Grootste skenking nóg maak kleuterharte bly

Foto: Verskaf

Rowan Raaff en Lorin McCarthy ontvang ʼn sertifikaat van waardering by Joey Lotter van Helpende Hand. Foto: Verskaf

Min dinge maak ʼn kinderhartjie so bly soos ʼn nuwe speelding, maar vir die behoeftige kleuters by Ons Plek-gemeenskapsentrum in die Strand is dit nie altyd beskore nie. Daarom was dit ʼn blye dag by die sentrum toe hulle hul grootste skenking speelgoed nóg ontvang het.

Die speelgoed is deur Early Learning Centre & Mothercare in Engeland geskenk. Dié instansie se advertensiemaatskappy, BigSky Productions, het sy hoofkantoor in Kaapstad en het die voorreg gehad om dié reuseskenking van gehalte-speelgoed verlede maand aan die gemeenskapsentrum te oorhandig. Die skenking sal aangewend word om die byna 100 behoeftige kinders in die Ons Plek-gemeenskapsentrum se lewens te verryk.

Die speelgoed sluit in karretjies, pophuise en glybane en vir kleiner kinders ʼn put waar hulle met balle kan speel.

Volgens Joey Lotter, die sentrumbestuurder, is dit die grootste skenking wat hulle nog ontvang het. “Die speelgoed maak ʼn reuseverskil in die kinders se lewens. Baie van hulle kom uit moeilike omstandighede. Die skenking bring ʼn bietjie vrolikheid in hul lewens en sal ook baie help om hulle gesond te laat ontwikkel. Speel is ʼn kardinale deel van ʼn kleuter se ontwikkeling en danksy BigSky Productions en Early Learning Centre & Mothercare gaan ons nog lank kan speel.”

Ons Plek-gemeenskapsentrum is een van twee sentrums wat deur Solidariteit Helpende Hand tot stand gebring is. Dit bied ʼn veilige hawe vir 91 kinders van minderbevoorregte gesinne. Die sentrum het in Oktober 2014 sy deure vir kinders in die Kays-woonwapark en die Strand-gemeenskap geopen. Daar is ʼn voorskoolse speelgroepie asook ʼn naskoolse sentrum waar kinders hulp kry met tuiswerk en aan ander opvoedkundige aktiwiteite deelneem.

Volgens Rowan Raaff van BigSky Productions spesialiseer hulle in plaaslike en internasionale reklame, soos dié vir Early Learning Centre & Mothercare. “Ons is deur Gift Labuschagne, een van ons werknemers, van Ons Plek-gemeenskapsentrum vertel en ons het besluit om die speelgoed aan Ons Plek te skenk. Op dié manier probeer ons om werklik verdienstelike organisasies te help.”

Vir meer inligting oor Ons Plek-gemeenskapsentrum, of om betrokke te raak by hierdie kinders se lewens, bel Joey Lotter by 079 733 9477.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dellaq ·

Julle ysters! wow, julle is awesome…. Ek is seker die kinderharte was baie bly. En die mense wat sulke goeie werk doen by die sentrum-ek haal my hoed vir julle af vir julle onbaatsugtige werk. Sal beslis betrokke raak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.