Die aktrise Julia Anastasopoulos, bekend as die grappige selfhelpghoeroe Suzelle DIY, het Vrydag ʼn seuntjie ryker geword.
Anastasopoulos, wat ook in Showmax se komediereekse Tali’s Baby Diary en Tali’s Wedding Diary te sien was, het die nuus Maandag op Instagram gedeel met ʼn skattige swart-wit foto van haar slapende baba.
Die seuntjie is Anastasopoulos en haar man, die rolprentmaker Ari Kruger, se tweede kind. Hy is Vrydagmiddag gebore nadat hulle 41 weke op hom gewag het. Die aktrise het in ʼn stadium op Instagram geskerts dat dit voel of sy al reeds ʼn 100 jaar swanger is.
“Ek dink dit is omdat ek die rol van ʼn swanger Tali vertolk het net voordat ek self swanger geword het wat dit soos vir altyd laat voel.”
Anastasopoulos het Maandag gesê die lang wag was egter elke oomblik die moeite werd.
“Sy geboorte was ʼn warrelwind wat mal, maar ook mooi was. Ek dink dit was alles wat nodig was om die magiese klein mensie in die wêreld in te bring,” het sy op Instagram geskryf.
Anastasopoulos sê hulle eersteling, Zoe, is reeds ʼn trotse ouer suster en die gesin is tans tuis besig om te rus en hulle voete saam met die nuweling te vind.
Baie Geluk !!
Baie geluk, mag hy baie vreugde bring