Gracia-kindersorg droom saam oor seevakansie

Argieffoto (Foto: Vidar Nordli-Mathisen/Unsplash)

Die kinders van House Gracia, ʼn kinderhuis in Pretoria-Noord, het so ʼn ruk gelede by hul huismoeder, Trudie Henderson, aangekom en gevra: “Tannie, gaan ons dié jaar see toe?” Al wat sy kon sê is: “Ons gaan ons bes doen.”

Waarom het Trudie en haar span by die kindersorgsentrum so ʼn groot behoefte om hierdie vakansiedroom vir byna 90 kinders waar te maak?

Want, buiten dat dit die laaste jaar is dat so ʼn vakansie moontlik is, het van die kinders nog nooit die see gesien of hul tone in die sand gedruk nie.

Vir die span by House Gracia gaan dit daaroor om ʼn kind se droom te bewaarheid, om ʼn verskil te maak en dalk die enigste geleentheid vir ʼn seevakansie te bied.

“Ons het ʼn paar nuwe kinders wat nog nooit ʼn vakansie gehad het nie – dan praat ons nie eens van ʼn seevakansie nie,” sê Henderson. “Ons besef dit is baie geld om in te samel, maar dit sal wonderlik wees as ons hierdie kinders se drome kan bewaarheid.

“Die jaar 2020 was nie vir een van ons lekker nie. Vriende wat elke jaar by die kinderhuis  ʼn draai maak om by ons kinders te kuier en tyd deur te bring, kon dit nie laas jaar doen nie,” vertel Henderson.

Sy sê die kinders verlang na almal se kuiers, grappies en verrassings. “Ons kinders verstaan nie altyd wat om hulle in die wêreld aangaan nie.”

Die bestuur van House Gracia het hulle voorgeneem om alles in hul vermoë te doen om die seevakansieprojek te verwesenlik. Die vakansie word vir 27 Desember tot 10 Januarie 2022 beplan en skenkings kan tot einde November gemaak word.

“Dit is altyd ʼn enorme bedrag wat ons bymekaar moet maak, maar ons weet ook dat ons ons vriende en familie kan vra om ons te help. Elkeen se bydrae help,” sê Henderson.

House Gracia het in 2009 met een doel voor oë begin: om ʼn veilige hawe te skep vir minderbevoorregte kinders en kinders wat uit gebroke gesinne en huise kom. Die kindersorgsentrum wil dus vir hierdie kinders ʼn veilige plek bied om te bly, hulle die regte lewenswaardes leer en die geleentheid bied om behoorlike opvoeding te kry.

“Die House Gracia-span wil elkeen by voorbaat bedank vir hul bereidwilligheid en ondersteuning van die seevakansieprojek.”

Wil jy dalk meer oor hierdie projek te wete kom? Besoek gerus House Gracia se webwerf of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Patch ·

Mag die droom bewaarheid word. Ek hoop dat daar genoeg toesig saam gaan om hierdie kinders veilig te hou by die see.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.