Grootste onderwysbeurs in Suid-Afrika bekendgestel

(Foto: @jeshoots/Unsplash.)

Drie van die grootste onderwysbeurse in die private hoëronderwyssektor word vandag in Pretoria bekendgestel.

In samewerking met Pretoria FM en Rapport Onderwysfonds bied Aros aan drie top-presterende Afrikaanse studente die geleentheid om sy of haar vierjaar-onderwysgraad kosteloos by Aros te voltooi en te verwerf. Die beurse beloop tans R200 000 per beurs oor die volgende vier jaar. Dit sluit in ʼn BEd Grondslagfasegraad of ʼn BEd Intermediêre Fase-graad in een van die twee BEd Intermediêre Fase-rigtings of ʼn BEd Senior Fase & Volwasse Onderwys en Opleiding (VOO)- graad in een van die drie spesialiseringsrigtings.

Hierdie beurs is daarop gemik om die onderwysberoep en studie in onderwys weer prominent onder skoolverlaters se aandag te bring.

“Ons wil graag belê in belowende, voornemende studente wat dit as ʼn roeping sien om onderwyser te word en wat wil studeer by ʼn instelling waar hulle op ʼn Reformatoriese grondslag onderrig ontvang. Ons land het sulke mense dringend nodig,” aldus prof. Rikus Fick, rektor van Aros.

Om vir hierdie beurs in aanmerking te kom, moet kandidate

  1. ʼn gemiddeld van ten minste 70% behaal in die graad 11- en rekordeksamen – die punte van 2020-matrikulante word in ag geneem en daar word na die finale matriekpunte gekyk van persone, tot en met die ouderdom van 21, wat reeds matriek voltooi het,
  2. aan sport, kultuur en ander aktiwiteite deelneem,
  3. leierposisies oor ʼn wye spektrum van gebiede beklee en
  4. ʼn motivering van ongeveer 300 woorde skryf waarin die kandidate aandui waarom hulle onderwys by Aros wil studeer.

Aros se gemengde onderrigmodel bied die ideale geleentheid waar onderwysers hul studie en praktiese onderwyservaring deur hul vier jaar kan kombineer. Studente woon verpligte kontaksessies op sekere dae by die Aros-kampus in Waverley, Pretoria, by en kan dus deur die week as assistent by die skole werk.

  • Aansoeke vir die Prestige-beurs open op 20 Julie 2020 en sluit in Oktober 2020. Om aansoek te doen kan voornemende aansoekers Aros se webblad by ww.aros.ac.za besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.