Graeme sien uit daarna om mense as dokter te help

Graeme McCreath

Graeme McCreath van Hoёrskool Menlopark het ʼn allemintige agt onderskeidings verwerf in die afgelope nasionale matriekeindeksamen. Hy het A-simbole gekry vir al sy vakke: Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskap, lewenswetenskappe, Frans, lewensoriëntering en geografie.

Graeme se ouers is Arnold, ’n regsadviseur, en Elsabe. Hy het ook ’n broer Craig wat hom baie motiveer. Hy sê hulle hou dikwels van dieselfde goed.

Ná ʼn vakansie in Hermanus gaan dié top-student medies studeer. Hy het reeds keuring by Tukkies sowel as Wits gekry.

Hy vertel dat aan die einde van gr. 11 met tipe 1 tipe-diabetes gediagnoseer is. Dit was vir hom ʼn groot aanpassing om die hele tyd te sorg dat sy suikervlakke korrek is ten spyte van die akademiese druk en al sy buitemuurse aktiwiteite. Hy was in sy matriekjaar baie betrokke by die skool se aktiwiteite: Hy het vir die eerstespan hokkie gespeel en dié span was verlede jaar die wenner van die Noordvaal-beker. Hy was ook krieketkaptein van die eerstespan en het op die matriekraad gedien.

Boonop is Graeme ʼn kranige musikant en orkeslid wat baskitaar en kitaar speel.

Hy erken tydbestuur is een van sy beste eienskappe terwyl die feit dat hy soms te veel goed tegelyk aanpak sy swakste eienskap is. Hy erken dit was ʼn groot uitdaging om in twee sportsoorte vir die eerstespan te speel, om akademies onder die top-20 te bly én diabetes te hanteer.

Ek sien uit na die voorreg en geleentheid om ander mense te help wanneer ek eendag ʼn mediese dokter is, sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.