Goeie nuus vir Aardklop

Aardklop (Foto: Verskaf)

Aardklop (Foto: Verskaf)

Die Aardklop Nasionale Kunstefees is hier om te bly.

Dié Potchefstroomse kunstefees, wat vanjaar tussen 4 en 9 Oktober plaasgevind het, was ʼn dawerende sukses ten spyte van die aanvanklike aankondiging dat die fees nie weer gehou sal word nie.

Alexa Strachan, feesbestuurder, het Woensdag in ʼn verklaring gesê die fees sal volgens die unieke model waarmee hy binne ʼn rekordtydperk beslag gekry het, bly voortbestaan. Sy sê daar sal egter “logiese verfynings en aanpassings” gemaak word.

“Die fees erken die onskatbare rol wat die Aardklop-belanghebbendes, die borge, die kunstenaarsgemeenskap, die Stadsraad van Tlokwe, die Noordwes-Universiteit, en die ganse gemeenskap van Potchefstroom gespeel het ten einde Aardklop 2016 ʼn suksesvolle werklikheid te kon maak,” het sy gesê.

“Saam met hierdie rolspelers wil Aardklop hom opnuut vestig as ʼn rigtinggewende nasionale kunstefees. Die direksie en feesbestuur sal vroeg in 2017 sy strategie en artistieke beleid saamstel, met die klem op die volhoubaarheid van die fees, ten einde ʼn dinamiese platform vir die kunste te vestig. Die verdere ontginning van die fees se rol in die groter Potchefstroomse gemeenskap sal ook prioriteit geniet.”

Die datums vir die fees in 2017 is ook bekendgemaak.

Só lyk die datums:

  • Maandag 2 Oktober tot Saterdag 7 Oktober – Visuelekunste-program
  • Dinsdag 3 Oktober tot Sondag 8 Oktober – Produksies
  • Dinsdag 3 Oktober tot Saterdag 7 Oktober – Kuns- en kosmark

Alle aansoekvorms sal in Januarie beskikbaar gestel word. Die sluitingsdatums vir dié aansoeke is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.