Goeie nuus: Helpende Hand bewaarheid 30 Kerswense

Helpende-Hand-se-30-Kerswense-spesiale-skool

Helpende Hand het ‘n spesiale onderrigklas geborg met ‘n opvoedkundige klasuitstappie waar die kinders ondermeer mosaïek gemaak het en die nasionale museum in Bloemfontein besoek het. Foto: Verskaf.

Solidariteit Helpende Hand het hierdie maand ʼn projek van stapel gestuur waar die organisasie vanaf 10 November tot 10 Desember 30 Kerswense ter waarde van ʼn R1 000 elk sal bewaarheid.

Dit is alles ter viering van die organisasie wat einde Oktober hulle 30 000-ondersteuner mylpaal bereik het. “Ons gee ons ondersteuners die vermoë om 30 Kerswense te bewaarheid deur iemand te nomineer wat ʼn droom het hierdie Kerstyd. Dit kan iemand wees wat by hulle familie wil gaan kuier, ʼn kind wat ʼn fiets benodig of selfs ʼn sopkombuis wat dringend nie-bederfbare produkte benodig,” het Michelle Burger, organiseerder van dié projek, gesê.

Tot dusver het Helpende Hand gesorg dat tien behoeftige bejaardes van Bethal ʼn stel splinternuwe stel nagklere ontvang. Met ʼn ander Kerswens het Huis Hoop van Bloemfontein, ʼn versorgingsoord vir verswaktes en gestremdes, ook R1 000 ontvang vir die aankope van vleis wat die inwoners oor Kerstyd kan geniet.

ʼn 30-jarige man is vroeër die week deur sy vriende genomineer vir die Kerswense-projek omdat hy tans finansieel omsien na sy ma wat in ʼn rolstoel is en sy sussie wat hierdie jaar matrikuleer. Hy sukkel self met mediese probleme, maar dit kry hom egter nie onder nie. Sy grootste wens was om sy familie na Sun City se Valley of the Waves te neem. Helpende Hand het hierdie wens bewaarheid deur ʼn daguitstappie vir die hele gesin na Sun City te borg.

Verder is nog ʼn Kerswens verwesenlik toe ʼn spesiale onderrigklas van ʼn skool in die Vrystaat met 12 kinders ook ʼn geborgde opvoedkundige klasuitstappie ter beloning van hulle harde werk deur die jaar gekry het. Hierdie klas ontvang geen subsidie van die onderwysdepartement nie en die meeste van die kinders sukkel met konsentrasieprobleme en epilepsie, wat beteken hulle kan nie soos ander kinders in hoofstroomklasse wees nie.

“Ons nooi die publiek en ons ondersteuners uit om ʼn instansie of individue nomineer wat regtig ʼn Kerswens hierdie jaar benodig. Help ons om hierdie Kersfees ʼn verskil te maak,” het Burger gevra.

Lesers wat ʼn persoon of instansie wil nomineer vir die 30 Kerswense-projek kan hulle nominasie plaas op Helpende Hand se webblad by helpendehand.co.za/30kerswense. Die projek kan gevolg word by Helpende Hand se Facebook-blad of deur die hutsmerk #30Kerswense op sosiale media te volg.

Hierdie artikel vorm deel van Goeie Nuus-week, ʼn gesamentlike projek deur GrootFM, Maroela Media, Finesse, Rekord en PopUp (People Upliftment Program). Van 17 tot 21 November plaas ons nie net die klem op goeie nuus nie – ons gaan soek ook goeie nuus wat jou warm om die hart sal maak. Klik hier om al die goeie nuus-artikels te lees wat ons reeds gepubliseer het. 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.