‘Groen Vrydag’ bring hoop vir Kliprand-boere

Die trokke op pad na Kliprand. (Foto: Verskaf)

“Ek het nie besef daar is soveel goeie mense in Suid-Afrika nie. Daar is ʼn Vader in die hemel.”

Só het ʼn boer van die Kliprand-distrik in die Wes-Kaap Vrydag gesê nadat boere in dié streek droogtehulp ontvang het.

Die Olyfenboschkraal Landbouvereniging (OLV) in die Clanwilliam-distrik het Vrydag aan boere in die Kliprand-distrik hul eie “Swart Vrydag”-aflewering gedoen toe vrywilligers 19 trokke met voorraad vir droogtehulpbehoeftes in die streek gaan aflaai het.

Riaan Visser, die boer, het verder gesê dat dit dalk nie so mag voorkom nie, maar dat dit wat Vrydag in Kliprand gebeur het vir baie “die laaste uitweg, die enigste uitweg” is. “Dit gaan swaar met ons hier. Dis nie maklik nie, maar dit [die hulp] is ongelooflik.”

“Ons noem dit sommer ‘Groen Vrydag’,” sê Sanet Stander, een van die organiseerders van dié dag.

Dit is die derde jaar dat die OLV uitreik na die boere van Kliprand, sowat 230 km noord van Clanwilliam, wat tans onder erge droogte gebuk gaan. Voorheen was daar slegs vier of vyf trokke met vrag gewees. Dié keer het hulle egter hul droom van tien vragte ʼn groter werklikheid laat word en is 17 van die trokke vol voerbale gepak.

Die pakkies wat 40 boere en hul werknemers in die omgewing ontvang het. (Foto: Verskaf)

Daar is ook nog 8 000 liter melasse, wat soos tamatiesous vir die voer is, saamgestuur. Die aflewering het ook 15 000 liter gebottelde water, een ton broodmeel, twee ton groente, wat die skenker self op die mark in die Kaap opgelaai het, 80 sakkies aartappels en natuurlik rooibostee bevat.

Die uitreikpoging gaan 40 boere en hul plaaswerkers in die distrik help en elke huisgesin het ook ʼn kruidenierspakkie ontvang, terwyl elke boervrou ʼn bederfboksie van die Wellington Vrouelandbouvereniging se omgeeprojek gekry het.

Wimpie Smit, ʼn rooibos-en-sitrus-boer naby Clanwilliam, is verantwoordelik vir die uitreik. Die trokke is propvol gepak nadat boodskappe met ʼn versoek vir skenkings aan lede van die OLV en verskaffers van die boere uitgestuur is. Dié WhatsApp-boodskappe, stemboodskappe en foto’s is wyd in die distrik versprei en daarna het selfs winkels kontant en produkte geskenk.

“Die skenkings kom van die lede van die OLV, ondernemings in Clanwilliam, Citrusdal, Graafwater en boere uit die Boland. Daar is net te veel omgeeharte om almal te noem.

“Dit gaan met van die boere so swaar dat hulle nie eens brandstof het om die voer te gaan oplaai nie. Daarom is daar ook 2 000 liter diesel geskenk,” sê Stander.

Die uitdeel van die pakkies is op Arno Pienaar, voorsitter van die Kliprand Landbouvereniging, se plaas gedoen. Sowat 180 mense het daarna saam gekuier en ʼn worsbroodjie en koeldrank geniet.

Boere van die Kliprand-distrik. (Foto: Verskaf)

Die boere en werknemers van die Kliprand-distrik kon nie genoeg dank teenoor die skenkers uitspreek nie. “Daar is net een woord en dis dankie en dit voel of dit te min is. Dis klein, dis net een woordjie, jy kan nie die dankie groter maak nie,” het een boer gesê.

Albert Swarts, wat op ʼn plaas in die omgewing werksaam is, sê dit was ʼn groot voorreg om te sien wat daar gebeur het. Ek het dit nog nooit gesien nie, en dit beteken vir my baie om te sien dat hier wel mense is wat uitreik na die boere wat so swaar kry. Ek is voor by die skape, ek sien hoe swaar dit gaan.”

Nog ʼn boer, Riaan Coetzee, wat saam sy pa in Kliprand boer, sê hulle sou nie sonder die skenkings van mede-Suid-Afrikaners kon oorleef het nie. “Ek weet nie waar ons vandag sou wees nie. Ons hoop om êrens in die posisie te wees om weer te kan teruggee dit wat ons ontvang het.”

Hannes Mostert, van die plaas Eensaamheid op die Knersvlakte, het die dade van die OLV met dié van Jesus vergelyk. “Ek vra altyd die vraag wie is Jesus vir jou? Jesus is die Verlosser en aksies soos hierdie wys God se liefde deur die hande en voete van mense.”

Alta Meyer van die plaas Uilklip sê sy het verwag dat baie boere al sou knak weens die droogte; om hul diere so swak te sien, al die vrektes te sien en om geen inkomste te ontvang nie. “God het ingegryp en in almal se harte gewerk en vir ons kom wys dat Hy so magtig is en nog in beheer is,” het sy aangedaan gesê.

Meyer sê sy hoop dat hierdie situasie Suid-Afrikaners sal leer om net nader aanmekaar te kom. “Die belangrikste is om God te loof en te prys. Dit is so mooi om te sien hoe werk ons almal saam.”

Die vragmotors het Vrydag om 07:30 by die Trawal-trokherberg op die N7 bymekaargekom.

“Jy kan net dink hoe lyk 19 trokke wat ingetrek word en hoe baie werk dit was om alles af en op te laai. Die aflewering is net betyds vir Kersfees. Ons gee almal uit dankbaarheid oor wat ons die afgelope jaar uit goeie oeste ontvang het. Ons glo dat ons hierdie bure sal seën in hul droogtestryd,” sê Stander.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

6 Kommentare

aj ·

Dit is ontroerend om sulke opregte weliwillendheid te sien!

Die plase in die droë gebiede moet eerder omskep word in sonkrag en of windkrag elektristeit opwekkingsaanlegte.

Geen droogte sal hulle elektrisiteit ‘besigheid’ benadeel nie.

Hester ·

Regso aj. Die Gewer van reën, sonskyn en wind skenk genade wanneer die mensdom hulle voor hom verootmoedig…

Von ·

Here Jesus U het die weg gebaan…dankie Here vir genade dat U wonderlike mense gebruik om U werk in ons pragtige land te doen….open so die oe en harte van mense wat net wil vernietig….in Jesus se kosbare naam..

Maria ·

Baie baie dankie vir hulp en omgee mag julle ryker geseen word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.