GROOTfm se omgeegemeenskap

lindie stardom

Lindie Strydom.

Atterbury Trust het bykans drie jaar gelede in GROOTfm 90.5 belê en is ook betrokke op bestuursvlak. Saam maak hulle omtrent ʼn wenspan uit en doen wonderlike werk om die inwoners van Pretoria aan te moedig om betrokke te raak by hul medemens en gemeenskap. Lindie Strydom deel ʼn paar van hul jongste en gewildste, inisiatiewe waarmee hulle mense bymekaarbring.

Jul bekendste volgehoue projek is HOOPstoot. Hoe lank bestaan dit al en hoe lyk dit nou in 2017?

Die basiese beginsel van HOOPstoot is om aan mense, wat reeds ʼn pad geloop het om hul eie omstandighede te verbeter, daardie ekstra hup-, oftewel “HOOPstoot” te gee. Ons ondersteun en versterk wat hulle reeds self gedoen het en sodoente belê ons in ware hoop. Ons kies spesifiek stories wat ons glo ander ook sal inspireer om eienaarskap en verantwoordelikheid vir hulle lewens te aanvaar.  Dan bring ons borge of ander hulpmiddels aan boord en kyk hoe ons die mense kan help om hul doel te bereik. Dit is geweldig bevredigend om iemand wat eie inisiatief aan die dag lê daardie ekstra bietjie hulp te gee om hul doel te bereik. En wat wonderlik is, is dat ons luisteraars en kykers kan deelneem en bydra. As mediaplatform kan ons die stories vertel en hopelik daartoe bydra om ʼn omgeegemeenskap te bou.

Hoeveel mense het julle reeds so gehelp en kan jy een storie vir ons uitsonder?

Dis moeilik om ʼn spesifieke storie of behoefte uit te lig, want in elkeen het ons gepoog om met ons #GROOTindieklein aanslag (getrou in die onsigbare, onbenullige, klein details) ʼn spesifieke behoefte spyker-op-die-kop presies te ontmoet. Ons is baie dankbaar dat ons in 2016 saam met vriende en vennote mense kon help met van ʼn rolstoel, bromponie en motor, tot Bybels, bome, brille, beurse en warm baadjies, ʼn tandartsstoel en operasie, skoene en skryfbehoeftes, kospakkies en kunsgoedere, rekenaars en vrieskaste, JoJo-tenks en selfs mooi-maak-bederfgeleenthede!

#JouMenseMyMense – hoe werk hierdie nuwe idee in die praktyk?

Die omvang van die nood laat mens soms oorweldig voel! Net omdat ons nie alles vir almal kan wees en doen nie, beteken nie ons moet ons gewone menslike omgee verloor wat fokus op dit wat ons wel vir mekaar kan doen nie. Ons wil met hierdie inisiatief sê as jy iemand en hul behoefte of omstandighede op die hart dra, dra ons saam! Ons sal jou “instaan-familie” wees as tyd, geld of afstand maak dat jy nie by ouma se 90ste verjaardag of daardie geliefde wat aansterk in die hospitaal kan uitkom nie. Dis mos die dáár wees wat tel, die gebaar van liefde en omgee, die persoonlike boodskappie en ʼn bietjie bederf.
Een van die eerste mense wat genomineer is, was ʼn bejaarde vrou van Pretoria wat drie aangenome kinders grootgemaak het en tans ʼn vierde meisie, wat nou in matriek is, soos haar eie kleinkind versorg. Sy het haar staatspensioen aangevul met ʼn deeltydse boekwinkelwerk en au pair-werk en so kon sy haar matriekkind onderhou en sorg dat sy die nodigste het. Ongelukkig het sy onlangs siek geword en haar ekstra inkomste verloor, wat hul daaglikse bestaan ontsettend ingeperk het.

#JouMenseMyMense se leuses is “ʼn gedeelde las is altyd ligter”, en “saam is ons beter” en danksy twee Spar-winkels kon ons hierdie liewe vrou verras met ʼn reuse geskenkpak en blomme, asook ʼn geskenkbewys.

Watter van jul gereelde inisiatiewe geniet jy die meeste?

Ek is baie lief vir #GoeieNuusVrydag, want dit werk direk in teen al die slegte nuus waarmee mens daagliks gebombardeer word. As mens na die gewone nuus kyk, wil-wil jy sommer swartgallig raak, dus het ons in 2015 begin met #GoeieNuusWeek, juis om goeie nuus en inspirerende stories van hoop te deel en Suid-Afrikaners se energie op die positiewe te rig!

Watter van die projekte saam met Atterbury lê jou die naaste aan die hart?

Ek deel beslis Atterbury Trust se passie vir opvoeding en opleiding. Ek glo die beste belegging om die jeug van Suid-Afrika se toekoms permanent te verander, is ongetwyfeld opleiding. Dis presies wat Atterbury Trust se hooffokus is en die rede waarom hulle sedert 1999 al meer as 600 studente gehelp het, wat vandag ons land se ingenieurs, ouditeure, advokate en dokters is.

Artikel verskaf deur Atterbury Trust

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.