Grondslagfase-graad nou by Akademia beskikbaar

Prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, en dr. Maretha Steyn, programkoördineerder van die BEd (Grondslagfase-onderwys)-program vier die nuwe kwalifikasie op Akademia se aanbod. (Foto: Verskaf)

Daar heers groot opgewondenheid nadat Akademia die nuus aangekondig het dat ʼn BEd (Grondslagfase-onderwys)-program voltyds by die Gerhardstraatkampus in Centurion aangebied gaan word.

Met die instelling van hierdie onderwyskwalifikasie bied die Afrikaanse private hoëronderwysinstelling nou ʼn volledige onderwysaanbod met grondslagfase, intermediêre fase en ʼn nagraadse onderwyssertifikaat (NGOS) aan.

Hierdie kwalifikasie is die derde program wat tot die Fakulteit Opvoedkunde se studierigtings gevoeg is. Nadat ʼn deeglike proses gevolg is, geniet dié kwalifikasie akkreditasie by die Raad op Hoër Onderwys, en is ook by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid geregistreer. Die eerste studente voltooi vanjaar reeds die NGOS in Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys.

Die BEd (Grondslagfase-onderwys)-program is toegespits op die opvoeding en opleiding van onderwysers vir grade R tot 3. Graduandi van hierdie gehaltekwalifikasie sal Afrikaans, Engels, Wiskunde en Lewensvaardighede in dié fase kan aanbied en met teoretiese en praktiese onderwyskennis toegerus wees. Studente wat hierdie kwalifikasie voltooi, sal ook by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO) as professionele onderwysers kan registreer.

Volgens prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, is Akademia verheug oor die nuwe verwikkelinge om nog ʼn kwalifikasie in die fakulteit aan te bied.

“Voornemende studente kan nou voltyds Grondslagfase-onderwys by ons studeer, terwyl hulle aan ʼn voortreflike akademiese kultuur en akademiese tuiste blootgestel sal word. Hier sal hulle ook terselfdertyd aan ʼn lewenskragtige studentelewe kan deelneem.

“Ons wens is uiteindelik dat dié studente pioniers sal wees wat in hulle moedertaal help skryf aan ʼn nuwe hoofstuk in onderwysgeskiedenis in Suid-Afrika.”

 Die NKR-vlak 7-program kan oor ʼn minimum van vier jaar voltooi word, en 50% word vir onderskeidelik Wiskunde, Engels en Afrikaans vir toelating tot studie vereis. Met ʼn goeie akademiese profiel sal studente met ʼn laer Wiskundepunt of ʼn Wiskundegeletterdheidspunt van 70% of hoër ook oorweeg word vir toelating tot die program.

Du Toit reken dat die voornemende student in besonder lief moet wees vir jong kinders en om saam met hulle te leer en te speel. “Die grondslagfase-onderwyser neem dikwels vir ʼn paar uur per dag die rol van die ouer in en het die besondere voorreg om elke dag boustene in ʼn kind se lewe te lê, sodat elkeen sy volle potensiaal kan bereik.”

Hy noem ook dat die persoon nuuskierig en liefdevol moet wees, asook ʼn dienende leier, binne en buite klasverband.

Volgens Du Toit word daar tans genoegsame grondslagfase-onderwysers in Suid-Afrika opgelei, maar met die snelveranderende universiteitslandskap word al hoe minder in hulle moedertaal Afrikaans opgelei. Du Toit noem verder dat die argument vir onderrig en leer in moedertaal lankal reeds gewen is. “ʼn Moedertaal, veral dan moedertaalonderwys, dra daartoe by om aan ons werklikheid op ʼn unieke, skeppende en diepgaande wyse gestalte te gee.”

Hy verduidelik dat daar ʼn groot aanvraag vir grondslagfase-onderwysers binne die volgende dekade gaan wees. “Volgens die statistieke van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) tree ʼn groot groep onderwysers binne die volgende tien jaar af en dit gaan ʼn leemte laat aangesien heelwat minder jong onderwysers toetree tot die beroep – veral dan ook in die grondslagfase.”

Volgende in aantog vir die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia is die ontwikkeling van nagraadse programme, programme wat voortgesette onderwys in diens sal ondersteun en kort kursusse om uitdagings in die onderwys aan te pak. “Ons studente word voorberei om lewenslange leerders te wees ten einde tred te hou en leiding te neem met die snelveranderende onderwysomgewing.”

  • Studieaansoeke vir BEd (Grondslagfase-onderwys) is reeds oop. Vir meer inligting oor die kwalifikasie, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Waar gaan al Akademia se Afrikaanssprekende, meestal wit, gegradueerdes eendag werk kry? Weet hulle van die harde werklikhede van regstellende aksie en BEE?
Nog iets: hoe kom Akademia by regstellende aksie en BEE verby? Wetgewing sê dat as ‘n besigheid se finansiële omset ‘n sekere bedrag oorskry en/of as die aantal personeel ‘n sekere getal oorskry, MOET regstellende aksie toegepas word. So, gaan Akademia oor 13 jaar, wanneer my kind reg is om daar te studeer, nog steeds dieselfde Afrikaanse Akademia van vandag wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.