Goeie nuus – jy kan weer in Afrikaans studeer!

Akademia

Die afgelope paar jaar het die een terugslag ná die ander die Suid-Afrikaanse universiteitswese getref. Die #feesmustfall-studentebetogings het groot opslae gemaak, met talle geskiedkundige geboue, standbeelde en landmerke op universiteitskampusse wat afgebrand en gevandaliseer is. Stakings het klasse vir lang tydperke lamgelê. Boonop het verskeie van die voormalige Afrikaanse universiteite stappe gedoen om gedeeltelik of in geheel weg te doen met Afrikaans as onderrigtaal.

Dis waarskynlik laasgenoemde wat die seerste hou geslaan het.

Maar glo dit of nie – daar ís goeie nuus. Terwyl chaos op kampusse geheers het, het ʼn nuwe tersiêre instelling, Akademia, stil-stil sy verskyning gemaak en stadig maar seker gegroei. Nou, sewe jaar later, is daar honderde Afrikaanse studente wat aan Akademia studeer, met ʼn hele klomp kwalifikasies om uit te kies en ʼn rits grade, diplomas en ander kursusse wat binnekort beskikbaar gaan wees.

Akademia is boonop méér as net ʼn nuwe heenkome vir studente wat in Afrikaans wil studeer: Dis gerat om werkendes die geleentheid te gee om te studeer terwyl hulle werk. En boonop kan studente by dertien studiesentrums reg oor die land en in Namibië aanmeld om na-ure klas te draf met behulp van Akademia se interaktiewe digitale studiesentrums. Binne drie jaar spog Akademia boonop met ʼn regte, egte kampus vir studente wat voltyds wil studeer en ʼn kampuslewe, klasdraf en koshuiskultuur wil beleef. En die uiteindelike mikpunt, nie te ver in die toekoms nie, is ʼn kampus wat 6 000 studente in 40 studierigtings sal kan akkommodeer.

Daar ís hoop vir Afrikaanse universiteitswese.

akademia-gradeplegtigheid-2017-04-07

Van die studente wat in April 2017 van Akadmia se eerste grade ontvang het. Foto: Jhua-nine Wyrley-Brich/Forumnuus

Gehalte-onderrig vir die Afrikaanse gemeenskap

Die wêreldbekende ekonoom en Nobelpryswenner Milton Friedman het gesê dat ʼn goeie kwalifikasie die belegging met die hoogste opbrengs is wat jy ooit kan maak. Geen aandele, eiendom of enige ander belegging klop die opbrengs van ʼn goeie kwalifikasie nie. Dít is die saadjie waaruit Akademia ontkiem het.

Dié saadjie is sewe jaar gelede geplant toe Akademia in 2012 sy deure oopgemaak het met 40 studente wat uit vier kwalifikasies kon kies. Die studentegetalle het die daaropvolgende jare elke jaar bykans verdubbel en staan tans op 850. Vier BCom-graadkwalifikasies en een in die geesteswetenskappe word tans aangebied, asook twee hoër sertifikate en ʼn gevorderde diploma. Nog ʼn hele rits kwalifikasies is in die pyplyn.

Marthinus Visser, Akademia se besturende direkteur, vertel dat daar in 2010 met navorsing en beplanning vir ʼn akademiese aanbod vir die Afrikaanse gemeenskap begin is. “In daardie stadium was dit reeds duidelik dat veranderinge by hoëronderwysinstellings Afrikaanse deelname sou knou en dat die Afrikaanse gemeenskap ʼn eie instelling in die toekoms sou nodig kry. Afgesien van die taalkwessie was dit veral belangrik om ʼn instelling op die been te bring wat die Afrikaanse gemeenskap se breë lewensbeskouing sou omhels en tot voordeel van die gemeenskap sou strek,” sê hy.

Hoewel Akademia klein begin het, het die instansie groot planne, wat met finansiële bystand van onder meer die Virseker Trust gaan realiseer. Die Trust het reeds miljoene aan Akademia en ander instellings geskenk om tersiêre onderrig van gehalte vir Afrikaanse studente moontlik te maak.

Werk en studeer om te floreer

Visser verduidelik dat Akademia ingerig is om veral toeganklik te wees vir jong mense wat in Afrikaans wil studeer terwyl hulle werk. Na-uurse klasse word by 12 interaktiewe studiesentrums landswyd en een in Namibië aangebied en ʼn nuwe blokrooster, wat in 2019 in werking tree, maak dit ook vir studente wat meer as 80 km van ʼn studiesentrum af woon moontlik om ʼn kwalifikasie deur Akademia te verwerf. Die kontaksessies van albei roosters word opgeneem en op Akademia se digitale leerruimte, die Spens, beskikbaar gestel om sodoende dubbele ondersteuning aan studente te bied.

“Akademia se klasgeld is nie net veel laer as dié van ander universiteite nie, maar studente kan hul studies finansier deur ʼn werk te kry en so hul inkomste aan te vul. ʼn Betrekking help die student ook om die akademie makliker te bemeester – hetsy weens die ondervinding wat dit bied of bloot net omdat werk selfdissipline en selfverantwoordelikheid bevorder,” sê hy.

Dit verg baie dinkwerk om te bepaal watter kwalifikasies ontwikkel en aangebied moet word. Een van die grootste oorwegings is juis dat die kwalifikasies jong mense se geleenthede om toegang tot die arbeidsmark te kry, baie moet verbeter. “Soos dit nou is probeer ongeveer ʼn miljoen mense met ʼn graad 12- of laer kwalifikasie elke jaar die Suid-Afrikaanse arbeidsmark betree. Die mededinging is straf. ʼn Mens verhoog dus jou kanse op ʼn goeie werk dramaties deur ʼn goeie kwalifikasie te bekom. Akademia doen ook baie moeite om werksgeleenthede vir ons werksoekende studente te vind,” sê Visser.

Sommige werkgewers heg egter meer waarde aan ervaring as aan boekekennis. Akademia-studente kan hierdie wenkombinasie tegelykertyd verwerf, omdat hulle kan werk terwyl hulle studeer.

 Marthinus-Visser-Akademia.jpg

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia

ʼn Toekomstuiste vir werkendes én skoolverlaters

Akademia is hard aan die werk om sy programaanbod vir werkendes verder uit te brei met kwalifikasies wat dié mark graag wil bekom. ʼn BCom Rekeningkunde, BCom Wiskunde en Ekonomie, LLB en ʼn hele aantal nagraadse diplomas is reeds ontwikkel en tans in die proses om geakkrediteer te word. ʼn MBA word ook vir die toekoms beplan.

Teen die agtergrond van die verwikkelinge by openbare universiteite meen Visser dit het belangrik geword dat Akademia, bykomend tot die oplossing vir werkende studente, ook ʼn oplossing vir skoolverlaters bied. Daarom word ʼn kontakmodel met die gepaardgaande kampus waar studente voltyds kan studeer, ontwikkel.

“Ons planne hiermee is ver gevorder en as alles klopdisselboom loop, kan ons teen 2021 daarmee begin. ʼn Kampus word reeds vir hierdie doeleindes gehuur en die kwalifikasies wat ons daar wil aanbied is reeds vir akkreditasie ingedien. Hierdie kampus in Centurion is die eerste fase van ons planne vir ʼn kontakmodel. Ons is ook reeds besig om aan ʼn groot kampus te beplan waar sowat 6 000 studente in ongeveer 40 kwalifikasies voltyds sal kan studeer. Hierdie kwalifikasies sal in sewe fakulteite aangebied word, naamlik Bestuurs- Natuur-, Geestes- Opvoedkundige, Regs-, Gesondheids- en Ingenieurswetenskappe,” sê hy.

Die Virseker Trust is ʼn belangrike vennoot in dié projek, wat Akademia finansieel bystaan om die droom van ʼn kampus te laat realiseer. Virseker skenk elke maand ’n persentasie van Virseker-kliënte se premies aan die Trust met die doel om Afrikaans te bevorder en te versterk. Op dié manier dra elke polishouer rand vir rand by tot die gehalte-onderrig wat in Afrikaans by Akademia aangebied word.

Daar bestaan wêreldwyd baie minder werksgeleenthede as wat daar mense is wat graag wil werk. Nog meer so in Suid-Afrika. Die ander kant van die munt is dat daar opsies is vir diegene wat oor goeie kwalifikasies beskik. Vir diegene wat die besluit neem om ʼn belegging in hul toekoms te maak deur te studeer, staan Akademia gereed. Visser beklemtoon dat dié hoëronderwysinstelling se personeel, onderrigleermodel, ervaring en ingesteldheid daarop gerig is om die studente se potensiaal te ontsluit en hulle op hul loopbaanpad te begelei.

  • Maroela Media en die Virseker Trust werk saam om Afrikaanse onderwys en ander Afrikaanse inisiatiewe te ondersteun. Kry ʼn verpligtingvrye Virseker-kwotasie.
  • Virseker is ʼn produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy, ʼn gemagtigde finansiëlediensteverskaffer. B’s & V’s geld. (FDV-lisensienommer: 16354)

Wen ʼn bootreis!

Neem deel aan Maroela Media se kompetisie en staan ʼn kans om ʼn bootreis saam met Groot FM te wen. Bepalings en voorwaardes geld. Lees meer.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.