Goedhartigheid soos manna uit die hemel

Thea Steyn van Edenpark-aftreeoord met komberse gebrei deur inwoners. (Foto: Verskaf.)

Die land kan ingeperk word, maar nie hongerte nie, en daarom wil Solidariteit Helpende Hand al hul ondersteuners bedank wat te midde van die Covid-19-pandemie steeds help om hongersnood te bekamp.

Annemarie van Heerden, Helpende Hand se streeksorganiseerder van Mpumalanga en die noorde van KwaZulu-Natal, sê hulle het 2020 met ’n hart vol hoop ingegaan, min wetend wat die jaar vir die land sou inhou.

“Maar ons het gesien met die pandemie wat die land aan die gons het, is daar steeds soveel mooi en oop harte,” sê Annemarie.

“Ons streek is in die bevoorregte posisie om gereeld piesangs vanaf ’n piesangboer in Malelane te ontvang. Dit word dan gratis deur National Road Carriers afgelewer sodat dit aan behoeftiges uitgedeel kan word. Met die skole wat reeds gesluit was, kon ons op 19 Maart nie oudergewoonte ’n skenking van 15 bokse by ons kosblikkieprojek se skole aflewer nie,” sê sy.

Annemarie het vir “tannie” Thea Steyn van Edenpark-aftreeoord in Witbank genader en gevra of die “oumas” daar vir Helpende Hand van die piesangs in ’n gebak sal omsit. Al die nodige bestanddele is aan die bejaardes gelewer om nie ’n finansiële las op hulle te plaas nie.

“Sodoende het die bejaardes kans gekry om vir behoeftige kinders met liefde ’n broodjie te bak, en terselfdertyd ook te voel dat hulle nog beslis ’n doel in die samelewing het,” sê Annemarie.

Meer as 50 piesangbrode is van 19 Maart tot 25 Maart gebak en gevries, en is nou gereed om aan die skole van die kosblikkieprojek met die volgende uitdeelaksie uit te deel.

“Slegs ’n paar dae later ontvang ons ’n e-pos vanaf ’n skenker uit Richardsbaai wat vir ons kospakkies wil lewer. Ons het vinnig ’n plek vir hierdie skenking gekry en byna 100 kospakkies is tydelik in Richardsbaai gestoor. Die kospakkies is op Donderdag 26 Maart afgelewer en teen Vrydagmiddag 27 Maart het Melissa Nel, Annemarie se assistent-streekorganiseerder, die vrugtelose poging tydelik gestaak om die kospakkies vanuit Richardsbaai na Witbank vervoer te kry. Dit volg nadat bykans 20 koeriermaatskappye nie kon help om die kospakkies te vervoer nie,” verduidelik Annemarie.

Annemarie het voelers uitgesteek na National Road Carriers se eienaar, Callie, en ’n week later is die kospakkies, altesaam 2 150 ton, in Witbank afgelewer.

“Weereens was dit National Road Carriers se diens tot ons redding. Intussen is Solidariteit Helpende Hand se Josef-silo’s tot stand gebring en hierdie besending is ons heel eerste Josef-siloskenking vir ons streek. Ons ontvang volwaardige kospakkies met onder meer geblikte bone (baked beans), 2 kg suiker, sojamaalvleis, 2 kg rys, 5 kg mieliemeel, olie en meer,” sê sy.

Annemarie voeg by hulle het daarna weer piesangs van bogenoemde boer ontvang; hierdie keer 18 houers. National Road Carriers het weereens hul dienste aangebied en die bokse piesangs vanaf Malelane na Witbank vervoer van waar dit versprei is. Hulle het dus in twee dae vir hierdie streek 2,5 ton voedsel vervoer asook 2 400 km vir liefdadigheid afgelê.

Die piesangs is gelewer aan die SAVF Middelburg, SAVF Amsterdam, Edenpark-aftreeoord Witbank, Immergroen Ouetehuis Witbank, Moth Cottages Witbank, asook in die gemeenskap versprei. Tydens Annemarie se aflewering aan Edenpark-aftreeoord is sy verwelkom met 30 gebreide kombersies, asook gebreide poppies vir behoeftiges. Tannie Thea sê: “Die mense is depressief en angstig hier binne. Julle verstaan nie wat iets van buite vir hulle beteken nie. Hulle juig en huil van dankbaarheid.”

“Ons het ook 20 kg-sakke aartappels, broodmeel en gis – altesaam 25 sakke – ontvang en die Geldenhuys-gesin, wat ’n ingebore liefde daarvoor het om te gee, het begin gaarmaak en brode bak. Op Vrydag 3 April het Melissa 40 tuisgebakte brode, 110 bakkies kapokaartappels en 20 sakkies aartappels van hulle gekry as skenking vir die streek. Ook het ons 9 sakkies lemoenpampoentjies ontvang, 70 kg aartappels, 15 brode, nog 20 bakkies kapokaartappels en 50 kg broodmeel,” sê Annemarie.

“Ons moet help waar ons kan; ’n mens kan nie toelaat dat daar mense, en veral kinders, honger gaan slaap nie,” lui ’n boodskap van National Road Carriers. Die maatskappy help altyd graag vir Helpende Hand met die grootste glimlagte en die woorde: “Nie vir ons nie, maar aan Hom die eer”.

“In net een week het dié streek van Helpende Hand gegroei van bykans niks tot ’n streek met skenkings van honderde kospakkies, gebreide komberse, varsgebak en splinternuwe hoop vir die uitdagende tye wat op ons wag. Ons is dankbaar vir die mense wat ons hande vat en ons sterker maak.

“Ons salueer ons skenkers, vrywilligers en elkeen wat bydra tot ons doel. Saam is ons sterker,” sluit Annemarie af.

AfriForum se Brakpan-tak se skenking. (Foto: Verskaf.)

Nóg skenkings in Gauteng-Suid

Intussen het AfriForum se Brakpan-tak gesorg dat Helpende Hand in Gauteng-Suid ’n vrag vol niebederfbare kos gekry het om vir behoeftiges in Brakpan uit te deel.

Mariëtte van de Werken, Helpende Hand se streeksorganiseerder van Gauteng-Suid, bedank die hele Brakpan-gemeenskap vir die onbaatsugtige daad tydens hierdie moeilike tyd.

“Te midde van ’n moontlike krisis in hul eie huise bly dié gemeenskap net gee. Dankie aan Dalpark Kaléo NG gemeente wat sy perseel beskikbaar gestel het om skenkings te ontvang, te reinig en te verpak. So ook dankie aan VC Super Spar wat aan boord gekom het. AfriForum Brakpan-tak, julle is tops,” sê Mariëtte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Ek is grensloos opgewonde oor wat besig is om te gebeur. Ons Vader slaan ‘n reguit hou met ‘n baie krom stok! Kyk net wat is landswyd besig om te gebeur! Mense gee om soos nooit tevore nie! Hier in onse Tehuis Oude Meule in Riversdal maak ons vir mekaar vreugde. Bak vir almal pannekoek Bring die oues son toe en bak vir hulle vetkoek. Hulle vertel vir mekaar lagstories uit toeka se dae en tot die ou suurknolle begin skaterlag. Dis nie meer ek en my nie, dis ons en ons s’n! Ons klim in mekaar se skoene in – nee, ons klim in mekaar se velle in. Ons het rede om te jubel en juig want ons en ons geliefdes is in God se Vaderhand!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.