Goeie Samaritane bestaan steeds

Carel-Norval

Andrea het ‘n foto van Carel se beursie geneem en op Facebook geplaas. Foto: Facebook.

Dis moeilik om te glo dat daar nog goeie Samaritane bestaan, maar Andrea Sebelabenguni Dondolo (38) van Kaapstad het bewys dat daar wél nog mense is wat omgee.

Andrea het ʼn beursie vol geld by OR Tambo-lughawe opgetel en baie moeite gedoen om die eienaar op te spoor.

Carel Norval (56),  ʼn ingenieursbestuurder wat in Pretoria woon, het sy verloofde Vrydagmiddag op die lughawe gaan haal, en met al die opwinding sy beursie in die bagasietrollie vergeet. “Ek het ongeveer ʼn duisend rand getrek om vir die parkering en tolgeld te betaal, en toe ek by die tolhek kom, toe besef ek my beursie is weg.” Na ʼn lang gesukkel het Carel uiteindelik by die lughawe se sekuriteit uitgekom en hulle het gesê hulle sal op die uitkyk wees vir die beursie. “Ek het gedink ek sal die beursie nooit weer sien nie.”

Carel het ʼn oproep van Andrea gekry om te sê sy het sy beursie opgetel. Dié twee het mekaar die volgende dag in Pretoria se middestad ontmoet. “Ek was so bly om haar en my beursie te sien. My bankkaarte, mediese kaart en bestuurslisensie is in my beursie – dit is so ʼn proses om alles te vervang!” Carel sê hy kan steeds nie sy geluk glo nie, want sulke goed gebeur nie meer nie. “Ek het sommer ʼn R200-noot vir haar gegee, want ek kon nie genoeg dankie sê nie.”

Andrea, ʼn aktrise, sê sy het dit gedoen want dit was die regte ding om te doen. “Daar is soveel slegte goed wat tans in Suid-Afrika gebeur, en ek glo dat ʼn mens ʼn verskil kan maak, al is dit hoe klein.”

Dit sou so maklik gewees het om net die beursie te vat sonder dat iemand iets sou vermoed, maar Andrea meen dat God sou sien, en dat sy ook met haarself moet saamleef. “Ek wou dit eers polisiestasie toe vat, maar ek het besluit om eerder self die persoon op te spoor – ek het gesien wat alles in die beursie was, en ek weet hierdie persoon sal deur soveel moeite moet gaan om alles te vervang.”

Andrea het ʼn foto met die hele storie op Facebook geplaas, en Carel meen die terugvoer was ongelooflik. “Soveel mense het my gebel oor dié storie. Mense van oorsee het my gekontak om te hoor of die storie waar is en of ek my beursie gekry het. Skoolvriende, familie en self vreemdelinge het my ook gebel – hulle het selfs my seun gekontak omdat ons dieselfde naam het. Dis ongelooflik!”

Hierdie is net een storie van goeie goed wat in ons land gebeur. Maak nie saak hoe klein ons bydrae is nie, ons elkeen kán ʼn verskil maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

P S ·

Andrea, dit is waarvoor ons bid in SA, mense soos jy! Dankie dat jy ‘n goeie mens is. Wil jy nie asseblief staan vir President nie!?

SNEL ·

Wonderlik van haar!! So bly om so n stukkie goeie nuus te lees.

Gesiggie ·

Well Done Andrea… S.A Het meer sulke mense soos jy nodig…. jy het die regte besluit geneem.. Jy verdien meer as net R200.00 .. Maar eerlikheid is meer werd as geld”’Jou goeie dade word raakgesien.

Eliza-beth ·

Ek hoop Andrea lees al die kommentare hier en besef hoe ‘n voorbeeld van ‘n MENS sy vir almal is! Dankie vir jou omgee en eerlikheid!

Hettie ·

Andrea, trots op jou en jy is goeie person wat bereid is om hom in die hande te kry. Mag God u seen!

Zelna ·

Mooi Andrea! Wens daar is meer van jou kaliber! Dié wat ‘n verskil wil maak is maar min!

Muis ·

Andrea baie dankie dat jy so eerlike mens is dit wys dat jy n kind van die Here is en dat dit spreek uit die goeie daad wat jy gedoen het, mag jy baie geseen word en dankiejy is n ster!

Louise ·

Dis wonderlik wat jy gedoen het Andrea, onthou wat jy saai sal jy maai.
Jy gaan beslis die goed van die lewe maai, sterkte met jou lewens reis vorente.

Janet ·

10 /10 vi jo Andrea j sal definitief geseen wrd God sien sulke dinge raak as almal so eerlik is dink net in watse wonderlike land oz sal lewe

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.