Die Centurion Lake Hotel wat vandeesweek groot skade gely het tydens die swaar reënbuie wat oor Gauteng uitgesak het, het die kos wat in die hotel was Dinsdag aan Solidariteit Helpende Hand geskenk.
Die skenking, wat na raming tussen R25 000 en R30 000 werd is, sluit bevrore en bederfbare goedere in soos varkworsies, spek, pizzas, samoesas, kaas, croissante en brood.
Volgens Mariana Kriel, Helpende Hand se streekskoördineerder vir Gauteng-Noord, is die organisasie deur die hotel gekontak om die skenkings te kom haal, omdat die bestuur gereken het die kos sou verlore gaan terwyl herstelwerk aan die hotel plaasvind.
Candice Morawitz, die streeksbemarkingsbestuurder vir die Legacy Groep, wat die Centurion Lake Hotel besit, vertel aan Maroela Media dat die hotel tydelik gesluit is omdat redelik erge skade aan die hotel aangerig is. “Ons ontvangsarea het totaal oorstroom, ons gimnasium is beskadig, ons kantoorarea waar die bestuur gewerk het, is beskadig, asook ons ondergrondse en buite parkeerterreine en ons palissade heinings,” vertel sy.
Die hotel se hysbakke, wat tussen die ondergrondse parkeerterrein en die boonste verdieping van die hotel diens doen, moet ook vervang word. Die skade aan die hotel sal hierdie week, wanneer waardasies gedoen word, bepaal word.
Morawitz sê dat die hotel besluit het om die kos aan Helpende Hand te skenk omdat die organisasie aktief in die Centurion-gemeenskap betrokke is.
“Selfs terwyl die kos met toue opgehys is, moes personeel koes vir die water wat weer opgestoot het,” sê Kriel.
Verder sê sy dat die kos aan Moeggesukkel, ’n huis vir dwelmverslaafdes en hawelose mense in Centurion, geskenk sal word.
As gevolg van die baie reën het dié organisasie probleme gekry met hul dak wat nie die water kon hanteer nie en is hul plafon in verskeie dele van die huis beskadig. Moeggesukkel het ook groot kosverliese gehad as gevolg van die talle kragonderbrekings wat beurtkrag gebring het. “Die skenking gaan ons baie help, omdat ons tans 90 mense in ons sorg het,” sê Jacques Papenfus, die stigter van Moeggesukkel.
Jammer vir julle skade, maar ook baie dankie vir julle skenkings aan die organisasie.
Dankie Legacy Groep. Die beteken baie dat julle in hierdie moeilike tyd vir julle as groep, nog aan ander ook dink. Wat vir my nog meer beteken is dat julle ‘n groep ondersteun wat uit Afrikaanse mense bestaan. Weens die politieke korrektheid wil baie besighede en organisasies hulself nie met Solidariteit vereenselwig nie, maar julle wys vir almal dat nood geen taal of kleur ken nie!
Baie dankie vir jul onbaatsugtige lifdes en omgee daad te midde van jul nood. God hgaan jul meer as wat jul kan verstaan vergoed
Jammer vir die skade maar so werk God so bly die hotel het aan die Huis gedink dis wonderlik ek kry skoon hoendervleis.
Dis jammer dat julle skade moes ly , maar God seen julle vir hierdie skenkings!