Groot drome en miniatuur stoomlokomotiewe  

Deur Sarie Marais-Nell

Andries Keyter. (Foto: Skermskoot/Wynland TV-video)

Doreen, ʼn karaktervolle stoomaangedrewe miniatuurlokomotief wat besoekers bo-oor ʼn miniatuurbrug en deur sy eie tonnel vervoer op ʼn terrein wat elke naweek oop is, is deesdae buite Stellenbosch aan’t stoom.

“Vir die prys van ʼn fliekkaartjie kan gesinne ʼn hele dag se stoomtreinpret en vars buitelug geniet, piekniek hou uit hul eie mandjie of hier iets te ete kom koop,” vertel Andries Keyser, die 33-jarige eienaar van Winelands Light Railway (WLR).

Wanneer besoekers by die treinstasie op miniatuurtrokke klim en op hul roete verby reuse- wilde diere ry, geniet hulle die eindresultaat van 18 maande se navorsing, voorafwerk rondom dreinering, aanplant van honderde bome, 40 werkdae se grondverskuiwing weens die ongelyke terrein, die bou en aanlê van spoorlyne, stasies, brûe en tonnels – midde-in 2019 se waternat winter.

Die stoomtreinroete het sy eie miniatuurbrug, -tonnel en -stasie.

En toe die miniatuurtreinroete Desember 2019 open, kon niemand raai virusverwante inperkings sou drie maande later WLR se wiele tot stilstand laat knars nie.

Gelukkig het Andries en sy vrou, Gisela, ʼn gesonde skoot kreatiwiteit en altyd ʼn paar nuwe “crazy Keyser”-projekte in hul mou – hul vriende se beskrywing van die energie en dryfkrag waarmee Andries elke nuwe stoomenjin-projek aanpak.

Daarom stoom WLR nou voort as Afrika se enigste kommersiële miniatuurspoorweg wat elke naweek en skoolvakansie toeriste ontvang. As toegif kan ʼn stoomlokomotief nou ook ʼn komende baba se geslag met pienk of blou stoom aankondig – ʼn gewilde nuutjie.

Gisela Keyser by Andries se eerste selfgeboude miniatuur stoomlokomotief, Doreen.

Andries en Gisela is gebore Natallers en het ʼn soortgelyke stoomtreinroete by Piggly Wiggly in Pietermaritzburg bedryf. Maar toe roep die Boland. “Dit het ses besoeke aan die Kaap gekos voor ek die perfekte ligging hier in Koelenhof opspoor, met ongelooflike berge in die agtergrond. Al was die trek hierheen ʼn hengse groot skuif; met slegs ons lokomotiewe, ʼn bed en ons honde.”

Sedertdien is Andries verstom oor enjinvriende se ondersteuning: “Lokomotief-entoesiaste wat hou van dit wat hier gebeur besoek ons gereeld, spring in en lewer waardevolle insette. Ek bedank gereeld manne soos Peter van Niekerk, op wie se grond WLR gebou is, Stellenbosch se Piet van der Merwe se gereelde bydraes, Charles Viljoen van Pretoria se span lokomotiewe wat hier die waens help sleep, Neville Thomson wat verlede jaar kort voor sy dood sy unieke lokomotief aan my toevertrou het, so ook John Sharpe van Fochville se baie gewilde rooi dieselenjin.

John Sharpe, Charles Viljoen en Andries Keyser by ‘n versameling kosbare stoomlokomotiewe buite Stellenbosch.

“Ons sal binnekort ʼn museumgebou benodig om al die pragstukke op permanente vertoning te kan staanmaak. Die ware stoommeesters se onvervangbare kennis is saam met hulle begrawe, daarom het ons ʼn trust gevorm om hierdie kosbaarhede te beskerm.”

Andries het die hele roete, sinjale ingesluit, ontwerp en gebou.

Andries vertel hoe het John en Charles in 2019 kom help met die laaste sweiswerk en spore lê. “Toe ons die stasiedak aanmekaar skroef, herontdek John sy hoogtevrees, so vyf meter bokant die perron. Dit was te naby aan WLR se opening – daar was g’n tyd vir fobies nie, ons moes vasbyt en klaarmaak!”

Andries se liefde vir stoomenjins het van jongs af sy eiesoortige lewensroete bepaal. Hy wou reeds as 12-jarige aansluit by volwasse enjin-entoesiaste se model-ingenieursvereniging, waar hulle modelvliegtuie, -skepe en -stoomlokomotiewe bou. “Ek was hiperentoesiasties en sekerlik ʼn pyn in hul dingesse, en het natuurlik te veel van hul goed gebreek!”

Tog was hierdie volwassenes beïndruk met sy onafhanklike navorsing en indrukwekkende vermoë om moderne tegnieke te gebruik vir die bou van miniatuurmodelle. Op 19, toe sy maats studente raak en Andries nog voor die klasse begin van die universiteit af dros, raak hy betrokke in konstruksie- en metaalwerk. Tussendeur bestee hy elke vrye oomblik, middagete en saans in die werkswinkel om sy enjin te bou.

“Ná vyf jaar se sweet en trane is my lokomotief van 540 kg en 2,6m in Junie 2012 voltooi. Elke deeltjie is handgemaak en loop op ʼn 184 mm-spoorlyn.”

Hierdie eerste eie miniatuurstoomtreinlokomotief op 24-jarige leeftyd – presies op skaal en een-derde van die ware Jakob – het vir Andries regoor die wêreld aandag en aansien onder hardebaard stoomkenners verwerf.

Hy vernoem die lokomotief na sy ma, Doreen. “Sy’t my aan die lewe gehou met laataand eetgoed aandra. Hierna bou ek ook ʼn passasierswa op skaal.” Toe Andries toevallig besef hoeveel vermaakwaarde Doreen bied wanneer hy passasierswaens aanhaak, bou hy onder geweldige tydsdruk Piggly Wiggly se treinspore, nuwe treinwaens en drie kragtige elektriese lokomotiewe  om Doreen soms af te los.

“Ek moes lánk sukkel om lewensgetroue waens te bou wat ʼn stabiele rit op so ʼn smal spoor ry. Foto’s vanuit ʼn lae hoek geneem laat nou selfs kenners twyfel of dit ʼn miniatuurreplika is of nie.”

Is dit moeilik om te raai dat Andries op sy troudag in ʼn stoomtrein opgedaag het? Met trougaste wat saamspeel en volgens ʼn 1920-tema aantrek. Hierna bring iemand vir hom ʼn erg mishandelde miniatuurstoomlokomotief. “Sy het baie herstelwerk en ʼn nuwe stoomketel nodig gehad. Toe sy weer mooi lyk, vernoem ons haar na Gisela se ma, Anna.”

In 2017 daag iemand vir Andries uit om die Guinness-wêreldrekord met Doreen te verbeter. Daarvoor moes Andries se steenkoolgedrewe minatuurlokomotief binne 24 uur verder as 269 km ry om die 1994-rekord te verbeter.

Sommige stoomtreinkenners raai hom af om dit te doen, maar Andries vat vlam: “Danksy Gisela se beplanning pak tien van Suid-Afrika se beste drywers die rekord-aanslag aan, ons wou 10 km verder as die bestaande rekord ry.

“Alles was uitgewerk dat Doreen plus een passasierswa 20 km/h ry; haar gewone spoed met passasiers is 8 km/h. My maag het op ʼn knop getrek, elke keer as sy ʼn draai op 20km/h binnehardloop! Uiteindelik verbeter ons die vorige rekord; na 20 uur het Doreen klaar die ou rekord gebreek.

“My werk is onmoontlik sonder Gisela se hulp. Ek is so bly ek het iemand gevind wat my passie verstaan.”

Benewens sy matrieklokomotief, sy Doreen en Anna, het hy ook drie elektriese miniatuurlokomotiewe, 21 treintrokke en meer as 2 km se treinspore gebou. En pak hy geen taak aan sonder ordentlike navorsing nie. “Is ek dalk selfsugtig om my dae te wy aan dit wat ek sóveel geniet?”

Andries se Facebook-blad, Keyser Locomotive Works, vir meer inligting en foto’s.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Pragtig, beïndruk. Hou die stoomenjins aan die stook. Pragtige geskiedenis. Maak net seker die skoorsteenroet steek nie jou veld aan die brand nie. Die ware Jakob het dit al aan my veld gedoen.

Frieda

Bravo!! Jy is ‘n yster!!

RS

Pragtige plek om te besoek.

Jerry

Ek sal defnitief n punt wil maak om die hele uitleg met my eie oe te sien. Fantaties.

Dorothea Maria

Neem gerus ook kennis van die oom op Riviersonderend wat perfekte replikas op skaal bou. Vra sommer by ‘n eiendomsagent, hulle sal jou op sy spoor kan sit :-)