Goeie nuus: Dít gee my hoop!

jeug_hoop_efegy_org.jpg

Foto: efegy.org

Iemand het eenkeer gesê, “Ek sal wees soos ‘n rubberbal, hoe harder die lewe my gooi, hoe hoër sal ek hop!”. Hoe wonderlik is dit nie wanneer iemand dit reg kry om uit moeilike omstandighede op te staan en al daai negatiewe energie om te sit in iets goeds nie.

Ons het ‘n paar sulke jongmense in ons Echo gemeenskap:

Natalia (skuilnaam) se ma was ‘n heroïenverslaafde en hulle het saam in ‘n skuiling vir haweloses op ‘n matras op die grond geslaap. Toe ons haar ontmoet was sy vir meer as ‘n jaar al nie skool in ‘n skool nie.

Sy het deel geword van ons Echo familie en in een van ons huise ingetrek. Dit was ‘n rowwe tyd en ‘n groot aanpassing – vir haar en vir ons! Sy moes deur baie moeilike dinge werk. Op ‘n manier het ons ‘n skool oortuig gekry om haar ‘n kans te gee in graad nege. Dit was al laat in die jaar, niemand van ons het verwag dat sy gaan slaag nie. Sy het ons almal verbaas en deurgekom.

Natalia is tans besig met haar matriek eindeksamen. Vroeër die jaar het sy op ‘n uitreik vir ons kom sê dat sy ‘n werk wil doen waar sy’n verskil kan maak in hierdie wêreld. Sy gaan volgende jaar ‘n sendingkursus doen en dan wil sy gaan studeer om of ‘n maatskaplike- of jeugwerker te word.

Themba Maluleke se ma is oorlede toe hy op laerskool was. Hy en sy twee klein sussies was skielik aan hulle eie genade oorgelaat en het in ‘n skuiling vir hawelose kinders beland. Themba sê hy was baie moedeloos en bang en het party oggende die koppie agter die skuiling uitgeklim om te gaan bid dat die Here sal ingryp in hulle lewens.

Themba (en later sy sussies) het uiteindelik by ons beland. Hy het dikwels vir my gesê dat hy eendag as hy groot is wil teruggaan na sy mense in die plakkerskampe en dat hy daar ‘n verskil wil maak.

Sy droom het waar geword. Vandag is Themba die bestuurder van THF Youth Development, ’n organisasie wat hulp bied aan jongmense in nood. Drie jaar gelede is Themba aangewys as “Suid-Afrika se jong ontwikkelaar van die jaar”, vir sy werk onder jongmense in nood.

Joshua was ‘n kindersoldaat in die Kongo. Een nag toe hy tien jaar oud was ‘n het ‘n klomp mans hom en ‘n paar kinders uit hulle stat ontvoer en in die volgende paar maande opgelei om oorlog te maak. Na ‘n jaar kon hy dit nie meer hou nie. Hy het geweet hy kan nie teruggaan na sy huis nie, want die soldate sou sy ouers doodmaak as hulle hom daar kry. Hy vlug toe oor die grens. Die volgende twee jaar het hy onder andere in ‘n vlugtelingkamp in Burundi en Malawi gebly. Later het hy saam met ander vlugtelinge al meer Suid beweeg. Toe hy ongeveer 13 jaar oud was het hy met sameloop van omstandighede in Pretoria aangekom. Hy kon net Frans en sy eie Kongolese dialek praat en het as ‘n straatkind geleef. Later is hy ingeneem in ‘n skuiling vir straatkinders waar hy leer Engels praat het. Hy het begin skoolgaan en gou bo verwagting akademies en op sportgebied begin presteer.

Mense van ons Echo gemeenskap het hom op ‘n  uitreik ontmoet. Joshua het ‘n paar jaar later in een van ons huise ingetrek en deel geword van die Echo familie.

Hy is twee jaar gelede verkies op die leerlingraad van sy skool en het verlede jaar matriek met vrystelling geslaag. Iemand het hom ‘n beurs aangebied en Joshua is tans besig met ‘n graad in politieke wetenskap. Hy is ‘n toegewyde Christen, nederig en hardwerkend – die tipe leier wat Afrika broodnodig het.

Daar is nog baie stories. Ook hartseer stories van jongmense wat teruggeval het. Van ons jongmense het weer betrokke geraak in dwelms of by misdaad. Maar hulle stories is nog nie verby nie! Daar is altyd hoop.

As volgelinge van Jesus word ons geroep om jongmense in nood geleenthede en ondersteuning te gee – ‘n nuwe geestelike familie – maar op die ou einde is die bal in hulle hande.

As daar een ding is wat ons besig is om te besef, is dit dat almal baie het om by hierdie jongmense te leer.

Jaco is betrokke by ECHO, ’n geloofsgemeenskap wat geleenthede en ondersteuning bied aan jongmense in nood en probeer om weer die eenvoud van kerkwees te herontdek. Hy skryf rubrieke vir onder andere Beeld en Kerkbode. Vir meer inligting, besoek gerus ECHO Jeugontwikkeling.

 
  • Hierdie artikel vorm deel van Goeie Nuus-week, ʼn gesamentlike projek deur GrootFM, Maroela Media, Finesse, Popup (People Upliftment Programme) en Rekord. Van 17 tot 21 November plaas ons nie net die klem op goeie nuus nie – ons gaan soek ook goeie nuus wat jou warm om die hart sal maak. Klik hier om al die goeie nuus-artikels te lees wat ons reeds gepubliseer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Estelle ·

gewoonlik as mens die koerante oopmaak is dit moord en dood! dit is so lekker om iets positiefs te lees! WELL DONE ECHO!!

Griet ·

Staan op manne en vroue, hier stap ‘n GROOT man verby….

Jaco, Mag jy en die organisasie oorvloedig geseën word tot in lengte van dae!

Paula Fourie ·

Dis wonderlik om al hierdie positiewe berigte te lees. As mens meer sulke berigte in koerante en tydskrifte kan lees, sal mense besef daar is nie net sleg wag gebeur in die lewe nie, maar so baie goeie dinge ook. Kan ons nie vir altyd maar goeie berigte ook kry in die koerante nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.