Goeie nuus: ‘n Hupstoot vir studie in Afrikaans

Argieffoto

Argieffoto

Ruim finansiële steun vir doktorsgraadstudente wat hulle proefskrifte in Afrikaans wil skryf, word deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in die vooruitsig gestel.

Die Akademie begin met ‘n beursprogram wat deur doktorsgraadstudente by enige universiteit in Suid-Afrika in enige vakdissipline benut kan word. Meestersgraad¬studente sal later by die program ingesluit word.

“Met hierdie program word gevorderde studente aangemoedig om hulle wetenskaplike werk in Afrikaans te onderneem,” het dr. Dionē Prinsloo, hoof uitvoerende beampte van die SA Akademie, gesê. “Daar is ‘n toenemende gebruik om proefskrifte en ander akademiese uitsette in Engels te skryf. Tog behoort daar genoeg geleentheid vir studente te wees om as Afrikaans-moedertaalsprekers ook hulle gevorderde studie in Afrikaans te onderneem.”

Die Akademie se beurseplan is ‘n poging om ‘n alternatief vir dié neiging te bied deur finansiële steun te gee.

‘n Uitnodiging aan Doktorale en Postdoktorale studente
Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns nooi doktorale en postdoktorale studente om vir beurse in enige vakdissipline aansoek te doen. Die vereiste is dat die proefskrif in Afrikaans moet wees, en wat die postdoktorale kandidate betref, twee artikels in Afrikaans in geakkrediteerde tydskrifte moet verskyn. Doktorale en postdoktorale studente kan by enige Universiteit studeer maar moet Suid-Afrikaanse burgers wees.

Die toekennings is vir twee kategorieë:

• Studente wat besig is met die eindfase van hulle doktorale studie kan vir ‘n toekenning kwalifiseer. ‘n Begroting vir redelike koste wat aangegaan moet word om die betrokke studie binne ‘n spesifieke termyn te voltooi, moet die aansoeke vergesel.
• Enkele beurse is tot ‘n maksimum van R120 000 vir een jaar (1 Januarie 2016 tot 31 Desember 2016) vir postdoktorale studente beskikbaar. ‘n Student moet voltyds aan ‘n postdoktorale program deelneem.

Meer inligting kan by Melanie Rens by [email protected] of tel. 086 133 3786 verkry word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.