Goeie nuus: Tegnologie help onderwyser ná ernstige besering

Wouda Muller by die visualiseerder wat deur Solidariteit Helpende Hand geskenk is en haar in staat sal stel om gemaklik te kan klas gee. Foto: Helpende Hand (verskaf aan Maroela Media)

Wouda Muller by die visualiseerder wat deur Solidariteit Helpende Hand geskenk is en haar in staat sal stel om gemaklik te kan klas gee. Foto: Helpende Hand (verskaf aan Maroela Media)

’n Onderwyser wat werwels in ’n perdry-ongeluk gekraak het, is onlangs deur moderne tegnologie in staat gestel om weer haar passie vir die onderwys uit te leef.

Wouda Muller, ’n graad 1-onderwyseres by Hoërskool Wilgerivier in die Vrystaat, het ’n interaktiewe visualiseerder en projektor ter waarde van R12 000 van Solidariteit Helpende Hand ontvang. As gevolg van haar besering is Muller se taak in die klaskamer aansienlik bemoeilik en was tegnologie haar enigste kans om weer gemaklik te kan klas gee.

Helpende Hand se Skole-ondersteuningsentrum (SOS) bied op verskeie maniere ondersteuning aan Afrikaanse onderwysers oor die land heen en het dadelik ingespring om Muller te help.

’n Visualiseerder is ’n hoëresolusie-kamera op ’n staander wat aan ’n projektor gekoppel word om ’n beeld lewensgroot teen ’n skerm te vertoon. ʼn Onderwyser kan enige iets van boeke tot driedimensionele voorwerpe onder die kamera sit om dit teen die skerm te vertoon. Die kamera kan ook video’s maak van die lesse wat aangebied word.

V.l.n.r. Francois de Klerk, voorsitter van Hoërskool Wilgerivier beheerraad, Wouda Muller en Gerrie Coetzee, skoolhoof  (Foto aan Maroela Media verskaf deur Helpende Hand)

V.l.n.r. Francois de Klerk, voorsitter van Hoërskool Wilgerivier beheerraad, Wouda Muller en Gerrie Coetzee, skoolhoof (Foto aan Maroela Media verskaf deur Helpende Hand)

“Die SOS is daarop ingestel om onderwysers se taak in die klaskamer te vergemaklik en die gehalte van onderwys in Suid-Afrika te verbeter,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand. “Hierdie hulp is meestal in die vorm van opleiding, kongresse en kursusse, maar soms is dit in die vorm van praktiese bystand, soos om moderne tegnologie te gebruik om ’n onderwyser in staat te stel om klas te gee. Wouda Muller is die toonbeeld van ’n onderwyser wie se hart en siel in die onderwys is en dit is ’n voorreg om haar op hierdie manier by te staan.”

Gerrie Coetzee, hoof van Hoërskool Wilgerivier, sê dat dit vir die skool noodsaaklik was om die puik diens wat Muller lewer, te behou. “Sy is ’n skitterende onderwyseres wat die Godgegewe talent ontvang het om met jong kindertjies te kan werk en ’n mens vervang nie maklik so ’n persoon in vandag se onderwysstelsel nie,” het Coetzee gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.