God’s Window kry eie lugbrug

‘n Grafiese voorstelling van God’s Window se lugbrug. (Foto: Flexi Tours/Facebook)

Die Mpumalanga Toerisme- en Parkeagentskap (MTPA) het vandeesweek aangekondig dat God’s Window, wat op die Panorama-roete in Mpumalanga geleë is, eersdaags sy eie lugbrug kry. Die projek is tydens ʼn amptelike seremonie geopen en sal na verwagting in 2023 voltooi wees.

God’s Window bied ʼn panoramiese uitsig oor die Laeveld en op ʼn wolklose dag kan toeriste selfs die Indiese Oseaan en Maputo sien. Besoekers sal met die lugbrug een ​​van Suid-Afrika se mees ikoniese uitsigte egter op ʼn heel nuwe manier ervaar.

Die brug sal volgens beplanning ʼn losstaande glasvoetpad wees wat aan die rand van die krans hang met ʼn panoramiese uitsig van 360 grade wat op toeriste wag. Die loopvlak sal ongeveer 12 m van die krans uitsteek en ongeveer 5 m breed wees.

Jerry Mabena, uitvoerende hoof van Motsamayi Tourism Group, sê hulle poog om met hierdie projek weer lewe in die omgewing te blaas.

‘n Grafiese voorstelling van God’s Window se lugbrug. (Foto: Flexi Tours/Facebook)

“Ons behoefte is om hierdie pragtige projek as ʼn instrument te gebruik om die omgewing weer as toeristebestemming van wêreldgehalte op te hef. Ons glo ook dat hierdie projek werkgeleenthede sal skep en ander besienswaardighede in die omgewing sal ondersteun.”

Mabena sê verder dat die Blyderivier-streek jaarliks ​​byna een miljoen toeriste lok. ʼn Projek soos die lugbrug sal volgens hom help om die getalle te verhoog en mense aan te moedig om langer in die omgewing deur te bring. “Dit sal ook die eerste lugbrug in sy soort in Suid-Afrika wees, en een van die min wat oor die hele wêreld gebou is.”

Met ʼn val van 900 m sal die God’s Window-lugbrug hoër wees as die Grand Canyon-lugbrug, wat tussen 150 en 280 m staan, en die Zhangjiajie-glasbrug in China, wat 260 m op sy hoogste punt is.

“Hoewel die toerismebedryf tans sukkel weens die Covid-19-pandemie, werk ons ​​hard daaraan om die situasie te beredder,” sê Johannes Nobunga, uitvoerende hoof van die MTPA. “Ons werk ook daaraan om te verseker dat al ons deurlopende toerismeprojekte werk skep en opkomende swart entrepreneurs ondersteun.”

Lees meer oor die God’s Window-lugbrugprojek op die Mpumalanga Toerisme- en Parkeagentskap (MTPA) se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

mattk ·

Al die jare het jy daar stil gehou en op die voetpad deur geloop na die uitkyk punt. Alles was netjies en skoon. Deesdae moet jy betaal om daar in te gaan en die voetpaadjies lyk soos ‘n vuil basterbrak se agterent. Gemors lê gesaai en niks word instand gehou nie (viva ANC, viva – julle kan mos alles wat mooi is deur jul agterente trek). Op navraag oor die toegangsfooi het een persoon ewe opgemerk “It is for the upliftment and development of the community”. By al die uitkyk punte en watervalle is die fooi betaalbaar en oral is dit vervalle.

Harry ·

Leer eers om onderhoud op bestaande akommodasie en aantreklikhede toe te pas voor julle nuwe goed bou, kyk byvoorbeeld na die huisies in die Kruger Nasionale Park, baie van hulle kort dringend onderhoud maar daar word nuwe kampe en aantreklikhede beplan, hierdie mense dink nie lekker nie!?!!

Wielspore ·

Die oprigting van loop brug by God’s window is al ‘n geruime tyd op die tafel en vorm deel van die voltooide Graskop Gorge lift projek. Ons het die Glass lift gery af in kloof en dit bring die versteekte natuurskoon binne oog bereik. Dit staproete onder is beslis die moeite werd en bied die geleentheid aan die besoeker om deel van die natuur te word. Die stilte word gevul met die klanke van water, voels en insekte. Dan kan jy ook oor die gorge loop met ‘n brug, natturlik as jy nie bang is vir hoogtes. Ons wend die mense wat die projek by Gods Window sterkte toe aangesien die omgewing en ons land finansieel daarby gaan baatvind. Besoek gerus intussen die Graskop Gorge glas lift.
https://www.graskopgorgeliftcompany.co.za/

Carolina ·

Ons was daar In Junie en dit is absoluut die moeite werd, jammer dat Graskop so agteruit gegaan het

annie ·

Die brug moet asb totaal oordek wees sodat dit nie in nog ‘n plek vir die afspeel van tragiese dramas ontaard nie.

Charl ·

Opkomende swart entrepreneurs ondersteun ? So dis weereens baantjies vir boeties…

Hardekwas ·

Ek kan nie wag om dié toekomstige kader geboude konstruksie te vermy nie.

Mallie ·

Net nog n plek waar mense kan afspring om selfmoord te pleeg, soos by van Staden in die Oos Kaap.

Toy ·

Sien die mense nie as iets agteruit gaan of is dit hoe hulle daarvan hou. Ek sal dit net nooit gewoond kan raak. Wil orals geld vra maar als is in ‘n toestand. Wat help dit hulle rig so brug op maar die omgewing daar is vuil ek sal nie dit dan wil besoek nie. Ek hou verby.

Niklaas ·

Die Graskop Gorge Lift is erg duur vir die gemiddelde toeris. Nou wonder ek wat hierdie nuwe plek se toegangsfooie gaan wees ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.