God genees gebroke lewens by Moeggesukkel

Jacques Papenfus - Die stigter van Moeggesukkel. Foto: Esmarie Prinsloo

Jacques Papenfus – Die stigter van Moeggesukkel. Foto: Esmarie Prinsloo

Deur Esmarie Prinsloo, joernalis by Pretoria FM.

Soveel as 15 % van alle Suid-Afrikaners is verslaaf aan een of ander dwelmmiddel, en boonop neem dié syfer jaarliks toe.

Moeggesukkel, ʼn liefdadigheidshawe in Raslouw, suid van Pretoria, verander sedert sy stigting in 2011 die lewens van hawelose mans én mans wat byna in ’n web van verslawing versmoor het, onherroeplik.

Dié organisasie, wat bekend is vir sy suksesstorie en uitreikprojekte in die gemeenskap, huisves tans 50 mans tussen 18 en 50 jaar vir wie die lewe harde houe toegedien het.

“Ek glo dat almal wat drink of dwelms gebruik dit doen om ʼn emosie te onderdruk. As ons nie daardie emosie verwerk of dit aan God oorgee nie, gaan dit voortduur,” vertel Jacques Papenfus, die stigter van Moeggesukkel.

Papenfus het self die donker kant van die lewe gesien. Op die ouderdom van nege het ʼn motorongeluk sy hele gesin uitgewis. Op 18 het hy in die dwelmwêreld verdwaal en kon sewe jaar later eers uit die web ontsnap.

Nou gee sy organisasie hoop, nuwe lewens en toekomsdrome.

Die resep, sê Papenfus, is God en Bybelse beginsels.

“Dit is vir my baie belangrik om te sien hoe kom die persoon in en hoe vat ʼn ou net die seer, want die Woord sê: Almal wat moeg is, kom na Jesus toe, want Hy gee rus. Net om daardie persoon te sien verander tot op die punt waar hy by die hek kan uitstap en sy kop kan optel en mense weer in die oë kan kyk. Dít is wat ek vir Moeggesukkel wil hê.”

Moeggesukkel se inwoners behartig ʼn handvol liefdadigheidsprojekte in die gemeenskap, wat die nood van ander mense wat moeg gesukkel is, verlig en terselfdertyd vir die mans wat waardeloos voel, ʼn vervullende, doelgerigte lewe gee.

Hope Kitchens is een van hierdie projekte, wat vir minderbevoorregtes in die nabygeleë plakkerskamp, Manziville, elke tweede Sondag van kos en klere voorsien.

Be the Difference, wat die maak van houtpalletkratte vir skenkingsorganisasies behels asook ʼn paneelklop-opleidingsentrum waar die mans meer as 40 voertuie elke maand spuitverf, asook ʼn motorwasdiens oor naweke, groenteverbouing en herwinningsprojekte hou ʼn ieder van die inwoners besig.

“Dit is ʼn baie positiewe invloed vir ons. Ons wil niks terughê nie. Dit is om te help om die plek reg te kry vir die volgende ou. En ja, ek was vier weke terug nog op straat, ek is ʼn oudheroïenverslaafde en dié plek het my lewe gered,” sê Eugene du Preez, wat gehaltebeheer by die motorwasdiens behartig.

Donderdagaande word daar na haweloses in die Pretoriase middestad uitgereik met kos en klere, as deel van die Mercy Ministry-projek.

Percy Loggenberg, wat aan stuur van dié projek is, stel homself én sy ligbruin worshondjie, Rocky, wat hom soos ʼn skaduwee volg, met ʼn stywe handdruk voor.

Sy drankverslawing het hom alles gekos, maar ná ʼn jaar by Moeggesukkel deel ook hý hande vol hoop uit, en droom hy daarvan om ʼn pastoor te word en mense te help.

“Toe ek my hart vir die Here gegee het, het my lewe verander. My verhouding met my familie is weer reg, en ek is nou verloof en het die pragtigste tweeling. Ek het hier geleer dit gaan nie net meer oor my nie. Moeggesukkel het my op straat gekry, en vandag is ek die ou wat elke Donderdag strate toe gaan, wat die span lei om mense op straat kos te gee. Dit gee net weer vir die ander ou moed, dat ʼn ou soos ek, wat op straat was, vir hulle kan hoop gee,” vertel hy met ʼn glinster in die oog.

Moeggesukkel se inwoners getuig van sukses, en hoewel Papenfus nie ʼn uitgewerkte roete op sy kaart het nie, weet hy God is die kaptein van dié skip, wat gebroke matrose aan boord sal bly heelmaak.

“Ek is ʼn dienaar, ek leef volgens Johannes 3:30 wat sê God moet meer word en ek minder. Wat ook al sy plan is, ek bid dat sy wil vir Moeggesukkel geskied.”

Moeggesukkel kan geskakel word by 073 329 5174. Hulle is ook op Facebook en op die internet bereikbaar by www.moeggesukkel.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Theresa ·

Wonderlike positiewe leesstof. Hartlike goeie wense vir jou, Jacques! Dis ‘n groot stap om te neem om so iets op die been te bring en skynbaar gee jy hoop en positiewe denke aan baie mense wat langs die pad van die samelewing net sou verdwyn het. Alle voorspoed en vooruitgang! Sal graag wil weet waar is jul presies – karwas is altyd nodig!

riette ·

Shoe dis nie die val nie dis daai opstaan saam ons Skepper. Ek navae gedoen om my seun daarna toe te stuur. En gaan dit doen. Julle is ysters

chris ·

Jacques ek wens jou en jou ander personeel krag en genade toe met die wonderlike werk waarmee julle besig is. Wys jou net waar daar ‘n wil is is daar ‘n weg. Weet net dat God sal altyd voorsien !!! Wys ook as die mense besig is en WERK kan daar genesing deur die Heilge Gees bewerkstellig word.

Tina du Toit ·

Wat `n mooi storie. Prys die Here, en 10/10 vir mans wat hulp gaan soek.

Annika ·

Jacques en sy gesin het in Harrismith gewoon ten tye van die ongeluk. Ek was self ‘n kind van 7, maar onthou tot vandag toe van die ongeluk. Ek onthou die oom en tannie vaagweg, hulle was wonderlike mense.

RITA ·

Hou aan met julle goeie werk. Julle sal bokant julle vermoe geseen word vir dit wat julle vir julle medemens doen. Waar daar n wil is, is daar n weg. Julle werke in God is nooit verniet nie.
Voorspoed in alles wat julle aanpak.

Annari ·

Dis so bemoedigend om te midde van al die daaglikse slegte nuus so positiewe storie te lees. Dankie dat jy ons Vader se hande en voete is Jacques (en al die mense wat saam met jou dien), mag Hy julle tot oorlopens toe seën!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.