Grootste Grap: Nou krap ons kop

Grappe is so eie aan Afrikaans soos koeksisters, biltong en pannekoek. En veral in ʼn tyd waarin peste en pestilensies ons almal pê het, is ons Afrikaanssprekendes mos bekend daarvoor dat ons vinnig-vinnig ʼn gepaste (en soms onvanpaste) grappie uitdink om mekaar beter te laat voel.

Ter viering van Maroela Media se tiende verjaardag in 2021 is ons op soek na die Grootste Afrikaanse Grap van Alle Tye. Boonop staan jy die kans om een van twee vakansies na Mauritius te wen met die komplimente van World Leisure Holidays*!

Tydens ons eerste fase het ons lesers gevra om hulle gunstelinggrappe in te dien. Dit is dus nie jou eie grap of ʼn grap wat jy self uitgedink het nie, dis sommer net ʼn grappie waarvoor jy elke keer lag as jy dit hoor. En die grappe het behoorlik ingestroom!

Nou moet ons beoordelaarspaneel van grapmakers saam kopkrap om die top-50 beste grappe met die hand uit te soek. Ons maak binnekort dié top-50-grappe bekend en jy sal dan vir jou gunstelinge kan stem sodat ons uiteindelik die top-10 kan aanwys.

Onthou: Indien jy ʼn grap in die top-50 sien wat jy ingedien het, dit nie noodwendig jou grap is nie. Ons het verskeie grappe meer as een keer ontvang. Slegs die persoon wat die wengrap heel eerste ingeskryf het, wen die Mauritius-vakansie ter waarde van R70 000. Enigiemand wat egter aan die stemproses deelneem, kom in aanmerking vir die tweede Mauritius-vakansie ter waarde van R50 000.

Wie krap saam kop? Ontmoet ons beoordelaarspaneel: 

Lizz Meiring 

Lizz Meiring (Foto verskaf)

Liz is aktrise, regisseur, teatervervaardiger, TV-aanbieder, seremoniemeester, spreker, kunsteaktivis, kreatiewe konsultant en skrywer. Sy verwys graag na die komediant Bob Hope se aanhaling: “Humor is maar net ʼn snaakse manier van ernstig wees.”

Jaco Jacobs 

Jaco Jacobs (Foto verskaf)

Jaco is ʼn kinderboekskrywer wat reeds meer as 170 boeke gepubliseer het. Sy boeke het al meer as 1 miljoen eksemplare verkoop en is in Engels en Italiaans vertaal. Grapboeke het ook al uit sy pen verskyn. Hy sê: “Ek dink in hierdie dae van pandemievoosheid en landsake-moedeloosheid is ’n lekker grap net die ding om ons daaraan te herinner om onsself en die lewe nie altyd so ernstig op te neem nie. Ons Suid-Afrikaners het nog altyd die fantastiese vermoë gehad om selfs die donkerste tye met ’n grappie of twee te verlig; en ek dink nogal dit sê iets oor ons uithouvermoë en aanpasbaarheid as ’n nasie.”

Johny Klein 

Johny Klein (Foto verskaf)

Johny is ʼn akteur en stemkunstenaar. Jy sal sy stem herken as jy gereeld Maroela se radiovervolgverhale volg. Hy sê: “Wat is die lewe sonder lekker grappies? Dis die beste medisyne vir ‘n seer hart! En onthou, wie laaste lag, lag die lekkerste!”

Su-an Müller-Marais

Su-an Müller-Marais (Foto verskaf)

Su-an is radio-omroeper, stemkunstenaar en TV-aanbieder. Sy het al in ʼn paar sepie-episodes verskyn en jy sal haar stem ook herken as jy gereeld na Maroela se radiovervolgverhale luister (en natuurlik die gewilde #HoeNou?!-podsending saam met prof. Gerhard van Huyssteen). Su-an se gunstelingaanhaling kom van komediant Robin Williams: “Mens kry net ʼn klein vonkie malligheid. Mens moet dit nie verloor nie.”

Luan Jacobs

Luan Jacobs (Foto verskaf)

Luan is ʼn akteur en skrywer. Hy het al verskeie teaterproduksies, radiodramas, flieks en kortflieks geskryf en die regie en vervaardiging daarvan behartig. Hy geniet skrywer Kristine Joy Escarilla se aanhaling: “As mens die humor in jou eie probleme kan raaksien, dan sal jy uiteindelik in ʼn ander lig daarna kyk.”

Tiaan Ras 

Tiaan Ras (Foto verskaf)

Tiaan is die strategiese direkteur van die advertensie-agentskap Etiket. Maroela en Etiket het in 2013 ʼn silwer Pendoring-toekenning ontvang vir Maroela se veldtog, die Grootste Afrikaner van Alle Tye. Tiaan sê: “Natuurlik is humor lekker, want dit laat ons lag. Maar humor daag jou ook elke keer uit om die lewe vir ʼn klein rukkie deur ʼn nuwe lens te sien, want dit wat jy oor die werklikheid aangeneem het, is pas verkeerd bewys. En dis juis die ‘verkeerd’ wat ons laat lag.” Wat laat hom lag? “Amper als! Woordspelings, skokhumor, droë grappe, absurde humor, goeie stories. Selfs my meestersgraad was ʼn grap. Dit het regtig oor humor gehandel.”

Só werk dit 

Dié paneellede gaan nou saam met Maroela uit al die inskrywings soek om uiteindelik die top-50 beste grappe aan te wys waarvoor die publiek kan stem sodat ons die top-10 kan saamstel.

Jy kan van 12 Oktober weer kom inloer op die webwerf grootstegrap.co.za om vir jou gunstelinge te stem.

Wat jy kan wen 

Sodra die wengrap aangewys is, sal die persoon, wat heel eerste die wengrap genomineer het, aangewys word as die wenner van die Mauritius-vakansie ter waarde van R70 000.

As jy nou aan die stemmery vir die top-50 of top-10 deelneem en jou naam word uiteindelik lukraak getrek, wen jy ʼn vakansie na Mauritius* met die komplimente van World Leisure Holidays ter waarde van ongeveer R50 000 – afhangende van die seisoen.

Dit sluit in:

Vyf nagte vir twee persone wat ʼn kamer deel, by die vyfster- Longbeach Resort, insluitend die volgende:

  • Retoervlugte tussen Johannesburg en Mauritius in ekonomiese klas
  • Vyf nagte in ʼn Junior Suite
  • Ontbyt en aandete
  • Retoer na en van die lughawe in Mauritius met hotelvervoer
  • Alle komplimentêre water- en land sport soos uiteengesit in die hotelbrosjure
  • Reisversekering.

Let op: Die prys is geldig tot 31 Desember 2022.

Uitgesluit:

  • Jou vervoer na en van die lughawe in Suid-Afrika
  • Lughawebelasting van ongeveer R4 400 per persoon (afhangend van lugredery)
  • Alle drankies en items van persoonlike aard, soos byvoorbeeld wasgoeddienste ens.

*Bepalings en voorwaardes geld.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.