Grootste onderwysbeurs in SA bekendgestel

onderwys-appel-pen-merkwerk

Argieffoto.

Twee van die grootste onderwysbeurse in private hoër onderwys is Dinsdag in Pretoria bekendgestel.

Aros, ʼn private hoëronderwysinstelling wat onderwysers oplei, bied in samewerking met Pretoria FM en die Rapport Onderwysfonds aan twee top-presterende Afrikaanse studente die geleentheid om hulle vierjaar-onderwysgraad kosteloos by Aros te verwerf.

Die beurse ter waarde van R200 000 elk geld vir die volgende vier jaar.

Studente kan kies tussen ʼn BEd-graad in die grondslag- of intermediêre fase. Die intermediêre fase het twee rigtings waaruit gekies kan word, naamlik wiskunde en natuurwetenskappe of lewensvaardighede en sosiale wetenskappe.

Prof. Rikus Fick, die nuwe rektor van Aros, sê hierdie beurse is daarop gemik om die onderwysberoep en studies in onderwys weer prominent onder skoolverlaters se aandag te bring.

“Ons wil graag belê in belowende voornemende studente wat dit as ʼn roeping sien om onderwyser te word en wat wil studeer by ʼn instelling waar hulle op ʼn Reformatoriese grondslag onderrig ontvang. Ons land het sulke mense dringend nodig,” voeg Fick by.

Om in aanmerking te kom vir hierdie beurs, moet voornemende studente aan die volgende kriteria voldoen:

  1. ʼn Gemiddeld van ten minste 70% behaal het in graad 11 en ook in vanjaar se Junie-matriekeksamen. Vir persone tot en met die ouderdom van 21 wat reeds matriekgeslaag het, word finale matriekuitslae in berekening gebring.
  2. Deelname op skool en daarna aan sport, kultuur en ander aktiwiteite.
  3. Leiersposisies wat in verskeie omstandighede beklee is.
  4. Kandidate moet ook ʼn motivering van ongeveer 300 woorde skryf waarin hulle uiteensit waarom hulle onderwys by Aros wil studeer.

Aros se gemengde-onderrigmodel bied die ideale geleentheid waar onderwysers hul studie en praktiese onderwyservaring deur hul vier jaar van studie kan kombineer. Studente het of op ʼn Vrydag of op ʼn Saterdag klas op Aros se kampus in Waverley, Pretoria, en kan dus deur die week as assistent by skole werk.

Aansoeke vir die Prestige-beurs open op 18 Junie en sluit op 16 Augustus 2019. Besoek Aros se webblad by www.aros.ac.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.