Goeie nuus vir matriek-slimkop wat alles in brand verloor


Sasha-Lee Roestorff (Foto: Maroela Media)

Sasha-Lee Roestorff (Foto: Maroela Media)

Nadat Maroela Media vroeër berig het oor Sasha-Lee Roestorff van Randfontein wat álles in Januarie vanjaar in ʼn brand verloor het én boonop haar lewe lank al in stilte teen swaar omstandighede stry, het sy 11 onderskeidings in die matriek-rekordeksamen behaal én ʼn beurs verwerf om aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.

Dié top-matrikulant het voorheen vertel sy het ʼn toekomsplan gehad: sy sou, sonder om ʼn enkele keer oor haar moeilike omstandighede te kla, haar fokus op goeie matriekuitslae gerig hou. Dít sou haar in staat stel om verder te studeer en daarna sou ʼn inkomste verseker dat sy nóóit weer hoef terug te kyk na die lewe waardeur sy eens moes stoei nie.

Haar planne is egter op 14 Januarie vanjaar wreedaardig omvergegooi. Sy het daardie dag met net haar skooltas en -klere in haar hand staan en kyk hoe ʼn verwoestende brand alles vernietig. Haar blyplek was verwoes, maar sy het gegryp wat niemand van haar kon vat nie: haar toekoms.

Sy het boonop ook talle ander terugslae beleef en al harde bene in haar lewe gekou – haar pa, “ʼn wrede man”, het die gesin talle kere tydens uitbarstings uit die huis weggejaag. Dáár het sy geleer om haar skooltas en -klere te gryp en daarom, toe die brand by die huis uitbreek, het sy dit weer gedoen.

Sasha-Lee het voorheen aan Maroela Media vertel haar grootste droom is om te studeer, maar weens finansies wat knyp, het dit nie eens na ʼn moontlikheid gelyk nie.

Ná haar storie egter gedeel is, het mense van oor die hele Suid-Afrika hulle harte én beursies oopgemaak om te verseker dat sy kan studeer.

Die Universiteit Stellenbosch het haar onlangs ingelig dat sy die ontvanger van die Sheila Brand-beurs is wat haar studiegeld én verblyfkoste gaan dek.

Intussen het weldoeners oor die hele Suid-Afrika ook betrokke geraak om te help met sakgeld en te verseker dat sy ook ʼn studentelewe kan hê.

“Ek is so dankbaar dat mense nog goeie harte het. Ek het aanvanklik nie gedink dis moontlik nie, inteendeel, ek wou opskop in skool. Ek is in trane wanneer ek dink aan mense se goedheid, en is veral dankbaar vir elkeen in my matriekjaar en my wonderlike ondersteuningsnetwerk tuis, my ma Jo-Ann,” het sy gesê.

“Dit is alles net deur die Here se genade. Ek weet nou hoekom ek soveel terugslae moes beleef: om vasbeslote te wees om almal trots te maak en soveel moontlik te bereik.”

Die slimkop gaan na verwagting in Desember na Stellenbosch verhuis om aktuariële wetenskap te studeer.

Indien jy meer wil weet of betrokke wil raak, nader Maroela Media deur ʼn e-pos te stuur na [email protected].

Maroela Media sal op die hoogte van Sasha-Lee se storie bly. Luister ook na die volledige onderhoud waarin sy haar storie vertel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Elisabeth ·

Jy fokus op die regte besluite en het ‘n pragtige sterk persoonlikheid. Aan haar moeder baie dankie want U het leiding gegee. U kan baie trots op U self wees.

Adri ·

Hoe kan sy nou-al haar matriekuitslae hê? Die eksamen het skaars begin.

Sê net ·

As jy mooi gelees het Adri sal jy sien sy het onderskeidings in die REKORDEKSAMEN behaal……….

aNTON ·

Dit was in haar rekordeksamen wat sy die uitslae behaal het

martin ·

Adri … dit staan duidelik, sy het die 11 onderskeidings in die rekordeksamen behaal.

Jean ·

Uitstekend . good for you, mag jy net nog ‘n groter sukses van jou studies maak. Jammer oor jou verlede, maar kyk vorentoe en gaan vooruit. Ek hoop net die beste wag vir jou. Ander mense gebruik hulle omstandighede as ‘n verskoning, jy het dit as ‘n geleentheid gebruik. Sterkte Sasha Lee met alles wat jy aanpak.

CommentQueen ·

Sooo TROTS al ken ek jou nie!
Uitstekende uitslae….
Net jammer jy gaan geen Universiteit hê om verder te gaan studeer nie, want dis OF afgebrand OF vol kriminele wat jou lewe dreig…
Maar jy is die tipe mens wat sukses sal behaal maak nie saak van omstandighede.
Sterkte en seën vir jou toekoms♡

JC ·

Hey HEVW, goeie opmerking!
Sy is beslis die kaliber student waarna Akademia op soek moet wees.

Gerhardt ·

Ek is so bly dinge werk reg uit vir Sasha. Sy is in n 10/10 trots afrikaanse skool en met haar vermoeëns gaan sy nog ver kom. Die lewe gaan oor keuses en sy het dit in haar guns geswaai. Sterkte vir die res van die eind-eksamen

Respek ·

Vir jou meisiekind het ek groot respek. Mag jy ‘n mooi toekoms beleef.
En jy die pa: jou gene is in hierdie pragtige dogter van jou. Mag jy leer om haar en haar ma te respekteer of nooit ooit weer kontak te maak.

Lou ·

Hoop my dogter kan ook die geleendheid kry,dis wonerlik om te sien daar is nog mense wat nog omgee vir ander mense!!!

marlene ·

Harde werk betaal altyd. Jy verdien die beste, meisiekind! ♡♡

Retha ·

Jy gaan so gelukkig op Stellenbosch wees! So bly vir die geleëntheid meisiekind! Ons bid jou net guns toe!

Niccy ·

Mooi so Sasha-Lee. Laat staan die dinge wat agter is en strek jou uit na wat voorlê! Jy is voorwaar ‘n Afrikaner en dogter om op trots te wees. Sterkte vorentoe en mag God met jou wees.

Louis Prinsloo ·

Met God is alles moontlik. Werk sorgvuldig daarheen en baie meer word bygevoeg sodra by die eindpunt kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.