Gospelmusikant en kletsrymer hef Prins Albert-jeugsentrum op

Die POP-sentrum is ʼn geregistreerde, niewinsgewende organisasie wat steun op geld van die publiek. (Foto: Facebook)

Die Path onto Prosperity- (POP-)jeugsentrum op Prins Albert het tot onlangs op dié dorp bekendgestaan as die “Wit Olifantjie”, maar sedert die kletsrymer en gospelmusikant Naaim Briesies, op die verhoog bekend as Gellyblik, die leisels as bestuurder oorgeneem het, het dié sentrum ontluik in ʼn baken van hoop vir die kinders van Prins Albert.

Henry Prens, ʼn bestuurder van die Lord Charles-hotel in die Kaap, se paaie het destyds met Briesies sʼn gekruis op sy tuisdorp Touwsrivier. Briesies is oorspronklik van Prins Albert afkomstig.

“Toe ons weer kontak maak, het Naaim vir my gesê hy is nou die bestuurder van die jeugsentrum en gevra of ek hom met borge kan help. Ek het dadelik ingespring om hom te help,” verduidelik Prens oor sy betrokkenheid by die sentrum.

Die POP-sentrum is ʼn geregistreerde, niewinsgewende organisasie wat steun op geld van die publiek. Die sentrum is geopen met die doel om die kinders van Prins Albert van die straat af te hou deur hulle met allerlei gratis aktiwiteite te vermaak.

Henry Prens. (Foto: Verskaf)

Prins Albert gaan onder hewige maatskaplike kwessies, soos alkohol- en dwelmmisbruik en geweld, gebuk.

Die nasorgprogramme wat daagliks deur die sentrum aangebied word, bied tans aktiwiteite wat opvoedkundige ondersteuning, lewensvaardighede, gesondheid, kuns en sport behels, aan sowat 130 kinders tussen drie en 21 jaar oud.

“Kinders kry hier die geleentheid om te ontwikkel eerder as om doelloos in die straat rond te dwaal,” sê Prens.

“Sodoende verhoed ons dat kinders betrokke raak by aktiwiteite in die gemeenskap wat hulle sosiale of persoonlike skade kan berokken. Die sentrum fokus daarop om ʼn goed ontwikkelde kind te kweek, hetsy akademies, sosiaal of geestelik, en glo dat opvoeding in hierdie terreine van ʼn kind se lewe lewensveranderende gevolge kan inhou.”

Prens is vol lof vir Briesies se harde werk by die sentrum. “Die plek was erg verwaarloos. In die kort tyd dat Naaim betrokke is daar, het hy dit radikaal en handomkeer verander. Die plek is oorgeverf en die naam pryk voorop, dit lyk baie mooi.”

Hy het onlangs besoek afgelê aan die sentrum saam met sy vrou, Shirley, wat familie op Prins Albert het. Hul 13-jarige dogter, Shirmonique, sit ook gereeld handjie by vir liefdadigheid en het onlangs gehelp om medaljes te finansier vir die POP-sentrum se skaaktoernooi.

Naaim Briesies. (Foto: Facebook)

“Omdat Naaim ʼn kunstenaar is, leer hy ook die kinders van musiek. Hy leer sommige kinders hoe om te kletsrym. Hy sorg werklik dat hy hulle besig hou.”

Prens vertel hulle kon onlangs die kinders van Prins Albert vir die eerste keer na ʼn rugbywedstryd op Nuweland in die Kaap neem.

“Die ondervinding het die kinders se harte gesteel. Hulle praat nou nog daarvan,” vertel Prens, wat dié droom vir 20 kinders van die POP-sentrum help bewaarheid het.

Prens het om hulp aangeklop by Pieter Jooste en Danny Jones, wat 22 blokkaartjies vir ʼn Superrugby-wedstryd tussen die Stormers en die Blues beskikbaar gestel het. “Ek het vir hulle gevra om die kinders se behoeftes in ag te neem – hulle het nog nooit die geleentheid gehad om ʼn regte, egte rugbywedstryd by ʼn stadion te sien nie.”

Om dit regverdig te hou, het Briesies 10 laerskool- en 10 hoërskoolleerders gekies om die geleentheid by te woon. Plaaslike borge het gehelp met vervoer en die 20 leerders het in een dag saam met twee toesighouers die bykans 800 km Nuweland toe en terug aangedurf om hul rugbyhelde in aksie te sien.

Prens vertel hy het ʼn hart vir liefdadigheid omdat hy self uit ʼn minderbevoorregte agtergrond kom. “Ek het op Touwsrivier op ʼn plaas grootgeword en moes elke dag 30 km skool toe stap. Dit was nie maklik nie en ek weet hoe dit is vir kinders van agtergeblewe dorpies wat swaar kry,” vertel hy.

“Ek moes self daardeur gaan as kind en as ek die geleentheid kry om terug te ploeg in die gemeenskap, dan doen ek dit. Ek is in die gasvryheidsbedryf en het sodoende baie kontak opgebou met mense wat kan help.”

Hy doen ʼn beroep op mense om met Briesies kontak te maak indien hulle betrokke wil raak by die POP-sentrum.

“Dit is moeilik om so ʼn sentrum aan die gang te hou sonder geld. Die sopkombuis wat elke dag etes verskaf, vir sommige van daardie kinders hul enigste ete vir die dag, kan skaars voorbly. Die sentrum het al die hulp en blootstelling nodig wat dit kan kry.”

Bel Naaim Briesies by 066 153 2704 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.