Grootste onderwyskongres vir Afrikaanse onderwysdroom

sos-onderwyskongres-2018-06

Solidariteit Helpende Hand bied in Junie ‘n onderwyskongres in Gauteng en die Wes-Kaap vir sowat 800 opvoedkundiges aan. Foto: Onderwyskongres.co.za

Die land se grootste onderwyskongres sal later hierdie maand in Gauteng en die Wes-Kaap plaasvind waar meer as 800 opvoedkundiges die geleentheid sal kry om by talle kenners te kan kers opsteek oor verskeie aspekte wat onderwys en skole raak.

Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) bied die geleentheid op 20 en 21 Junie in Gauteng aan met nog ʼn kongres wat op 26 en 27 Junie in die Wes-Kaap sal plaasvind. Daar is ook ‘n leierskapkongres vir hoofde en adjunkhoofde op 19 Junie in Gauteng.

“Die kongres is die plek waar onderwysers weer kan hoop en moed skep. Dit is ook die plek waar hulle hul professionele ontwikkeling kan kom kry,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand.

Brink sê navorsing het al telkemale bewys Afrikaanse onderrig is van wêreldgehalte.

“Die SOS wil met hierdie kongres die gehalte van Afrikaans vier en dié onderwysers se hande versterk. Afrikaanse onderwysers moet voel dat hulle deurentyd ondersteun word en dat hulle professioneel steeds ontwikkel, want wanneer dit nie meer gebeur nie, raak ’n mens eintlik agter.

“Die sentrum wil terugploeg en kennis inbou in die lewens van ons opvoedkundiges sodat ons die gehalte op hierdie hoë standaard kan hou.”

Dr. Japie van Zyl, die mededirekteur van nasionale lugvaart- en ruimte-administrasie (Nasa) se Jet Propulsion Laboratory (JPL) in Kalifornië in die VSA, is die openingspreker vir beide die kongresse in Gauteng en die Wes-Kaap. Van Zyl is ’n Afrikaanse plaasjapie van Namibië wat spesifiek gaan verduidelik wat onderwys in Afrikaans vir hom beteken het en dat dit nie noodwendig vir hom enige deur gesluit het nie.

Nog ’n spreker by die geleentheid is die ekonoom Dawie Roodt wat homself die gramskap van meninge onderwyser op die hals gehaal het toe hy die kontroversiële stelling gemaak het dat Suid-Afrika se onderwysers oorbetaal word.

“Miskien is dit ’n goeie geleentheid vir onderwysers om Roodt nou oor die stelling uit te vra – ek glo hy het goeie verduidelikings vir die stelling,” sê Brink met ’n glimlag.

Volgens hom sal onderwysers gedurende kongres enige tyd die keuse tussen 12 sprekers hê om na te luister.

“Die kongres het al so gegroei dat onderwysers van alle grade en in alle vakgebiede sal kan baat vind by die verskillende sessies. Daar sal ook talle algemene sessies wees wat handel oor aspekte soos leierskap, dissipline en die gebruik van tegnologie in die klaskamer.”

Die kongres sal ook spesifiek fokus op sessies vir grondslagfaseonderwys, wiskunde, Afrikaans, fisiese- en lewenswetenskappe en rekeningkunde.

“Ons visie is sterk daarop gerig om ’n bydrae tot Afrikaanse skole te lewer. Om hierdie visie te bewaarheid, moet ons belê in die onderwysers se lewens. Wanneer hulle bekragtig voel, moed het en met ’n sak vol nuwe planne voor ons kinders in die klaskamer gaan staan, is dit die grootste vermenigvuldiger op die pad na gesonde Afrikaanse skole. Dit is wat die SOS graag wil bereik.”

  • Die sluitingsdatum vir inskrywings vir beide die onderwyskongresse is reeds Vrydag 8 Junie. Onderwysers wat ‘n spesiale afslagprys vir die bywoning van die kongres wil kry, moet die promosiekode MAROELAONDERWYS gebruik as hulle registreer vir die kongres. Besoek Onderwyskongres.co.za vir meer inligting of om jou plek vir die kongres te bespreek.
  • Luister ook na die onderhoud boaan hierdie artikel. Dr. Danie Brink van Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het met Esté Meyer Jansen van Maroela Media gesels oor dié sentrum se onderwyskongres wat binnekort in Gauteng en die Wes-Kaap sal plaasvind. Talle kenners en onderwysspesialiste, asook bekendes soos dr. Japie van Zyl van Nasa en die ekonoom, Dawie Roodt, gaan onderwysers tydens die geleentheid toespreek. Brink vertel ook waarom hy glo ons Afrikaanse onderwysers is van wêreldgehalte en hoe die SOS dié onderwysers wil help om die status te behou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.