Goeie nuus: Triomf-kliniek gaan van krag tot krag

Triomf-kliniek

Triomf-kliniek verskaf mediese dienste aan behoeftige Afrikaanssprekendes in die weste van Pretoria. Foto: Atterburytrust.org

Sedert die Triomf-kliniek byna sewe maande gelede sy deure geopen het, het die lys van dienste wat hier gratis aan pasiënte in die Danville-omgewing in die weste van Pretoria aangebied word, goed uitgebrei.

Dié kliniek is die breinkind van ʼn groep medici van Pretoria, wat beoog om vir behoeftige Afrikaanssprekende-inwoners van die omgewing, kwaliteit mediese behandeling verniet te gee.

Atterbury Trust het met die klinieksuster, Adelene Boshoff, gesels om meer oor die nuwe dokters in die span en uitgebreide dienste uit te vind. “Ons het nou reeds tien dokters in die span, wat bestaan uit drie dermatoloë, drie oor-neus-en-keelspesialiste, ʼn ginekoloog, internis, rumatoloog en ʼn algemene praktisyn. Ons wag nog vir bevestiging, maar pasiënte sal binnekort ook ʼn tandarts met ʼn mobiele kliniek kan besoek en ʼn psigiater en oogspesialis sal ook by die lys van dienste gevoeg kan word. Al wat die Triomf-kliniek dan kort is ʼn teater,” het Adelene gesê.

Pasiënte kry ook gratis x-strale by Medicross in Pretoria-Wes en hulle beoog om ook sonar-fasiliteite by die lys van dienste te voeg. Lancet analiseer bloedtoetse, papsmere en die histologie op moesies en ander velgroeisels sonder enige kostes aan die pasiënte van Triomf. Kansa werk saam met die kliniek se dermatoloë wanneer pasiënte velondersoeke vir kanker moet ondergaan.

“Triomf-kliniek word steeds op ʼn afspraakbasis bedryf want die dokters is nie voltyds werksaam by die kliniek nie,” verduidelik Adelene. Pasiënte moet ook eers ʼn verwysing kry van organisasies soos die Christelik Maatskaplike Raad, Solidariteit Helpende Hand of ʼn deelnemende skool in die omgewing waarna hulle die kliniek skakel en ʼn afspraak kan maak om die betrokke dokter te sien wanneer hulle weer die kliniek besoek.

“Ons het al byna 154 pasiënte gehelp sedert die kliniek in Augustus 2014 oopgemaak het. Baie van die pasiënte moet die kliniek herhaaldelik besoek, maar daar is al hoe meer nuwe pasiënte, en daar is altyd plek vir nog,” het Adelene verder gesê.

Die Triomf-kliniek se skedule lyk tans so:

  • Algemene praktisyn: Maandagoggend om 09:00 (indien nodig verwys die dokter ʼn pasiënt na spesialiste)
  • Internis: Donderdagmiddag om 13:00
  • Ginekoloog: Elke drie maande
  • Rumatoloog: Een keer per maand
  • Dermatoloë: Elke drie maande
  • Oor-neus-en-keelspesialiste: Elke drie maande

Skakel Adelene Boshoff by 012 327 7818 vir meer inligting oor die Triomf-kliniek se dienste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theresa Papenfus ·

Pragtige inisiatief. En om eerlik te wees, ek is nie eens verbaas nie; mens raak al gewoond aan julle gewoeker. Baie geluk, en baie dankie. .

Retha ·

Trots op julle. Baie dankie. Hoop net nie iemand gaan hulle daar inwurm nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.