Goeie nuus: Jong skrywer maak geskiedenis

Sisca Julius Foto: Verskaf deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Sisca Julius Foto: Verskaf deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Sisca Julius (18) is pas aangewys as die Nasionale Wenner: Prosa en Poësie in die kreatiewe Poort-skryfkompetisie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Wat Sisca se prestasie nog meer lofwaardig maak: dit is die eerste keer in 45 jaar dat ʹn kandidaat in beide genres as nasionale wenner uittree! Hierdie kreatiewe jong skrywer het ook in 2013 én in 2014 haar skryftalent reeds bewys deur as Nasionale Wenner: Prosa in die RSA en Namibië uit te blink. Hierdie skryfkompetisie word al vanaf 1970 aangebied.

Sisca wen met hierdie merkwaardige dubbellopie in die skryfkuns die PUK Kanselierstrust-prys dus tweemaal, vir beide genres, prosa én poësie. Hierdie prestigetoekenning word deur die Noordwes-Universiteit geborg. Sy sal haar prys(e) op Vrydag 2 Oktober 2015 tydens die Bekroningsfunksie van die SA Akademie in Pretoria ontvang.

Sisca was in 2014 in matriek aan die Hoërskool Noord-Kaap, Kimberley. Sy het in 2014 gedurende die Julievakansie die Skrywer-Slypskool van drie dae wat die SA Akademie in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat aangebied en geborg het, bygewoon.

Een van die vier nasionale keurders, prof. Thys Human van NWU, het in sy verslag die volgende gesê: “Haar werk getuig van ‘n besondere fyn waarnemingsvermoë; ‘n vertroudheid met die wêreld en mense waaroor daar geskryf word; ‘n byna intuïtiewe aanvoeling vir die epiese moontlikhede van karakteropenbarende dialoog en ‘n slim balans tussen humor en erns. Dit is ‘n verhaal waarin ‘n omgangsvariëteit van Afrikaans nie vir die ‘aardigheid’ daarvan aangewend word nie, maar veel eerder ten einde sosio-kulturele kommentaar te lewer. Die gebruik van aktuele en literêr-ingeligte verwysings verleen verdere trefkrag aan die verhaal. Ek wil graag glo dat Sisca Julius nog ‘n belangrike nuwe stem in die Afrikaanse letterkunde gaan word.”

Hiermee Sisca se twee wenbydraes:

Poësie:

Hamartia

om te dig
was om vlees aan siel geweef te hou
en om jou lief te hê
my daaglikse brood

nou lek my bladsy leeg
aan inkkolle, die datum,
die niks
my pen wil nie lewe skep nie

afsydige alliterasie
en enjambement vereenselwig
hulle nie meer met my nie
en rympatroon troos nie

nou hys ek die wit banier
van my papier,
ek gee op
breek my pen in twee want

om te dig
was áltyd om jou lief te hê
ek kort ‘n reël
wat nou?

Prosa:

Vandag se vrou wil haar man staan en haar man laat staan

“Som dinge was gemaak met die intent om geverloor te word dat die loss van dit geen disaster is nie.” Só sê daai poet-vrou mos. Ai, jirre, was dit nou vir jou ‘n disaaaaaster!

Daai vrou het my ‘n popeye gemaak.

Ken jy wat is elke week R60 Vodacom koop vir daai kind? Bos blomme goed. Toe hou ek my so romantic soos die Jirre dit wil hê nie. As ons op die hoek by die kragboks gaan blom, dan vat ek vir haar vetkoek, koop Chappies. Heel romantic, man.

En die meisie, sy like daai poem chandies. As man wil impress da, moet ek saam lees en later toe recite ek ook al: “My allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif, want niemand sal iets skiet wat rooi is nie. Ek gooi hom hoog in die lug en die jagters sal dink dis die son”.

Da hoop en bid ek die ouens hoor nie, want dan hoor ek nou weer ek is ‘n moffiegat. Hulle sê reeds ek’s onderdanig aan die panty squad.

Nou, ek het nie ‘n flop met ‘n vrou wat haar man kan staan nie. Sy moet net nie op my kop wil staan nie, want my spikes gaan plat word en gel is duur, man. En ek gebruik nie Easy waves nie, ek gebruik Studio 8.

Maar julle verstaan nie. Ek’s nie hartseer oor sy my gelos het nie. Ek’s hartseer oor die way sy my gelos het.

Ek en my braskap stap nog so aan oor die stowwerige strate, geduldig, gedienstig, gedwee… hier kom die kind. En sy lyk wet! Hare natglad, uitgeblow, carvellos, stywe jean. Die ouens maak ‘n sirkel om haar, hier breek sy uit: “Ek gaan nou ernstig wees met jou: jy’s nie mature genoeg vir my nie”.

Bra, my hart en my plak was morsaf. Daai aand lees ek sommer haar poem-nonsens van die hartseer. “Karteer die kraters, dis verby, dis verby, dis…” Jy moet ken, ek het daai kind alles gegee, tot my blou Tapout hoodie. Ek is sommer lus en ek gaan baklei daai vroumens. Maar ek is maer, ek kan nie loop baklei soos ‘n mens wat medical aid het nie.

Oukei, is nou verby. Ons liefde het gesterf met die oggendstond en ek moet maar begrawe, bleek en stom. Ek het my eie poem geskryf, sorry Eybers en Opperman, vir die crap

“liefde het gevrek
in die dinosaur se bek”

En ek gaan wys more daai myt wat is immature. Ek loop haal my lucky sherbet ring en my fake necklace.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Helene Viljoen ·

Baie geluk! Dit is voorwaar ‘n merkwaardige prestasie. Ek sal uitkyk vir jou in die toekoms – ek is mal oor lees en jy kan ‘n storie so mooi vertel dat ‘n mens dit voor jou oë sien afspeel terwyl jy dit lees.

Anneke Louw ·

Baie geluk met hierdie groot prestasie Sisca. Ek glo dat jy duisende ander jongmense gaan inspireer. Ons het juis nou die mooie en kreatiewe in ons samelewing broodnodig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.