Glansgeleentheid vir Afrikaanse sakelui terug in volle glorie

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, Marietjie Cilliers van Koffie Kapitaal, Betz Pienaar van Jou Plaas Deli, Sandri Olivier van Michelle se Kombuis, Sanderien van der Walt en Francois Smit van AfriForum. (Foto: Philip Robinson/The Bearded Photographer)

Afrikaanse entrepreneurs van reg oor die wêreld het fisiek (en party virtueel) hul blink nommertjies afgestof en skoene gepoets vir die jaarlikse spoggerige Tinteltong-toekennings wat Woensdagaand in die AfriForum-teater in Pretoria aangebied is.

Dié glansgeleentheid is ʼn inisiatief van die AfriForum Sakenetwerk en word jaarliks in samehang met Internasionale Moedertaaldag gevier om innoverende Afrikaanse entrepreneurs te beloon vir hul bydra tot Afrikaans as saketaal. Sedert die ontstaan van dié inisiatief in 2016 is meer as 90 ondernemings reeds met ʼn Tinteltong-toekenning bekroon.

Die Tinteltong Toekennings word sedert 2016 aangebied. (Foto: Rozier van Tonder/Okay Deer)

Die toekenningsgeleentheid is laas in 2020, etlike dae voordat die Covid-19-inperking ingestel is, in sy volle glorie gevier. Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder van die AfriForum Sakenetwerk, moes die organisasie weens beperkings op byeenkomste in 2021 uit die boks dink en het hulle besluit om die toekennings volgens streke aan te wys en wenners in hul onderskeie provinsies te besoek om die pryse te oorhandig. Juis daarom wou hulle sorg dat vanjaar se opskop “een vir die boeke” is.

Gaste is die aand met smaaklike happies en glase vonkelwyn gegroet, waarna ʼn aansitete by kerslig bedien is. Caroline-Grace, voormalige deelnemer aan The Voice South Africa, se engelstem het vir vermaak gesorg.

Dr. Annelise de Vries, dosent in Afrikaans Huistaal-onderwys en Afrikaans as taal van onderrig en leer by Akademia, en Karien Brits, dosent in Afrika-gesprekstaal by Akademia, het tydens die geleentheid gesels oor die integrale rol wat taal in die sakewêreld speel en hoe handeldryf en arbeidskwessies deur die land se geskiedenis ʼn effek op die ontwikkeling van Afrikaans as hoërfunksie taal gehad het.

Volgens De Vries is daar bereken dat meertaligheid ʼn addisionele waarde van 35% in die dienstesektor kan byvoeg en dat verbruikers wêreldwyd veiliger voel om e-aankope in hul moedertaal te doen. Sy het ook benadruk dat die ekonomiese welvaart van Afrikaanssprekendes bepalend vir die taal se toekoms gaan wees. “Afrikaans kan nie floreer as die Afrikaanse mense krepeer nie.”

Dr. Annelise de Vries en Karien Brits van Akademia het tydens die geleentheid gesels oor die integrale rol wat taal in die sakewêreld speel. (Foto: Rozier van Tonder/Okay Deer)

“Taal betaal en ʼn taal word soos ʼn koeksister vervleg met sy gemeenskap. Gaan verander jou sakegemeenskap en plaaslike ekonomie- koeksister vir koeksister in Afrikaans,” het Brits bygevoeg.

Tinteltong-wenners van verskillende bedryfsrigtings is in tien kategorieë bekroon, van handelsname en kos wat Afrikaans praat tot trotse Afrikaanse produkte vir trippeltoontjies. Buitelandse ondernemings se passie vir Afrikaans is vanjaar ook vir die eerste keer as deel van Tinteltong-toekennings vereer.

Hoewel daar oorspronklik slegs een toekenning vir dié internasionale kategorie beoog was, was die terugvoer so oorweldigend dat die organiseerders besluit het om eerder twee afsonderlike toekennings aan buitelandse ondernemings te maak. Sandri Olivier, eienaar van die Namibiese tak van die onderneming Michelle se Kombuis, wat gevriesde geregte, ingelegde produkte en lekkernye verskaf, en Jeannie van Zyl, eienaar van Boekwurm, ’n aanlyn Afrikaanse boekwinkel wat verspreiding regoor Australië doen het onderskeidelik as wenners in dié kategorie weggestap.

Christa van Zyl ontvang haar dogter, Jeannie, se toekenning namens haar. Saam met haar is Sue-Ann de Wet van Wêreldwyd. (Foto: Rozier van Tonder/Okay Deer)

Van Zyl versprei nie net Afrikaanse boeke nie, maar deel ook gereeld interessante Afrikaanse leermateriaal en inligting oor onder meer Afrikaanse liedjies en woordeskat op sosiale media. Sy het in ʼn voorafopgeneemde video gesê dat sy deur haar onderneming wil help om die sowat 50 000 Afrikaanse huistaalsprekers in Australië opgewonde te hou oor Afrikaans as moderne, dinamiese wêreldtaal.

Tanya Jacobs se onderneming Koekies en Klitsers het die toekenning vir Eet in Afrikaans ontvang. Jacobs, ʼn gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester, het haar onderneming in 2015 begin toe sy weens ʼn moeilike swangerskap tuis moes bly.

“Ek is ʼn plaasmeisie, ek kan nie stilsit nie. Ek het my ouma se resepteboek afgestof en koekies vir my man begin bak en werk toe gestuur. Die koekies het aandag begin trek en die aanvraag vir ander produkte het van daar gegroei.”

Vandag bak sy vir almal, van groot korporatiewe geleenthede, tot tien koekies vir die tannie af in haar straat. Sy is veral bekend vir haar indrukwekkende temakoekies.

“Hierdie toekenning is so lekker verrassing want ek is onverwags en anoniem benoem. Ek dink hierdie geleentheid gee vir klein ondernemings soos myne hoop dat jy nie ʼn Engelse naam hoef te hê om suksesvol te wees nie. Jy kan handel dryf en jou kliënte bedien in jou moedertaal.”

Zoë Burger, die dinamiese eienaar van Kuif & Baard, ʼn barbier in Pretoria, spog nou met twee Tinteltong-toekennings. Sy is vereer met die Tinteltong-toekenning vir kreatiefste Afrikaanse handelsnaam en het in 2020 weggestap met die Tinteltong vir goeie diens in Afrikaans.

“Hierdie toekenning het sedert 2020 soveel blootstelling vir my onderneming gebied. Ek is ʼn versamelaar so ek wil nou ʼn hele rak vol Tinteltong-toekennings hê,” skerts sy.

Sanderien van der Walt en Marc Jacobs van Vannie Kaap. (Foto: Rozier van Tonder/Okay Deer)

Die trots en uiters suksesvolle “Afrikaapse”-handelsmerk Vannie Kaap is met die Tinteltong-toekenning vir eg Afrikaanse produk bekroon. Vannie Kaap het sedert hul ontstaan die wêreld op horings geneem met produkte wat pronk met sêgoed soos “tsek” en “awe masekin”.

Volgens Vannie Kaap se mede-eienaar, Marc Jacobs, is hulle uiters trots en oorweldig om dié toekenning te ontvang. “Ek dink dis ʼn baie goeie inisiatief en geleenthede soos hierdie is broodnodig want dit beteken mense sien dit wat ons as kleiner besighede doen raak.”

Die kategoriebenoemings vir 2022 was soos volg:

  • Kreatiefste Afrikaanse handelsnaam: Zoë Burger, Kuif en Baard
  • Trippeltoontjies-produk of diens wat op kinders of babas gemik is: Alida Oosthuizen, Hommelbytjies
  • Eet in Afrikaans: Tanya Jacobs, Koekies en Klitsers
  • Handelsmerke wat Afrikaans praat: Betz Pienaar, Jou Plaas Deli
  • Eg Afrikaanse produk: Marc Jacobs, Vannie Kaap
  • Stories, uitgewers en bloggers: Thea Bruwer, Lapa
  • Handgemaakte produkte of dienste wat Afrikaans praat: Alta Scott, Deur die blare
  • Brou- en stookboetiek (drank, alkohol of koffie in Afrikaans): Marietjie Cilliers, Koffie Kapitaal
  • Eksie perfeksie-naaldwerk- en leerprodukte wat Afrikaans praat: Illze Lourens, Liewe Lente en Michelle Kinnear, Plaasmeisie
  • Afrikaanse ondernemings in die buiteland: Sandri Olivier, Namibiese tak van Michelle se Kombuis en Jeannie van Zyl, eienaar van Boekwurm in Australië.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.