Du Toits vrug afgewerp, aangesien die hospitaal bereid was om te help.

Cheara se toestand het intussen verswak, en kort na hul besoek aan die oorplantingsentrum in Johannesburg, moes die gesin spring om haar weer by die spesialiste te kry.

Charl, Juan-Mari se man en Cheara se pa, het na verskeie toetse ʼn deel van sy lewer aan Cheara geskenk.

“Daar is ʼn sêding oor oorplantings: een tree vorentoe en twee treë terug.”

ʼn Paar weke na die oorplanting val Charl se longe plat en kort daarna verwerp Cheara se liggaam die nuwe lewer.

Cheara moes ʼn tweede oorplanting ontvang.

Juan-Mari, wat ʼn deel van haar eie lewer wou skenk, se lewer was te klein en sy is weggewys as skenker.

“Ek was moedeloos – jy sien hoe jou kind besig is om dood te gaan en jy kan niks doen nie.”

Tot op daardie oomblik was daar nog nie iemand wat twee maal ʼn lewende leweroorplanting ondergaan het nie. Boonop was die tweede skenker ʼn aangetroude familielid, wat daartoe gelei het dat die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid dit nie wou goedkeur nie.

Die struikelblokke is egter een vir een oorkom, en hulle kon met die oorplanting voortgaan.

“Ek en Charl het iets gaan eet tydens die oorplanting – ek wou net daar weg kom.” Tydens dié aandete kontak die chirurg wat aan die stuur van Cheara se operasie was die Du Toits met die nuus dat die oorplanting suksesvol was.

“Ons het dadelik teruggegaan hospitaal toe. Ons was verras toe ons sien dat sy nie eens op suurstof was nie. Twee weke na die operasie het sy vir haar plastiekmotorfietsie gevra – waarmee sy natuurlik die gange plat gery het.”

Die Du Toit-gesin vandag (Foto: verskaf)

Van siekeboeg tot stralende jong meisiekind

Sewe jaar na die traumatiese gebeure, is Cheara ʼn springlewendige, sprankelende meisiekind wat haar besig hou met aktiwiteite soos gimnastiek.

“Sy is baie kunstig; ek is seker sy gaan iets met kuns doen wanneer sy groot is,” het Juan-Mari gespog.

Cheara drink elke oggend ʼn immuunonderdrukker, iets wat sy vir die res van haar lewe sal moet doen.

Reis van ʼn ma op haar knieë

Die gebeure na Cheara se geboorte het Juan-Mari tot op haar knieë gebring.

“Ek het erge angs en posttraumatiese stres ontwikkel. Dit het eers kop uitgesteek na die sukses van die tweede oorplanting, maar dis iets waarmee ek jare lank geleef het. Ek het elke dag Psalms gelees en my rustigheid in God gevind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmY ·

Wonderlike nuus. Ek is seker jy gaan groot dinge en hoë hoogtes bereik. x

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.