Goeie nuus: By POPUP ontvang jy nie net nie, jy léér

popup.pngPOPUP (People Upliftment Programme) is ʼn nie-winsgewende organisasie wat 14 jaar gelede tot stand gekom het. Hulle fokus is die opheffing van gemeenskappe, ongeag die ras of kultuur. Hulle het ʼn holistiese benadering wat nie net na die materiële behoeftes omsien nie, maar ook die fisiese, geestelike en emosionele welstand van die mense aanspreek.

In die eerste paar jaar van POPUP se bestaan het die skuiling wat hulle geskep het ongeveer 150 mense gehuisves. Intussen het POPUP uitgebrei en dienste soos ʼn mediese kliniek (POPMed), tandarts (POPDent) en ʼn dagsorg (POPKids) is op die been gebring.

Gedurende 2004 het die fokus van die program verander, om seker te maak  dat mense toegerus word om na hulself om te sien in plaas daarvan dat daar vir hulle gesorg word.

Tans bied POPUP nege SETA-geakkrediteerde en vyf nie-geakkrediteerde markverwante programme aan vir werkloses. Die tydsduur van die kursusse beloop tussen twee en 24 weke. Al die studente woon ook ʼn verpligte 10 weke persoonlikegroei-program (PGP) by. Die doel hiervan is om hulle lewens op koers te kry. Dié program rus hulle nie net toe met die nodige kommunikasievaardighede en doeltreffende tydsbeplanning nie, maar leer hulle ook dat hulle ʼn doel het in die lewe, wat uitvloei in die verandering van morele waardes en hul uitkyk op die lewe as geheel. Leerlinge wat opleiding by POPUP ondergaan betree die gemeenskap met die wete dat hulle op hul beurt ʼn verandering kan maak in die gemeenskap, by hul vriende en familie en ook in ʼn werksomgewing.

POPUP is ook betrokke by entrepreneurskapontwikkeling deur middel van die Project and Enterprise Development (PED). POPUP staan ook leerders by om hulle eie klein besighede op die been te bring. Gedurende die afgelope twee jaar het POPUP bystand gelewer met die registrasie van 21 SME’s as besighede. Gekose entrepreneurs is ook deel van ʼn een jaar ontwikkelingsprogram.  POPUP het onlangs ʼn MIV/Vigs-sentrum oopgemaak. Hier word persone getoets vir MIV/Vigs en berading word aangebied. POPUP se kosprogram verskaf weekliks kos aan tussen 500 en 600 mense, en POPKids sien om na ongeveer 77 kinders tussen een en ses jaar oud.

Dus, POPUP deel nie net brood uit nie, hulle leer mense om vis te vang. Daar is talle goeie nuus-stories vanuit die POPUP geledere: stories van mense wat absoluut geen hoop en selfwaarde gehad het nie, maar wat nou suksesvol is met dit wat hulle aanpak. Hulle het nie net ontvang nie, maar is geleer om na hulself om te sien en na diegene om hulle.

As jy by POPUP betrokke wil raak, kontak hulle gerus by 012 003 2008 of besoek hul webwerf.

  • Hierdie artikel vorm deel van Goeie Nuus-week, ʼn gesamentlike projek deur GrootFM, Maroela Media, Finesse, Popup (People Upliftment Programme) en Rekord. Van 17 tot 21 November plaas ons nie net die klem op goeie nuus nie – ons gaan soek ook goeie nuus wat jou warm om die hart sal maak. Klik hier om al die goeie nuus-artikels te lees wat ons reeds gepubliseer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.