Goeie nuus: Jong Stellenbosser op pad na NASA

Conrad Sidego, uitvoerende burgemeester van Stellenbosch gesels met Alet-Mari van der Merwe oor haar komende reis na NASA in Houston, Texas Foto: Stephanie Nieuwoudt

Conrad Sidego, uitvoerende burgemeester van Stellenbosch gesels met Alet-Mari van der Merwe oor haar komende reis na NASA in Houston, Texas Foto: Stephanie Nieuwoudt

Sy het nie gedink sy sou eendag met ruimtevaarders by NASA skouers skuur nie.

Maar op 24 Julie vetrek Alet-Mari van der Merwe (17), ’n graad 11-leerder aan die Hoërskool Stellenbosch vir twee weke na  Houston, Texas waar sy aan NASA se United Space School-program by die Johnson Ruimtesentrum sal deelneem. Sy is een van net twee Suid-Afrikaanse leerders wat vir die program gekies is. Die ander deelnemer is Antoni Meyer, ’n leerling van Paarl Gimnasium.

“Dit gaan ’n ongelooflike ervaring wees. Daar sal leerders van 24 lande wees en ek weet ek gaan baie by elkeen van hulle kan leer. Ons moes ook vyf uitdagende werkstukke voltooi. Hieruit het ek reeds baie geleer – en dit nog voordat ek in Amerika is,” sê Alet-Mari.

Sy en haar ma, Renata,  het Dinsdagmiddag (14 Julie 2015) saam met Conrad Sidego, uitvoerende burgemeester van Stellenbosch in sy kantoor tee gedrink.

“Jou NASA-ervaring is ’n geleeentheid wat ook gelyktydig ’n blitskursus is in menswees,” het Sidego gesê. “Jy gaan terugkeer met ’n wye perspektief en jy gaan met ander oë na jou skool, jou dorp en die wêreld kyk.”

Alet-Mari sê dit was vir haar ’n openbaring om te besef hoeveel verskillende loopbaanmoontlikhede by NASA is.

“Daar is onder meer ruimtevaarders, ingenieurs, medici, wetenskaplikes en webontwerpers. Mense in al hierdie dissiplines gaan vir ons lesings aanbied. Al die leerders sal ook aan ’n groot projek met die tema Manned Mission to Mars werk. Die vyf take wat ons gedoen het, het bepaal in watter groep ons geplaas sal word. Elke groep sal volgens sy vaardighede tot die projek bydra.”

Antoni Meyer (16), wat in Melkbosstrand woon, het al in graad 4 besluit hy wil ‘n lugvaart-ingenieur word.

“Hierdie program sal my tot binne-in NASA neem en dit is ‘n geleentheid om van naderby te sien presies wat ek eendag sal doen,” sê hy. “Dit gaan nie daaroor om die topleerder te wees nie, maar oor jou passie. Daar is ander leerders in my skool wat akademies veel beter vaar as ek, maar hulle het nie dieselfde passie nie.”

Maar vanwaar die besluit om aansoek te doen vir hierdie program?

“Ek het adv Wida du Plessis, wat deur die Young Wings Project in Suid-Afrika keuring doen vir die program ontmoet en ek en sy het ure lank met mekaar gesels. Sy het my geïnspireer,” sê Alet-Mari.

Sy sê sy het dit nie voorheen oorweeg om in die ruimte te reis nie, maar nadat iemand onlangs vir haar gevra het of sy dit wil doen, is dit iets wat in haar agterkop talm.

“Dalk besluit ek ook om eendag Mars toe te gaan,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.