GT Camper-wenner is trots Afrikaans!

Floors Bronkhorst. (Foto: Verskaf)

Die alombekende gesegde lui dat aanhouer wen, maar dit is nie op Floors Bronkhorst, wenner van Virseker se GT Camper-kompetisie, van toepassing nie.

Bronkhorst sê hy skryf nie gereeld vir kompetisies in nie en is toe sommer met sy tweede probeerslag om aan ʼn kompetisie deel te neem deur dié gelukskoot getref.

“Dit was maar die tweede keer dat ek vir iets ingeskryf het en toe waarlik met groot sukses,” sê die 75-jarige inwoner van Langebaan aan die Weskus.

Bronkhorst vertel dat hy eintlik al van die GT Camper-kompetisie vergeet het en hy nooit in sy wildste drome gedink het hy staan ʼn kans om te wen nie.

“Die onverwagse oproep van Virseker het my behoorlik onkant gevang. Ek het gedink die onbekende nommer op my selfoon is net nóg ʼn foefie-oproep, maar groot was my verbasing toe die dame aan die ander kant die goeie nuus met my deel,” vertel hy.

“Ek het dadelik besef dit is genade van Bo, want so iets gebeur nie sommer elke dag met iemand nie. Ná die oproep het ek dadelik die goeie nuus met my vrou, Ansie, gedeel waarna ons vir mekaar gekyk het en met oë vol trane weereens besef het dat dit net genade is.”

Die egpaar het al in die verlede saam met hul kinders gaan kamp, maar hulle het nie oor hul eie kamptoerusting beskik nie. Danksy hul spogprys hoop hulle om sodra dit toegelaat word, koers te kies die natuur in met hul GT Camper.

“As ons kon, het ons dadelik die Kgalagadi-oorgrenspark en daarna Namibië besoek.”

Bronkhorst sê hy het ʼn paar jaar gelede sy versekering na Virseker oorgeskakel en het sedertdien uitstekende diens ontvang. “Virseker is vir seker die versekeraar van die toekoms, veral omdat hulle moeite doen met Afrikaans.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.