Goeie nuus vir meisie (12) wat ‘elke dag in pyn leef’

Denise (Foto: Verskaf)

Die 12-jarige Denise Harmse van Holfontein in Gauteng is Maandag in die Little Company of Mary- private hospitaal in Pretoria opgeneem nadat sy vroeër vandeesmaand reeds twee noodoperasies in staatshospitale vir gangreen in haar been ondergaan het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn moontlike amputasie staar Harmse in die gesig indien sy nié effektiewe behandeling vir dié toestand sou kry nie. Die 12-jarige is volgens haar ouers in Desember net voor die skoolvakansie na ʼn staatshospitaal geneem nadat sy van ʼn pawiljoen afgegly het. Dokters het toe gesê sy het ligamente in haar been geskeur en sy is net met pynmedikasie huis toe gestuur.

Die tweede staatshospitaal het haar volgens haar ma, Yvonne, vir ʼn beenbreuk behandel en haar later met gips en verbande huis toe gestuur. Nadat haar ma ʼn week later blase aan haar bene opgemerk het, het die dokters dit glo afgemaak as die wrywing van die gips gepaard met die hitte. Nadat sy vir ʼn derde opinie gegaan het – glo weer by ʼn staatshospitaal – het die dokters bevestig dit is gangreen.

Die Child Medi-organisasie het Maandag bevestig dat Harmse gehospitaliseer is nadat die liefdadigheidsorganisasie Caring Daisies geld aan die hospitaal betaal het.

Anria van Heerden, ʼn lid van dié organisasie, het aan Maroela Media vertel die organisasie het op sosiale media te hore gekom van die Harmse-gesin se noodkreet. “Ons het gesien dat die ouers doodbekommerd is en dat daar eenvoudig nié geld is om ʼn mediese fonds te bekostig of om die onkoste van die private hospitaal te betaal nie. ʼn Weldoener het sy hart en beursie oopgemaak sodat hierdie dogtertjie die behandeling kan ontvang wat nodig is,” vertel sy.

Denise moes onlangs ‘n tweede operasie aan haar been ondergaan (Foto: Verskaf)

Van Heerden sê die organisasie beoog om die gesin tydens die hele behandelingsproses by te staan. Sy sê die familie is baie dankbaar vir die bystand wat hulle in dié verband ontvang het. “Die familie is onsettend dankbaar – hulle is eintlik nog so geskok omdat hulle nie kan glo dat iemand so goed vir hulle is nie. Ons beoog om deurentyd by die familie te staan sodat Denise heeltemal gesond kan word. In dié stadium is die swelling nog baie erg, maar sy sal môre ʼn MRI-skandering ondergaan sodat die dokter ʼn prognose kan maak. Ons sal waarskynlik eers dan meer weet.”

Yvonne het aan Maroela Media gesê hoewel Denise waarskynlik nog ʼn lang herstelpad het, kan die gesin nou hoop dat sy effektiewe behandeling sal ontvang. “Denise het só seer gehad dat ons elke dag saam gehuil het. Dit het regtig jou hart gebreek. Sy ontvang nou antibiotika, maar ons wag nog dat die dokter haar moet kom ondersoek. Al wat ons weet is dat dit in dié stadium regtig nie goed lyk nie en ons kan net hoop dat sy ten volle sal kan herstel,” sê sy.

Weldoeners wat meer inligting wil hê, kan Amoer Schoeman van die Child Medi-organisasie kontak deur ʼn e-pos te stuur na info [email protected]. Besoek die Child Medi se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

YOLANDI POTTER ·

My ma is begin Desember ook in 2 staatshospitale gewees. Na 17 dae se sukkel en pyn, het ons haar Jhb Gen toe gevat en hul moes haar been by die heup amputeer oor n bloedklont. SY het nie die operasie oorleef nie. Op 20 Desember is sy op die operasietafel oorlede.

Amanda Wait ·

Ai Yolandi, ek is so jammer om dit te hoor. Hoe verskriklik hartseer. :'( Ons Here Jesus seën jou.

Jesse ·

Jammer om van jul verlies te hoor Yolandi, dis nie maklik om ‘n ma te verloor nie. Baie sterkte vir jou en jou familie.

Rock ·

Caring Daisies Rock weet nie hoekom mense op die pos verwys word na Child Medi nie .Is caring daisies waar meer hulle in aanraking moet kom

Ekke ·

Dit gebeur nie net in staats hospitale nie. Na ‘n mirtal valve replacement (wat die dokters sommer net van gepraat het asof dit glad nie ‘n groot en moeilike operasie sou wees nie) is my Ma na ‘n maand oorlede aan septisemia. Dit was nie in ‘n staats hospital nie. En die operasie en hospitaal verblyf was oor ‘n miljoen rand. Medies het ook nie eers alles gedek nie. Dis baie hartseer om te sien wat gebeur.

CF ·

Weet die mediese personeel in staatshospitale regtig wat hulle doen? Klink nie so nie!

Johan ·

Baie baie baie sterkte aan Denise en die gesin. Ek hoop regtig sy herstel ten volle. Dit is altyd hartseer om te lees van sulke “alledaagse” insidente (iewers val) net om daarna te ontwikkel in iets gevaarlik waar mens jou lewe of ‘n ledemaat kan verloor.

Miskien moet die dokters wat haar nie reg kon diagnoseer nie, finansieel bydare tot die gesin se onkostes. Dit is in elk geval moeilik om nalatigheid te bewys in enige amptelike klagtes teen hulle. Hoop die betrokke dokters lees dit en help die gesin, al is dit anoniem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.