Goeie nuus vir ‘verlamde’ rugbyspeler en verloofde

Heinrich Terblanche en Chanel Supra. Foto: Verskaf

Heinrich Terblanche en Chanel Supra. Foto: Verskaf

Heinrich Terblanche, die rugbyspeler wat vroeg in Januarie 2015 verlam gelaat is ná ʼn rugbybesering en sy verloofde Chanel Supra, se beproewing is onlangs verlig toe die paartjie ʼn groot prys gewen het.

Die paartjie het Sondag gehoor hulle is die wenners van Monte De Dios se DROOMtroue-kompetisie. Dié troue, ter waarde van R300 000, sluit alles van die onthaalplek tot die trourok in en word geborg deur Monte De Dios, die EPH Group en GROOTfm 90.5 se GROOTontbyt.

Paartjies kon vir die kompetisie inskryf met ʼn brief van 200 woorde. Terblanche en Supra was een van 12 finaliste en is gekies as wenners deur ʼn paneel van beoordelaars wat onderhoude met elke paartjie gevoer het. Die prys word

Luané Janse van Rensburg, woordvoerder van GROOTfm, sê die paartjie het vanuit die staanspoor uitgestaan. “Hul storie het almal se harte aangeraak. Dit was nie omdat hy in ʼn rolstoel is nie, maar oor sy ongelooflike wilskrag. Hy wíl met haar trou en met haar kan dans. Hul geloof het ons almal aangeraak,” het sy gesê.

Chanel het aan Maroela Media vertel hulle is uit die veld geslaan omdat sy aanvanklik nie geweet het of sy moet inskryf nie. “Ons wou nie hê mense moet dit uit blote simpatie vir ons gee nie. Ons wou dit hê omdat ons werklik met mekaar wil trou.”

Hoewel dokters gesê het Heinrich sal nooit weer kan loop nie en op die meeste beweging van sy skouers boontoe hê, is hulle nog elke dag verbaas oor sy vordering. “Hulle vertel gereeld hulle het nog nie gesien dat iemand so vinnig herstel nie. Hy is binne ʼn jaar reeds op krukke. Ons kyk net na Bo en sê dankie.”

Die paartjie beplan om aan die einde van die jaar te trou, sodat Heinrich genoeg tyd het om te herstel. “Hy wil so graag met my dans op ons troue. Hy sê hy ken sy lyf en kan voel hy word beter. Die Here seën hom elke dag met beter gesondheid,” het sy vertel.

Lees die brief waarmee Chanel die paartjie ingeskryf het, hieronder.

My naam is Chanel Supra en my verloofde is Heinrich Terblanche. Ek is ’n Graad 3 onderwyseres by Laerskool George-Suid en my verloofde was ’n professionele rugbyspeler.

Ons het 20 Desember 2014 verloof geraak, ’n maand nadat hy terug gekom het van oorsee waar hy rugby gespeel het vir ’n jaar en beplan om die 19de Desember 2015 te trou.

Die 24ste Januarie 2015 het ons hele lewe verander. Heinrich het sy nek by C5 en C6 gebreek tydens ʼn rugbywedstryd en die dokters het vir ons gesê hy sal nooit weer kan loop nie en as hy gelukkig is net sy skouers kan oplig. Deur die genade van die Here en onophoudelike geloof en gebed van mense reg oor die wêreld is hy besig om weer te loop met die hulp van krukke.

Medies gesproke moet sy funksies wat hy oor die jaar terug gekry het nie moontlik wees nie, en dit het ons as ʼn familie eerstehands laat besef wonderwerke gebeur nog en ons sal deur Heinrich se getuienis die Here se naam verkondig.

As gevolg van die ongeluk en al die finansiële uitgawes het ons besluit om die troue te skuif na die einde van die jaar. Dit is Heinrich se grootste begeerte om op ons troudag met my te kan dans.

Dit sal vir ons die grootste geskenk wees om te weet dat ons, ons droom troue sal kan reël met die finansiële blessing wat die kompetisie vir ons sal bied en een te word voor God en ons familie en vriende.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sumari ·

Wow is al wat ek kan sê. Die Here se genade is groot. Alle seën vir julle twee.

amelia ·

sjoe…… geen woorde!!! JULLE VERDIEN DAARDIE GROOT PRYS!!

Michiel de Goede ·

Ollie jy en jou verloofde verdien dit! Alle sterkte vir julle twee mag jy die aand om dans my mater! Sterkte vorentoe weet dit sal great gaan met alles wat julle aanpak. Jys ‘n inspirasie!

alet ·

Dis so mooi om te lees van wonderwerke en dat daar nog mense is wat glo in onse Vader,Vader baie dankie dat U daai Man so aangeraak het met U liefde en krag dat hy weer sal kan loop,U is groot en ons het U baie lief,

Oefen ·

Baie geluk amazing paartjie, Heinrich leef voort & oefen boetie dan dans jy met haar in Desember, klou vas aan jul geloof wat jul tot sover gedra het!

donovan ·

Ai hoe verduidelik ek nou aan die vroue om my hoekom is my oe vol trane … hierdie is so n mooi storie en ek hoop die Here gee die man sy hard se begeerte om sy bruid in sy arms te neem en met haar te kan dans… eich

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.