‘Good Morning Angels’ help verpleegster wat Covid-19 wil bestry

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Ani Kolleshi/Unsplash.)

Die Good Morning Angels-projek van Martin Bester se ontbytprogram op Jacaranda FM het Woensdagoggend ʼn verpleegster gehelp wat Covid-19 die stryd in die Limpopo-omgewing wil aansê.

Elmarie van der Walt (49) van Tzaneen is ʼn verpleegster met 30 jaar lange ondervinding in die teater, asook hoësorg- en ongevalle-eenhede. Sy het die afgelope vier jaar as ʼn vryskut-wondverpleegster gewerk nadat sy ʼn vrywillige afleggingspakket geneem het.

Van der Walt het reeds haar naam opgegee om as vrywilliger in die Tzaneen-omgewing te werk, maar om dit te kan doen, moet sy ook weer by die Suid-Afrikaanse Verpleegkundige Raad registreer. Die algehele koste vir die herregistrasie beloop R3 380 wat sy nie nou kan bekostig nie. Sy het haar tot Good Morning Angels gewend vir hulp hiermee.

Die Good Morning Angels-fonds het onderneem om Van der Walt met ʼn skenking van R10 000 te help sodat sy weer as verpleegster kan registreer. Sy kan die res van die geld gebruik om ander noodsaaklikhede aan te koop om haar werk as wondverpleegster te verrig.

Martin Bester, aanbieder van Jacaranda FM, het ook onderneem om die bedrag van R10 000 namens Good Morning Angels na R20 000 te verdubbel.

“Dit verg ʼn engel om hierdie soort werk te doen; ek weet self, want my ma het tot baie onlangs nog ook tuisverpleging benodig. Ons wil jou help om jou engelewerk in Tzaneen te bly voortsit,” het Bester Woensdag aan ʼn emosionele Van der Walt gesê.

Sy ken self die seer in die lewe. Van der Walt het ʼn paar jaar gelede haar voorheen gesonde 48-jarige man, Jan, aan die dood afgestaan nadat hy ʼn aggressiewe vorm van bloedkanker opgedoen het. Hy is nege weke nadat hy gediagnoseer is, oorlede en het Elmarie en hulle 14-jarige dogter agtergelaat.

Nou, agt jaar later, is Van der Walt se dogter ʼn gekwalifiseerde onderwyseres, terwyl Van der Walt self weer nuwe liefde gevind en na Tzaneen verhuis het om haar nuwe lewe te begin.

Dit is hier waar sy begin het om mense se wonde tuis te versorg. Dit is veral diabete en bejaardes – die mense wat die ergste deur Covid-19 geraak word – wat dikwels haar hulp nodig het.

“Mense verstaan nie altyd wat tuisverpleging behels nie. Jy stap in ʼn huis in en besef hierdie tannie gaan elke dag behandel moet word, maar jy kan haar nie geld vra nie en sy het ook nie ʼn mediese fonds nie,” het Van der Walt verduidelik.

Sy vertel die afsonderingstydperk het haar vermoë om haar vryskutwerk te doen negatief beïnvloed, maar sy wil alles moontlik doen sodat sy kan terugkeer na die voorste linies waar sy ʼn verskil kan maak.

Op ʼn vraag oor of sy bekommerd is dat sy Covid-19 sal opdoen, sê sy: “As ons almal bang was, sou daar geen voorste linie gewees het om hierdie pandemie te beveg nie. Ons land het al sy mediese personeel nodig en ek wil dien. Dit is my roeping en my plig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.