Grootste Grap: Kom stem vir die top-10

As daar nou een ding is wat eie is aan Afrikaanssprekendes (buiten koeksisters, biltong en pannekoek) is dit dat ons graag lekker lag. Ons vertel grappe tot laataand om die kampvuur, ons lag lekker saam om die kombuistafel en die spreekwoordelike ink is soms nog nie eers droog in die koerant met ʼn berig oor ʼn nuwe skande nie, dan steek daar al ʼn grap of twee sy kop uit.

Ter viering van Maroela Media se tiende verjaardag in 2021 het ons dit goedgedink om die Grootste Afrikaanse Grap van Alle Tye aan te wys. Die grap wat jou elke keer laat glimlag as jy dit hoor, laat skater as jy dit oorvertel en laat lê van die lag as jy onverwags weer daaraan terugdink.

Maar dis ʼn demokrasie: hier in Maroela-fontein tel jou stem ook – ons wil weet watter van dié 10 grappe is jóú gunsteling. En ons gee jou nie inkkol op jou duim nie, by ons staan jy die kans om een van twee vakansies na Mauritius te wen met die komplimente van World Leisure Holidays*!

Hoe het ons tot hier gekom?

Tydens ons eerste fase het ons lesers gevra om hulle gunstelinggrappe in te dien. Dit is dus nie jou eie grap of ʼn grap wat jy self uitgedink het nie, dis sommer net ʼn grappie waarvoor jy elke keer lag as jy dit hoor. En die grappe het behoorlik ingestroom!

Ons beoordelaarspaneel van grapmakers het saam kopgekrap om die top-50 beste grappe met die hand uit te soek. Ons lesers het dié 50 grappe bestudeer, gelag, daaroor nagedink, weer gelag, en toe hul bestes uit vyf kategorieë aangewys.

Die tien beste grappe het nou finaal deurgedring na die top-10. Dié 10 grappe ding nou teen mekaar mee sodat slegs een grap uiteindelik as die Grootste Afrikaanse Grap van Alle Tye aangewys kan word.

Onthou: Indien jy ʼn grap in die top-10 sien wat jy ingedien het, dit nie noodwendig jóú grap is nie. Ons het verskeie grappe meer as een keer ontvang. Slegs die persoon wat die wengrap heel eerste ingeskryf het, wen die Mauritius-vakansie ter waarde van R70 000. Enigiemand wat egter aan die stemproses deelneem, kom in aanmerking vir die tweede Mauritius-vakansie ter waarde van R50 000.

Die sluitingsdatum van die tweede fase van die veldtog (om vir die top-10 te stem) is 19 November 2021.

Só maak jy:

  • Besoek grootstegrap.co.za
  • Kies die grap waarna jy wil luister. Daar is 10 grappe om van te kies.
  • Bo-aan elke grap is ʼn video-opname van een ons grapmaker-beoordelaars wat dié grap vertel.
  • Blaai links en regs deur die verskillende grappe.
  • Klik op die “stem vir hierdie grap”-blokkie as jy vir ʼn spesifieke grap wil stem – jy kan die grap ook op jou Facebook-blad of Twitter deel.

Moenie op jou laat wag nie – laat die eindstryd begin!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.