Grootste Grap: Hier is die top-10-grappe

Ter viering van Maroela Media se tiende verjaardag in 2021 het ons dit goedgedink om die Grootste Afrikaanse Grap van Alle Tye aan te wys. Die grap wat jou elke keer laat glimlag as jy dit hoor, laat skater as jy dit oorvertel en laat lê van die lag as jy onverwags weer daaraan terugdink.

Maar dis ʼn demokrasie: hier in Maroela-fontein tel jou stem ook – ons wil weet watter van dié 10 grappe is jóú gunsteling. En ons gee jou nie inkkol op jou duim nie, by ons staan jy die kans om een van twee vakansies na Mauritius te wen met die komplimente van World Leisure Holidays*!

Hoe het ons tot hier gekom?

Tydens ons eerste fase het ons lesers gevra om hulle gunstelinggrappe in te dien. Dit is dus nie jou eie grap of ʼn grap wat jy self uitgedink het nie, dis sommer net ʼn grappie waarvoor jy elke keer lag as jy dit hoor. En die grappe het behoorlik ingestroom!

Ons beoordelaarspaneel van grapmakers het saam kopgekrap om die top-50 beste grappe met die hand uit te soek. Ons lesers het dié 50 grappe bestudeer, gelag, daaroor nagedink, weer gelag, en toe hul bestes uit vyf kategorieë aangewys.

Die tien beste grappe het nou finaal deurgedring na die top-10. Dié 10 grappe ding nou teen mekaar mee sodat slegs een grap uiteindelik as die Grootste Afrikaanse Grap van Alle Tye aangewys kan word.

Onthou: Indien jy ʼn grap in die top-10 sien wat jy ingedien het, dit nie noodwendig jóú grap is nie. Ons het verskeie grappe meer as een keer ontvang. Slegs die persoon wat die wengrap heel eerste ingeskryf het, wen die Mauritius-vakansie ter waarde van R70 000. Enigiemand wat egter aan die stemproses deelneem, kom in aanmerking vir die tweede Mauritius-vakansie ter waarde van R50 000.

Die sluitingsdatum van die tweede fase van die veldtog (om vir die top-10 te stem) is 19 November 2021. Jy kan hier op Maroela Media jou stem uitbring (onderaan hierdie bladsy) of besoek grootstegrap.co.za waar jy boonop ʼn video-opname kan sien waar ʼn grapmaker dié onderskeie grappe vertel.

Die tien finaliste

In geen spesifieke volgorde nie:

  • Die budgies

Die outjie hoor ʼn oom verkoop budgies.
Hy suiker af na die oom en vra wat vra hy per budgie.
“R5,” sê die oom.
“Ek wil asseblief daai bloue hê, Oom.”
“Luister boet, die hele hok is vol budgies en almal is R5. Ek gaan nie die bloue probeer vang nie. Jy sal maar die eerste een wat ek vang moet vat.”
Die outjie hou aan hy wil die blou een hê.
Hy sien die oom begin hom te vererg en sê: “Ek sal oom betaal wat my pa vir ʼn skaap betaal.”
Baie vinnig gryp die oom sy vangnet en met ʼn groot gesukkel vang hy die bloue. In die proses skryf hy ʼn paar ander budgies af. Hy sit die budgie in ʼn papiersakkie met gaatjies en gee vir die outjie.
“Hoeveel betaal jou pa vir ʼn skaap?”
“R35 per kilogram, Oom. Sal Oom asseblief vir my die budgie weeg?”

  • Brief uit die tronk

Die pa stuur ʼn brief aan sy seun in die tronk: “Ek sal nie dié jaar aartappels kan plant nie. Die lande is nie omgespit nie, want jy is nie hier om uit te help nie.”
Die seun skryf terug: “Dit is ook maar goed, want die geld wat ek gesteel het, is in die lande begrawe.”
Die volgende dag toe is die polisie op die plaas en spit alles om, op soek na die geld, maar kry niks nie.
Die seun skryf weer aan sy pa: “Pa kan nou maar plant, dit is die beste wat ek kon doen van hier af!”

  • Jerigo se mure

ʼn Nuutaangestelde inspekteur van onderwys lê besoek af aan ʼn plattelandse skool. Daar gekom loer die inspekteur by die graad 5-klas se Bybelonderrig-sessie in. Hy vra ʼn paar vrae.
Hy teiken toe vir Jannie met hierdie een: “Jannie, kan jy vir my verduidelik wat gebeur het dat Jerigo se mure omgeval het?”
Jannie bars in trane uit en sê: “Meneer dit was nie ek nie!”
Die inspekteur kyk verbaas na die Juffrou.
Sy wring haar hande en sê: “Meneer, Jannie is ʼn baie eerlike en ʼn goeie kind. Ek ken sy ouers. Hy kom uit ʼn baie goeie huis uit. As hy sê hy het dit nie gedoen nie, dan het hy nie.”
Die inspekteur vervies hom en storm na die hoof se kantoor toe om te vertel wat gebeur het.
Die skoolhoof spring op en sê: “Meneer! Ek ken die juffrou baie goed en vertrou haar oordeel. As sy sê Jannie het dit nie gedoen nie, dan het hy nie!”
Meneer Inspekteur vererg hom toe en jaag terug na sy kantoor en rig ʼn skrywe aan die direkteur van onderwys se kantoor oor die geval waarin hy sy misnoeë uitspreek oor die hoof en die onderwyseres.
Drie weke later kry hy ʼn antwoord: “U moet ons asseblief nie met beuselagtighede ophou nie. Kry drie kwotasies en laat herbou die mure.”

  • Die gehoorapparaatjie

Van Tonder kom agter dat hy bietjie doof word en besluit om ʼn gehoorapparaat te koop. Hy’s net bietjie doof, en verdomp suinig, so hy wil nie baie geld uitgee nie.
“Hoeveel kos die goed?” vra hy vir die klerk.
“Dit hang af meneer, ons het modelle van R20 tot R2 000.”
“Nou man, waarvoor wag jy, wys my die R20-model.”
Die klerkie vroetel in ʼn laai, haal ʼn apparaat uit en hang dit om Van Tonder se nek. “Meneer, jy druk nou net die knoppie in jou oor en laat hang die toutjie tot in jou hemp se sak.”
“Ja ja, maar hoe werk die ding?”
“Meneer, vir R20 werk hy nie eintlik nie, maar as die mense sien jy het dit aan, praat hulle sommer harder!”

  • Kallie, Gerrie en Mike op die eiland

Kallie, Gerrie en Mike is gestrand, al vir maande op ʼn pragtige eiland. Eendag spoel daar ʼn bottel uit met ʼn briefie in. Hulle maak dit oop en lees: “Ek is ʼn goeie-wens-bottel. Elkeen van julle kry een wens.”
Kallie se dadelik: “Ek wens ek was nou op my plaas.” Woeps weg is Kallie.
Gerrie kyk so en sê: “Ek wens ek was nou by my eie huis.” Woeps weg is Gerrie.
Ou Mike kyk so rond, krap sy kop en sê: “Sjoe, ek wens ou Kallie en ou Gerrie was nou hier!”

  • Die huweliksberader

Die man en vrou is by die huweliksberader.
Vrou: “Dokter, daar is niks oor van ons 27 jaar se huwelik nie!” En sy gaan voort en vertel van al haar man se swakhede. “Daar is niks liefde nie, geen aanraking meer nie. Geen komplimente nie.” En so woed sy vir nog 15 minute lank voort.
Die berader staan op, neem die vrou in sy arms en druk haar teen hom vas. Hy gee haar ʼn sagte soen – eers in die nek en toe op die mond. Die vrou is in absolute ekstase.
Berader, aan die man: “Dít is wat jou vrou nodig het. Drie maal per week. Kan jy dit doen?”
Man: “Wel, Dokter, ek kan haar Maandae en Woensdae hier aflaai, maar Vrydae vang ek ongelukkig vis!”

  • Honde-begrafnis

Ou Jan se hond is dood en hy gaan na die kerkkantoor om vir die dominee te vra of hy sy geliefde hond se begrafnis uit die kerk kan hou.
Die dominee sê vir hom: “Nee broer Jan, die reëls en regulasies van die kerk bepaal dat ons nie diere uit die kerk uit kan begrawe nie.”
Jan sê: “Dit is nou regtig jammer, ek was bereid om om R100 000 te spandeer op die begrafnis.”
Dominee: “Nee wag broer Jan, jy het nooit aan my genoem dat hierdie ʼn NG-hondjie was nie!”

  • Die krewe

Die polisie vang ou Johannes een aand met vier krewe.
“Meneer, het jy ʼn lisensie om die krewe te vang?”
“Nee,” sê Johannes. “Dis sommer my troeteldiertjies. Ek bring hulle elke aand om ʼn bietjie te swem. Ná ʼn rukkie dan fluit ek en dan kom hulle weer na my toe en dan stap ons huis toe.”
“Maar jy lieg mos nou, meneer.”
“Nee meneer, kom ek wys jou dan,” sê Johannes.
Hy sit die krewe in die water en hulle swem al dieper en dieper weg.
Ná ʼn rukkie vra die polisieman: “Wanneer gaan jy fluit?”
Johannes: “Fluit vir wie?”
Polisieman: “Vir die krewe.”
Johannes: “Watter krewe?”

  • Die wekkertjie

Aanklaer: “Gatiep, wat het jy gesteel?”
Gatiep: “ʼn Wekkertjie.”
Aanklaer: “En wat is die waarde van die wekkertjie?”
Gatiep: “So R16 000.”
Aanklaer: “Genade Gatiep, watse wekkertjie is so baie geld werd?”
Gatiep: “’n Kragopwekkertjie.”

  • Die diens

Eendag merk die dominee ʼn klein seuntjie in die voorportaal van die kerk op wat aandagtig na ʼn groot gedenkplaat teen die muur staan en kyk. Dit is oortrek met name en daar was klein landsvlaggies weerskante.
Die dominee loop nader, kom staan langs die seuntjie, en sê saggies: “Goeiemôre, my seun.”
“Môre, dominee,” sê hy, met sy oë nog vasgenael op die plaat. “Dominee, wat is dit hierdie?”
Die dominee antwoord: “Wel, my seun, dit is ʼn gedenkplaat vir al die jongmanne wat in die diens gesterf het.”
In doodse stilte en met groot eerbied staan die twee voor die plaat en staar na die name. Uiteindelik, in ʼn skaars hoorbare stemmetjie en bewend van vrees vra die seuntjie:
“Watter diens, dominee? Die oggend- of die aanddiens?”

Stem nou vir jou gunsteling grap

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Slegs persone ouer as 18 mag aan die veldtog deelneem.
  • Deelnemers moet ʼn Suid-Afrikaanse burger wees om in aanmerking te kom vir die prys.
  • Die beoordelaars se besluit oor die grappe is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die beoordelaars het uiteindelik ook ʼn stem, soortgelyk aan lesers, om te bepaal watter grap uiteindelik as die wengrap aangewys word.
  • Die prys vir die persoon wat die wengrap ingeskryf het is ʼn Mauritius-vakansie ter waarde van R70 000 met die komplimente van World Leisure Holidays.
  • Die prys vir enigiemand wat aan die stemmery deelneem, is ʼn Mauritius-vakansie ter waarde van R50 000 met die komplimente van World Leisure Holidays.
  • Die wenner se naam sal deur middel van ʼn elektroniese stelsel lukraak plaasvind.
  • Die pryse is nie oordraagbaar nie.
  • Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Die wenner is verantwoordelik om self die bespreking te doen by World Leisure Holidays met die koepon wat aan jou verskaf sal word.
  • Die wenner is verantwoordelik daarvoor om seker te maak dat hulle ʼn paspoort besit en ook dat hulle paspoort vir minstens 6 maande na die beplande reisdatum steeds geldig is.
  • Die wenner is ook verantwoordelik daarvoor om te voldoen aan enige regulasies wat Mauritius se regering bepaal tydens die Covid-19-pandemie.
  • Die prys is geldig tot 31 Desember 2022.
  • Akkommodasie en vlugte is onderhewig aan beskikbaarheid.
  • Die sluitingsdatum om vir die top-10 te stem is 19 November 2021.
  • Die wenners se name sal op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Vervoerkoste na en van die lughawe in Suid-Afrika is nie by die prys ingesluit nie.
  • Enige ander uitgawes tydens jou vakansie is vir jou eie rekening.
  • Maroela Media en World Leisure Holidays kan nie aanspreeklik gehou word vir enige skade of verlies wat jy mag ly indien jy van die vakansieprys gebruik maak nie.
  • Lughawebelasting van ongeveer R4 400 per persoon (afhangend van lugredery) is uitgesluit van die prys.
  • Indien die wenner nie die lughawebelasting kan betaal nie, verbeur jy die prys.
  • Alle drankies en items van persoonlike aard, soos byvoorbeeld “wasgoeddienste” ens. is uitgesluit by die prys.
  • Deur aan hierdie veldtog deel te neem, stem jy in om World Leisure Holidays se reisnuusbrief te ontvang. Jy kan enige tyd op die nuusbrief uitteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.