Glasie geklink op AfriForum Teater se eerste verjaardag

v.l.n.r. David de Villiers, Nadia Beukes, Bernice West en Jannes Erasmus (Foto: Mizanne Hattingh/ Maroela Media)

Die AfriForum Teater het hierdie week by sy eerste verjaardagviering aangekondig dat dit binnekort ʼn sterbelaaide musiekblyspel getiteld Die Gelofte van Mei af by die teater sal aanbied.

Bekende name soos Jannes Erasmus, Bernice West, Nadia Beukes en Johan Vorster sal deel van die blyspel se rolverdeling wees.

“Wanneer jy na hierdie musiekblyspel kom kyk, sal jy verstaan waarom dit belangrik is om dié verhaal te vertel. Daar word parallelle getrek wat oor byna 200 jaar strek en vandag steeds relevant is. Grond, gesinsbande en die grusame werklikheid van die lewe,” het Erasmus, teksskrywer van die produksie vertel.

AfriForum Teater het sy deure vir die eerste keer op 3 Maart 2021 geopen, tydens van die moeilikste tye van die Covid-19-pandemie, en het sedertdien net van krag tot krag gegaan. Die gemeenskapsteater is reeds vol bespreek vir die grootste gedeelte van 2022.

Germandt Geldenhuys en Je-Ani Swiegelaar in aksie (Foto: verskaf)

“Dit was vir ons ’n uitdaging om die teater bekend te stel. Ons moes op daardie spesifieke dag verskillende sessies hou om verskillende groepe mense te akkommodeer omdat ons net 50 op ’n slag kon inlaat.

“Vandag, ’n jaar later, was dit eintlik ’n verskriklike goeie jaar gewees. Dit was nodig dat die AfriForum Teater hom as tuiste vir Afrikaanse kunste vestig,” het Carien Bloem, bestuurder van die AfriForum Teater, aan Maroela Media vertel.

Die teater het een doelwit voor oë gehad: Om ’n platform vir Afrikaanse kunstenaars te bied.

“Wat die AfriForum Teater anders as ander teaters maak, is dat ons na die tafel toe gekom het met regtig goeie aanbiedings vir kunstenaars wat dit vir hulle moontlik maak om hier te kan optree. Dit was weer vir hulle moontlik om met professionele klank en beligting ’n vertoning te doen.”

Die glansgeleentheid wat Donderdagaand gehou is, het die eerste bestaansjaar van die teater behoorlik gevier. Dit was ook ʼn geleentheid om te spog met die soort produksies wat die teater beoog om te lok.

Germandt Geldenhuys en Je-ani Swiegelaar was eerste aan die beurt met ’n uittreksel van hul bekende teaterstuk KeelVol. Hulle is gevolg deur Danny Smoke en sy musiekgroep wat die voete behoorlik laat jeuk het met hulle musiek.

Kallie Kriel spreek die gehoor toe (Foto: verskaf)

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die teater en die span wat dit op die been gebring het, tydens die funksie gelukgewens.

“Ek het eers gedink die idee van ons eie teater gaan nie werk nie, maar hoe meer ek probeer dink het aan redes waarom dit nie ’n goeie idee is nie, hoe meer het ek besef dat dit tog wel ʼn uitstekende idee was,” het Kriel aan die gehoor vertel.

Bekendes soos Rocco de Villiers, Franja du Plessis en Danie du Toit het video’s van gelukwensing aan die teater gestuur. Dit is tydens die funksie gespeel.

Danny Smoke (Foto: verskaf)

Feesvieringe vir die teater is reeds vroeër Donderdag begin met Rocco de Villiers se vertoning vir ’n paar plaaslike ouetehuis-bewoners. Dit is gevolg deur Jakkie Louw wat kinders met ’n heerlike poppekas vermaak het.

“Ons hoop werklik om kunste hier by ons te huisves. Hier is ’n klein kunsgalery waar plaaslike kunstenaars hul werk kan kom uitstal. Ons het ook die Pronk-restaurant wat heerlike kos bedien, selfs al is jy nie hier om ’n funksie by te woon of vertoning te kyk nie. Ons beoog ook om skole wat graag funksies soos musiekblyspele wil hou, by die teater te betrek,” het Bloem bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.