Gru-plaasaanval keer nie jong meisie om te studeer

Wianè van Druten (Foto: Faceook/Wianè van Druten)

Toe die 18-jarige Wianè van Druten se pa sowat vier jaar gelede tydens ʼn plaasaanval in die Vaalwater-omgewing in Limpopo in die gesig geskiet is, moes sy haar droom om ná skool te studeer laat vaar.

Haar pa kon ná die aanval nie meer werk nie en studiegeld was daar eenvoudig nie.

Min het sy geweet dat haar paadjie tog na ʼn tersiêre instelling sou lei. Danksy Solidariteit Helpende Hand se plaasaanval-studiefonds kon Van Druten haar inskryf om volgende jaar by die private hoëronderwysinstelling Aros in Pretoria met haar onderwysstudie te begin.

Van Druten het Dinsdag aan Maroela Media vertel sy is oorweldig deur dankbaarheid vir hierdie geleentheid. Haar droom is om haar eie kleuterskool te begin en nóú lyk dit vir die eerste keer asof dié droom dalk ʼn werklikheid kan word.

“Ek wil net ʼn verskil in kinders se lewe kan maak,” sê sy.

Maroela Media het vroeër berig Wianè se pa, Ian van Druten, is een oggend in April 2015 omstreeks 03:30 deur drie verdagtes oorval en in die gesig geskiet toe hy na die tabakstore op die plaas gestap het.

Ian het breinbeserings opgedoen wat veroorsaak dat hy heeltemal verlam is aan die linkerkant van sy lyf en ook blind is in sy regteroog. Van Druten vertel dat haar pa sedert die aanval nie meer kan loop nie en nie meer in staat is om te werk en ʼn inkomste te verdien nie.

Van Druten het van Helpende Hand se plaasaanval-studiefonds te hore gekom en dadelik aansoek gedoen. Sy was oorstelp van vreugde toe sy hoor dat dié fonds haar studiegeld, verblyf, handboeke en sakgeld vir haar studietydperk van vier jaar ten volle gaan betaal.

Stefan Pieterse, hoof van Helpende Hand se studiefondssentrum, vertel dat hulle dié plaasaanval-studiefonds verlede jaar gestig het spesifiek om slagoffers van plaasaanvalle se kinders by te staan om hulle studie te voltooi of daarmee te begin.

Hy verduidelik dat dié studiefonds deur skenkers gefinansier word sodat hulle kandidate soos Van Druten kan uithelp.

“In Wianè se geval word die grootste gedeelte van haar studie deur ʼn weldoener van Australië moontlik gemaak. Hy skenk maandeliks ook ʼn bietjie meer om haar ouers by te staan ná die tragedie van die plaasaanval,” vertel Pieterse.

Van Druten het verlede jaar Pretoria toe verhuis en by ʼn kleuterskool begin werk, aangesien haar passie nog altyd is om met jong kinders te werk.

Nou kan sy uiteindelik haarself toelaat om groot te droom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Genade ·

Baie dankie aan die barmhartige samiritaan van Australië! Hoe wonderlik dat daar nog sulke mense is wat hulle ontferm oor Suid-Afrikaanse slagoffers van plaasaanvalle en wat haar ‘n kans op die lewe kan gee. Dis wonderlik. God seën jou.

Ondersteuner ·

Dankie vir wat julle vir ons mense doen. Ek bly ‘n trotse ondersteuner!

Zelly ·

AFRIFORUM BO!! TROTSE LID!! BAIE STERKTE AAN DIE FAMILIE. BID VIR JULLE

Charles ·

Wonderlik!

Dis ons, dis Afrikaners.

NIKS KRY ONS ONDER.

Baie geluk aan die jong dame, voorspoed met alles en mag die Here ons God haar seen!

Charles ·

Ek is ‘n TROTSE bydraer tot Helpende Hand hier uit die goeie ou Vrystaat!

Baie dankie aan HH, ek wens net ek kon MEER doen om die organisasie te help!

Die Here seen julle!

hercu ·

*saluut* boeta!

Aan Helpende Hand:

mag die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van die Vader en die alomteenwoordige vrede van die Heilige Gees vir ewig by julle wees!

(vertaling – eie woorde)
 

Lou ·

Dankie aan Solidariteit se HH fonds vir die goeie werk.
Dit is lekker om sulke berigte te lees, dit gee weer bietjie hoop vir die toekoms van ons kinders.
Dankie ook vir die persoon in Aus wat finansieel ondersteun. Wonder of dit ‘n eks Saner is?

Chantal Richards ·

Baie geluk Wianetjie. Ons is baie trost op jou!!!! Lief vir jou baie.

Schalla ·

So wonderlik om te sien hoe mens se klein maandelikse bydrae aan Solidariteit aangewend word om goeie dinge te doen en te bou aan ons mense se toekoms.

Rina Kotze ·

DAnkie HELPENDE HAND!

Dit is lekker om sulke goeie nuus te hoor!

Sterke Meisiekind, lekker swot en volg jou droom!!!

Annette ·

Dit is wonderlik om so ‘n positiewe storie te lees! Baie dankie aan Solidariteit Helpende Hand!

Jannie van Niekerk ·

Wonderlik. Nogeens ‘n bewys dat al doen die ANC, en BLF EFF ook wat om ons te intimideer en uit te moor, ‘n Afrikaner gaan lê nie sommer nie.

Bosvark ·

Dit laat my hart bloei, dit is so mooi om te sien dat ons nog so mooi na mekaar kyk. Ek hoop jy het n mooi lewe kind vol liefde en genade van die here. Sterkte met jou pa, ek is is seker dat hy voel geregtigheid het geskiet. Al wat ek ken se lig jou ken op op want die wereld het jou lief. Mooi geseende lewe vir jou vorentoe.

Blommie ·

Dis nou vir n slag baie goeie nuus, wonderlik hoe julle n verskil maak in mense se lewens.
Wens net dat die mense wat vir elke probleem in hulle lewe die appartheids jare die skuld gee, kan besef dat dit help nie om almal te blameer nie.
Staan op en maak en beteken jou eie verskil…
Hierdie jong dame is n pragtige voorbeeld daarvan!

Anni ·

Dankie tog vir n Samaritaan in die meisiekind se lewe. Danksy n “Christen”, sit my kind met n hengse studie-lening. Hele finansiele, struktuur om ver gegooi. Ek hoop die wiel draai ook vir hom !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.