Gratis velkankerondersoeke aangebied

Foto: Velkankervereniging SA

Die Velkankerstigting van Suid-Afrika bied vanjaar op Lentedag, 1 September, landswyd gratis dienste aan om gevaarlike velkanker te identifiseer.

Die diens word slegs by deelnemende lede van die Stigting gelewer, terwyl Kansa ook by húl kantore die nodige ondersoeke sal doen. Dit is die vierde keer dat dié geleentheid aangebied word.

In die VSA ontwikkel een uit elke ses mense in hul leeftyd velkanker. Daar is nou nuwe, opwindende en potensieel lewensreddende middels wat in terapie gebruik kan word. Die vroeë identifikasie van velkanker kan dus ʼn pasiënt se lewe red.

Daar is twee hoofsoorte velkanker: eerstens die melanoomkankers, bekend as Maligne Melanoom, en tweedens die nie-melanoomkankers. Maligne Melanoom is die gevaarlikste en maak 1% van alle kankersterftes uit. Suid-Afrika, met sy mooi sonskynweer, het een van die hoogste voorkomste hiervan ter wêreld en een uit 196 mense word geraak.

Met betrekking tot die tweede soort velkanker, naamlik nie-melanoomkankers, word daar ook tussen twee soorte onderskei: Basaalselkarsinoom en Plaveiselkarsinoom. Basaalselkarsinoom is die algemeenste vorm van velkanker, en Plaveiselkarsinoom die tweede algemeenste. Laasgenoemde is in 95% van die gevalle geneeslik mits dit betyds ontdek word.

Veral mense met ligte velle, of in wie se familie velkanker voorgekom het, word aangeraai om minstens een keer per jaar ʼn dermatoloog te besoek.

Tydens Vrydag se gratis ondersoeke sal die besoekers ook inligting ontvang oor hoe om self potensiële velkanker te identifiseer, en ook gesinslede te kan help om dit te identifiseer.

In ʼn inligtingstuk verskaf Kansa die volgende waardevolle riglyne oor hoe om vir velkanker op te let:

  • A-simmetries – ʼn merk (plat moesie) met een helfte wat anders lyk as die ander helfte (dus nie simmetries nie). Gewone moesies is rond en simmetries.
  • Buitelynafwykings – gekartelde/swak omlynde kante. Gewone moesies is glad en het gelykmatige rante.
  • Chromatiek – kleurvariasies; taankleurig, swart, bruin, rooi, wit, blou. Gewone moesies is gewoonlik ʼn enkel-skakering van bruin of swart.
  • D – ʼn Deursnit van groter as 6 mm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Glenn ·

Hi
ek wil graag weet as jule dalk naby lauduim gan wees dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.