Goeie nuus vir Leserskring-boekwurms

Foto: Facebook/Leserskring

Foto: Facebook/Leserskring

Die bekende boekklub Leserskring, wat al sedert 1980 boeke aan mense dwarsoor Suid-Afrika verskaf, sal vanjaar in Augustus weer volstoom aan die gang wees nadat dit deur ʼn verspreidingsmaatskappy, IMD Logistics, by Media24 gekoop is.

Dié aankondiging is gister gemaak en volgens Lana Barnett, uitvoerende hoof van Leserskring, is hulle baie opgewonde oor die toekoms. “Ons het reeds soveel terugvoer van lede ontvang wat net absoluut oorstelp is van vreugde,” het sy aan Maroela Media gesê.

Leserskring het in Januarie vanjaar aangekondig sy deure sluit weens ʼn besluit wat in Desember 2015 deur Naspers geneem is.

Barnett sê IMD Logistics het dadelik laat weet hulle stel belang om die maatskappy te koop toe sy ʼn brief aan hul verskaffers gestuur het om hulle in kennis te stel die maatskappy sal nie meer handel dryf nie.

“Hierdie Engelse onderneming het gesê Leserskring is ʼn erfenishandelsnaam en hulle stel belang om dit te koop.”

Leserskring het sy laaste katalogus in Januarie vanjaar uitgegee en einde Maart sy bedrywighede gestaak. Barnett, wat al 25 jaar by Leserskring is, meen die besluit om Leserskring te sluit, het hulle onkant gevang. “Ons was uit die veld geslaan toe ons die nuus gekry het. Ons het soveel planne vir Leserskring gehad. “

Barnett sê toe die nuus bekend gemaak is, is hulle oorval met kommentaar van lede wat kwaad en hartseer was. Leserskring is deur ʼn moeilike tyd die afgelope jaar weens poskantoorstakings, wat dit byna onmoontlik gemaak het om boeke by lesers te kry.

Leserskring het reeds meer as 40 miljoen boeke verkoop aan ongeveer 120 000 lesers. Barnett sê hoewel hulle van hul lesers verloor het, is daar groot dinge op pad.

“Dis ongelooflik lekker om met ʼn kleiner maatskappy te werk en IMD Logistics is so gretig en vol idees. Ons gaan die besigheid soos ʼn nuwe onderneming bedryf – ons gaan die hele onderneming moderniseer.”

Geen buitepersoneel is aangestel nie en Barnett sê hulle is ʼn span van ongeveer 30 wat vuur en vlam is. Die oorspronklike span het uit 67 mense bestaan.

“Aangesien Leserskring nuwe lewe gekry het, kan ons gelukkig van die personeel behou.”

Elmari Rautenbach, wat weer namens New Media Publishing die leisels neem as redakteur van die kwartaallikse katalogus, sê sy is “ongelooflik opgewonde” oor die feit dat Leserskring en sy eweknie, Leisure Books, voortgaan.

“Dis ʼn instelling waarmee ek grootgeword het. Dit bring boekmense bymekaar en dit maak dit maklik om boeke en veral Afrikaanse boeke, te kies, in ʼn tyd waarin ʼn mens toegegooi word met inligting.”

Een van die vereistes van IMD Logistics was dat Barnett as uitvoerende hoof moet aanbly en sy meen sy is reg vir dié groot taak. “Ek het al my kop by aftrede gehad, maar ek het met my familie gesels en nou ja, hier gaan ons!”

Volgens ʼn leser, Rinette, is die aankondiging soos “Krismis in Junie”. “Met hierdie nuwe aankondiging van julle, kielie julle behoorlik die woorde van ons tonge af – dis soos Krismis in Junie! Alle voorspoed en seën met julle voorbereiding. Ons moet behoorlik ons opgewondenheid inhou sodat hierdie afwagting nie met ons bokspring tot daar waar ons kan oorglip in onbehoorlikheid in nie.”

Besoek Leserskring se Facebook-blad vir meer besonderhede of stuur ʼn e-pos aan [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Linda Gartner ·

My vorige lid nr was 2123.110.5. Wil graag weer deel van Leisure Books wees.
Voorwaar wondelike nuus.
Vriendelike groete uit Namibia.

joanne ·

IMD Logistics sal ‘n groot haas uit ‘n klein hoed moet pluk om my weer te lok. Dit gaan baie moeilik wees om die beeld van swak diens, onbeantwoorde telefone ens ens ens vir my te verander.

Bianca ·

Ek sal graag weer aansluit. Ons bly in n klein dorpie en boekies vir kinder muis geskenke is altyd welkom en my gesin is lief vir lees met die papier gevoel tussen die vingers. Ek het goeie diens ontvang, pakkies is omgeruil en navrae beantwoord.

Brechje ·

Ek het nog altyd goeie diens en ure se lekker leesgenot ontvang. Op die platste platteland. Dit spreek tog vanself?

Elsa ·

Ek was meer as 20 jaar lid… Het wonderlike diens ontvang…is super opgewonde!!!

Corrie ·

Was +20 jaar lid en sien uit na die hervatting van die nuwe klubdiens. Sterkte !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.